Instagram vir kinders kry wind van voor

Argieffoto (Foto: Souvik Banerjee/Unsplash)

Facebook het onlangs aangekondig dat die ontwikkeling van ʼn kindervriendelike weergawe vir Instagram eers gestaak word.

Dit volg ná wydverspreide kritiek en kommer oor die nadelige invloed wat dié platform op jongmense se geestesgesondheid kan hê.

Facebook stoei boonop met die nadraai van ʼn fel Wall Street Journal-reeks wat onthul dat die sosialemediareus deeglik bewus is van die skade wat Instagram aan tienermeisies se welstand kan aanrig.

Adam Mosseri, hoof van Instagram, het teruggekap en gesê dat dié projek wat op kinders gemik is, verkeerd verstaan word.

“Ek glo steeds vas dat dit goed is om ʼn weergawe van Instagram te ontwerp wat veilig vir tieners is.

“Maar ons wil graag die tyd neem om met ouers, navorsers en veiligheidskenners te praat en eenstemmigheid te verkry oor die pad vorentoe,” het Mosseri op NBC se Today-program gesê.

Die inisiatief is wyd bekend onder die nie-amptelike naam “Instagram Kids” en het kritiek van verskillende groepe ontlok sedert berigte oor die ontwikkeling daarvan vroeër vanjaar verskyn het.

ʼn Groep Amerikaanse senatore het in Mei vanjaar ʼn beroep op die sosialemediareus gedoen om die bekendstelling daarvan te staak. Die groep het Facebook daarvan beskuldig dat die maatskappy versuim om kinders op hul platforms te beskerm.

Nadelige invloed op jongmense

Verskeie Amerikaanse wetgewers het die tydelike staking van Instagram se kindervriendelike weergawe verwelkom, terwyl sommige versoek het dat die saak verder ondersoek word.

“ʼn Onderbreking is onvoldoende. Facebook moet hierdie projek heeltemal laat vaar,” het senator Ed Markey getwiet.

Na aanleiding van verskeie onthullings oor die moontlike gevolge van Facebook, het senatore Marsha Blackburn en Richard Blumenthal ʼn verhoor aangekondig wat fokus op die beskerming van kinders op sosiale media.

“Die verhoor sal die negatiewe uitwerking van Facebook en Instagram op jongmense en ander persone ondersoek. Dit sal ook moeilike vrae ondersoek, soos of tegno-reuse mense wetend benadeel en daardie kennis doelbewus verberg,” het Blumenthal in ʼn verklaring geskryf.

Facebook het bevestig dat Antigone Davis, sy internasionale veiligheidshoof, tydens die verhoor sal getuig.

Kinder-aktivisgroepe verwelkom ook die nuus en kritiseer die risiko’s vir kinders verbonde aan Instagram.

Facebook het homself verdedig teen die Wall Street Journal, en beklemtoon dat die studies positiewe én negatiewe ervarings van sosiale media deur jongmense uiteensit.

Alex Stamos, ʼn voormalige veiligheidsbeampte van die sosialemediareus, het egter aangevoer dat probleme wat deur aanlyn platforms veroorsaak word, verder as sagteware en programme strek.

“Pre-adolessente behoort waarskynlik nie selfone te hê nie, maar ouers gee dit in elk geval … Jong tieners moet nie op sosiale media wees nie, maar ouers laat dit in elk geval toe,” het Stamos getwiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.