Is jou kind horende blind of siende doof?

Argieffoto (Foto: Jeremiah Lawrence/Unsplash)

Deur dr. Cas Olivier

Een van die oorsake van swak punte is dat kinders visueel doof en ouditief blind onderrig word. Die uitdrukkings horende doof en siende blind is baie bekend. Siende blind word gebruik vir iemand wat iets wat oop en bloot is, nie raaksien nie. Horende doof word gebruik vir iemand wat hoor, maar nie luister nie.

Dit is nodig om dieper te delf wat visueel doof en ouditief blind beteken.

Die kopskuif-wegspringplek is om te weet dat wanneer die brein die gesproke woord olifant hoor, skep die brein ʼn prentjie van ʼn olifant wat verskil van persoon tot persoon. Aan die anderkant roep ʼn prentjie van ʼn olifant die woord olifant in die brein op. Indien die prentjie of die woord nie in die brein bestaan nie, kan die brein niks oproep nie, soos wanneer die brein Loxodonta africana* hoor, ‘sien’ die brein niks en daarom is die persoon ouditief ‘blind’.

Die teenoorgestelde gebeur met visuele insette. Indien wiskundiges na ʼn paraboolgrafiek kyk, beskik hul breine reeds oor die storie van die spesifieke parabool. Dit word bewys deur die persoon se vermoë om die parabool se storie se woorde ‘hoorbaar’ en korrek in die brein te orden. Daarteenoor het nie-wiskundiges nie woorde om die parabool-storie te ‘hoor’ nie. Dit word beskryf as visueel doof.

Hierdie is ʼn kopskuif weg van die outydse siening dat visuele leerders met prentjies en ouditiewe leerders met woorde leer. Die waarheid is dat leerders met ʼn voorkeur vir visuele insette se breine ʼn behoefte het om woorde te skep en dat dié met ʼn voorkeur vir ouditiewe insette se breine ʼn behoefte het om prentjies te skep. Laat ʼn mens weer dink oor mense wat sê: “Ek is ʼn prentjie-mens”.

Kinders word ouditief blind onderrig wanneer onderwysers onbekende woorde soos faktore en enjambement gebruik voordat daar prentjies in die brein daarvoor is. Kinders word visueel doof onderrig wanneer onderwysers grafiese voorstellings wys waarvoor daar nie woorde in die brein bestaan nie.

Ek is tans bevoorreg om dowe studente op te lei in denkvaardighede. Gebaretaal is die dowe-gemeenskap se moedertaal net soos Afrikaans jou moedertaal is. Waar gesproke taal uit sinne en woorde bestaan, word gebaretaal se woord en sinne deur vyf elemente uitgedruk: die vorm van die hand, die plek van die hand ten opsigte van die bolyf, die palm se oriëntasie, beweging en ander nieverbale kommunikasie soos gesigsuitdrukkings. Dowe persone het wyses om tydens ʼn gesprek iemand se aandag te trek, beurtneming** te reël en ʼn ‘glip-van die-hand’ reg te stel. Hulle het elkeen ook ʼn gebaretaalnaam, ʼn gekruisde wys- en voorvinger kan byvoorbeeld iemand se naam wees.

Dowe persone se woord vir olifant is die hand met ʼn oop palm wat van die ‘spreker’ se neus beweeg en heen en weer geswaai word – kyk hier na ’n video wat dit illustreer. Omdat alle breine op dieselfde manier dink, sal die gebaretaal se beduie ook ʼn prentjie in die dowe persoon se brein skep. Dit is vir my ʼn bewys dat gebaretaal ʼn regte taal is. Hulle spel die wetenskaplike naam, Loxodonta africana alfabeties met die hand.

Teen die groter prentjie van onderwys is dit kleuterskole se hooftaak, net soos die ouerhuis, om prentjies en woorde spelenderwys in die kleintjies se brein te vestig wat natuurlik ook deel vorm van skoolgereedheid. Dit is waarom kleuterskole moet wegbly van tafel-en-stoel-tipe leer. Hulle hoofdoel is om ʼn stewige basis te lê waarop grondslagfase-onderwysers kan steun om te verseker dat kinders nie in die intermediêre fase as gevolg van ouditiewe blindheid en visuele doofheid verdwaal nie.

Hierdie wisselwerking tussen visueel horend en ouditief sienend moet deur al die grade gehandhaaf word en mag nooit in enige klaskamer afskeep word nie. Selfs navorsers op universiteitsvlak is prentjiesoekers wanneer hulle terug gaan na die oorspronklike betekenis van woorde en konsepte, wat etimologie genoem word. Daarom behoort dit nie in die graad 8- of 9-klas vreemd te wees as kinders met ʼn gradeboog, liniaal en ʼn skêr prentjies skep om Pythagoras se wet se woorde baas te raak nie.

Onderwys het ʼn spesialisveld geword. Is daar nog plek vir onderwysers wat voor in die klas staan en vir kinders, wat kan lees, verduidelik wat in die handboek aangaan? Dieselfde geld vir videolesse en werkkaarte wat gebruik word vir assessering sonder dat die kinders hulself uit die donkerte van ouditiewe blindheid en die stilte van visuele doofheid gedink het.

* Loxodonta africana is die wetenskaplike naam vir die Afrika olifant.

** Beurtneming is die reël om spreekbeurte te verseker.

(Foto: Dr. Cas Olivier/Verskaf)

Dr. Cas Olivier is ʼn deurwinterde mentor, outeur en onderwysman met ʼn passie om kinders, plaaslik en internasionaal, met sy unieke breingebaseerde onderrigbenadering te help om hul volle potensiaal te bereik. Skole, onderwysers en ouers kan gerus kennis neem van sy stewige teoretiese begronding, maar veral sy jarelange ervaring in die praktyk, wat van hom ʼn kundige kunstenaar in die onderrig van denkvaardighede maak – ʼn ware meesteronderwyser ~ André Badenhorst: Navorser in Onderrig en Leer by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.