Jogurt, ’n sleutel tot gesonde eetgewoontes by kinders

Foto ter illustrasie. (Foto: pxfuel.com)

As ouers is ons konstant op die uitkyk vir kos en wenke wat kan help om ʼn gesonde eet-roetine by ons kinders te vestig.

Nie net wil ʼn ouer verseker dat groeiende kinders die beste voedingstowwe inkry nie, maar wil ook op die wyse help om ʼn leeftyd se gesonde eetgewoontes vas te lê.

Jogurt is iets wat besorgde ouers se bondgenoot in die verband kan wees. Dit is ʼn heerlike veelsydige en smaaklike kossoort vir kinders en is ryk aan proteïene en noodsaaklike nutriënte soos kalsium en kalium, sowel as ʼn bron van voordelige probiotika of vriendelike bakterieë wat gesonde spysvertering bevorder.

“Jogurt speel ʼn positiewe rol in ʼn gesonde dieet en navorsing het getoon dat kinders vanaf 8 tot 18 jaar wat ten minste een maal per week jogurt eet, oor die algemeen gesonder eetgewoontes het.

“Studies toon dat kinders wat jogurt eet 10% meer melk, 23% meer vrugte en 30% meer volgraan inkry, wat demonstreer dat dit ʼn sleutel tot gesonde eetgewoontes is,” sê Maretha Vermaak, geregistreerde dieetkundige by Rediscover Dairy.

Nog ʼn groot voordeel is dat die meeste kinders van jogurt hou en dus is dit nie vir ouers moeilik om dit by ʼn maaltyd in te sluit, of om as ʼn gerieflike en vullende versnapering byderhand te hou nie.

Al die maniere waarop jogurt voordelig is

Kinders wat groei en ontwikkel, benodig spesifieke voedingstowwe. Kinderjare word beskou as ʼn tydperk waar kinders ʼn hoë-energiedieet nodig het. Dit is dus noodsaaklik dat kinders se diëte in hulle daaglike energiebehoeftes sal voorsien.

Die unieke voedingsprofiel van jogurt voldoen aan die vereistes van ʼn reeks voedingstowwe wat kinders nodig het, onder andere:

  • proteïene van hoë gehalte vir groei en ontwikkeling, asook volhoubare energie;
  • kalsium vir sterk bene en tande;
  • probiotika vir dermgesondheid en ondersteuning van die immuunstelsel; en
  • kalium, fosfor, magnesium en vitamiene A en B12 vir algemene gesondheid en groei.

Suid-Afrikaanse gesinne is gelukkig om ʼn wye verskeidenheid van keuses te hê as dit by jogurt kom.

As ʼn kind se gewig ʼn bekommernis is, kan ouers maklik laevet‑ of vetvrye opsies kies.

Jogurt help kinders om langer versadig te voel en is daarom ʼn waardevolle hulpmiddel om ongesonde versnaperings te vermy as deel van ʼn gewigsbeheer‑eetprogram. Sommige ouers kan besorg wees oor sekere soorte jogurt wat bygevoegde suiker bevat. Let egter daarop dat die hoeveelheid bygevoegde suiker by sekere jogurt minimaal is, ver onder die suikerinhoud van lekkergoed, sjokolade en gaskoeldranke.

(Foto: Verskaf)

Kinders geniet jogurt op vele maniere

Jogurt is ʼn veelsydige produk. Voeg jogurt by hawermoutpap en ander ontbytgrane vir balans en ʼn voedsame hupstoot vir die immerbelangrike ontbyt om jou kind gereed vir ʼn suksesvolle dag te kry.

Individueel verpakte jogurt en jogurtdrankies is uitstekende kosblik-items. Jogurt kan ook gebruik word as ʼn sous vir nageregte of saam met vrugte, en as die basis vir geurige doopsouse saam met versnaperings.

Vir heerlike romerigheid, voeg ʼn skeppie jogurt by letterlik alles; van pannekoeke tot sop, toevoupakkies (wraps) tot roerbraaigeregte en kerries. Gevriesde jogurt is sonder uitsondering ʼn gesonde roomysagtige versnapering en ʼn jogurt-smoothie is ideaal vir besige gesinne. Albei kan maklik tuis gemaak word.

In Suid-Afrika is daar ongelukkig elke aand kleuters wat honger gaan slaap. Hulle ouers kan dit eenvoudig net nie bekostig om vir hulle kos te gee nie. Die #StopHonger-veldtog van Solidariteit Helpende Hand se kosblikkie-projek is daarop gemik om te sorg dat hierdie kleuters daagliks ʼn voedsame bord kos ontvang. Klik hier of besoek www.stophonger.co.za om uit te vind hoe jy dié kosblikkie-projek kan ondersteun en so kan jy help om elke dag 8 000 kleuters te voed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eend Bessinger

Nog redes vir gesonde jogurt:
1. Goed vir hardlywigheid, IBS en IBD. Verminder gas en irritasie… en maak jou meer gereeld.
2. Voel ‘n bietjie af? Eet jogurt! Dit bou jou gestel op.
3. Warm kosse soos kerrie op jou bord en jy wil nie die gasvrou teleurstel nie? Vra vir jogurt en skep ‘n ruim dubbelporsie oor jou kos en meng dit in! Nou kan jy eet sonder die brand!
4. Sonbrand of allergiese uitslag? Smeer ‘n bietjie ongegeurde jogurt op.
5. Reukie daaronder? Smeer Bulgaarse jogurt aan!

Wil nog weet? Google “natural treatments with yogurt”.

JohanCzu

Jogurt is baie gesond, maar dit moet natuurlik wees, sonder bygevoedge suiker, geurmiddels en kleurmiddels.