Is karakter belangriker as kennis?

Paul Tough se boek getiteld “How Children Succeed”. (Foto: PaulTough.com)

Vir dekades en selfs eeue het onderwyskenners hul drome en voorspellings vir die toekoms van onderwys in tydskrifte en boeke vasgevang. In hierdie reeks rubrieke gaan navorsers van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) met kenners van ouds “praat” en hulle boodskap oor vernuwing in die onderwys, wat vir dekades in ʼn spreekwoordelike bottel verseël en dikwels verlore geraak het, weer aan lesers bekendstel.

Deur Johan Koekemoer

Een oggend stap ek deur die Bosveld. Ek verkies om nie op die reeds deurtrapte paadjies te loop nie, maar om ʼn rigting in te slaan en die “wildernis” te ervaar; ʼn wildrit op voete. Idees en planne rol my gedagtes soos ʼn vloed binne. Die stilte en natuur se uitwerking op my psige. Een van die gedagtes verskyn in die vorm van ʼn vraag: “As ek die perfekte kurrikulum kan bottel, wat sal die inhoud wees en wat sal ek meet om sukses te bepaal?” Dadelik verskyn die voorblad van Paul Tough se boek, How Children Succeed, voor my geestesoog.

Paul Tough is ʼn groot kritikus van die huidige skoolstelsel wat op die kognitiewe hipotese, soos hy dit beskryf, gebou is. Dit is die geloof dat sukses vandag hoofsaaklik van kognitiewe vaardighede afhanklik is wat met IK-toetse meetbaar is en deur herhaalde oefening ingeskerp word. Paul argumenteer in die boek dat konvensionele wysheid rondom kinderontwikkeling oor die afgelope paar dekades mislei is en dat die skoolstelsel se fokus ten opsigte van vaardigheidsontwikkeling nie net misplaas is nie, maar absoluut verkeerd is. Hy argumenteer dat die fokus van vaardigheidsontwikkeling eerder geplaas moet word op sagte vaardighede soos karakter, deursettingsvermoë en vasbyt.

Paul ondersoek onder andere die bekende KIPP-skole (Knowledge Is Power Programme) in Chicago, VSA waar jaarliks verslag gelewer word oor leerders se karakter eerder as hul akademiese prestasie. Paul gebruik die KIPP-skole se sukses, ondanks hul uitdagende geografiese ligging, om sy hoofuitgangspunt te ondersteun, naamlik dat karakter belangriker is as kennis.

Johan Koekemoer van die SOS. (Foto: Verskaf)

Die inhoud van Paul se boek het my so begeester dat ek nie eens besef het ek is besig om ʼn koppie uit te klim nie! Bo-op die koppie begin my gedagtes weer dwaal soos ek die uitspansel aanskou. Die uitsig laat my oor die inhoud van Paul se boek nadink. Is goeie karakter werklik die enigste bestanddeel vir sukses? Is dit al wat nodig is om in die perfekte kurrikulum te ontwikkel?

Dit kan tog nie wees nie, want dan sou die meerderheid van ons voorgangers almal suksesvol gewees het. Karakter was, anders as vandag, ʼn gegewe in die samelewings van ouds. Toe onthou ek dat die antwoorde op groot vraagstukke byna nooit in die ekstreme opvattings lê nie. Wat is dus die goue middeweg?

Die antwoord op die perfekte kurrikulum, dink ek, word besonder goed in die woorde van prof. Danie Goosen opgesom: “Opleiding (kennis en vaardighede) is van die hoogste belang. Opleiding word egter versterk wanneer dit deur opvoeding (karakter- en waardeontwikkeling) ondersteun en aangevul word.” Opvoeders speel dus ʼn sleutelrol in die perfekte kurrikulum – hul taak is om voor te staan en te onderrig, en voor te loop en op te voed.

  • Johan Koekemoer is die hoof van onderrig en leer by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

RS ·

Ja, karakter is van uiterste belang. Van uit karakter vloei daar soveel ander beter dinge. Jy kan geleerd wees maar steeds karakterloos wees…..sonder persoonlikeheid en imborste, dan beteken daardie geleerdheid niks.

Ettienne ·

Die Nobelprys is nog nooit vir “karakter” toegeken nie…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.