Jaarlikse bybelvasvra-kompetisie groei mooi

Foto: Verskaf.

Foto: Verskaf.

Vir die Rapportryerbeweging is godsdiensonderrig in skole baie belangrik en daarom hou hulle jaarliks ʼn nasionale bybelvasvra-kompetisie. Dit wil voorkom asof dié kompetisie groei, want sestien spanne meer as verlede jaar het ingeskryf.

Volgens Ruurd van der Wal, vooristter van die Rapportryerbeweging, is die doel van dié kompetisie om die jeug se kennis oor die Bybel op te skerp. “Die vraestel is van hoogstaande gehalte wat kinders motiveer om te leer, wat natuurlik groot voordeel vir hulle inhou vir die res van hul lewens.”

Die vraestelle word geskryf in spanverband en elke span bestaan uit vier leerlinge. Kinders hoef nie in dieselfde skool te wees om as ʼn span deel te neem nie.

Vanjaar het 148 spanne van al nege streke ingeskryf, waarvan 14 Engelssprekende spanne is. Van der Wal sê daar is ook ʼn Engelse vraestel. “Alhoewel ons ʼn Afrikaanse organisasie is, wil ons nie ander mense uitsluit wat in ander tale magtig is nie.”

Die debat oor godsdiensonderrig in skole duur steeds voort en Van der Wal sê die deelname van skole hang maar van die skool se bestuur en personeel af. “Party van hulle is maar skrikkerig, maar ander skole spoor die kinders weer aan om deel te neem. Maar dit is nie ʼn projek wat in skooltyd aangebied moet word nie, dit gebeur buite skoolverband.”

Vanjaar is daar nie meer kans om deel te neem nie, maar mense word aangemoedig om volgende jaar in te skryf.

As jy graag die Rapportryerbeweging wil ondersteun, besoek gerus hul webwerf vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.