Jong Stadsboere geniet veldskool terdeë

Die groep wat vanjaar se Jong Stadsboer Veldskool suksesvol afgehandel het (Foto verskaf)

ʼn Groep jong seuns en meisies het vanjaar weer ʼn onvergeetlike week op Berchtesgaden Game Ranch and Lifestyle Farm spandeer tydens die Jong Stadsboer Veldskool. Dié groep van 30 het sommer met die intrapslag meer geleer oor die werkinge van die twee plase en wat dit is om ʼn plaas te bestuur. Anneke Kleynhans het ook verduidelik wat die verantwoordelikhede en uitdagings behels van elke persoon wat op die plaas werk.

Die groep het geleer hoe om gemmerbier te maak wat oor vyf dae reg sou wees en waar hulle hul handewerk kon proe.

Tydens dié veldskool leer skoliere tydens ʼn nagstap hoe ʼn mens in die veld rondbeweeg – in die dag of nag – om optimale veiligheid te verseker. Basiese alternatiewe vuurmaaktegnieke en kookmetodes word ook in die bos gedemonstreer.

Dié jong stadsboere se oggendroetine sluit take by die lodge in soos om vuurmaakhout te versamel, diere te voer, die tuin nat te lei, skoon te maak en ander instandhoudingstake.

Op die boerplaas leer hulle hoe om ʼn koei te melk en maak daarna ook botter. Die stadsboere het lammers en ander diere gevoer, eiers uitgehaal en geweeg. Skape wat roteer in die veld moet ook aangejaag word. Varke word gevang en in hokke gejaag. Die groep het waterlyne geskuif en by Riaan Boucher geleer van diere, siektes en die behandeling daarvan, die lam/kalftyd en produksie.

Monster Sekuriteit het ʼn uitstekende lesing kom gee oor plaassekuriteit, plaasaanvalle en algemene paraatheid. Vir dae lank kon die kinders nie uitgepraat raak oor wat hulle tydens dié sessie geleer het nie.

In bos kry mens ongediertes en Marius Koekemoer het tydens sy slanglesing ʼn verskeidenheid van slange en reptiele saamgebring waaraan die kinders selfs kon vat. Van die dogters wou ʼn slang of twee huis toe vat na die lesing!

Die groep stadsboere het ook meer geleer oor noodhulp wat spesifiek op veldinsidente (slangbyte, spinnekop byte, bosluisbyte, skietwonde, dehidrasie ens.) gefokus is.

Alles het natuurlik nie net gegaan oor diere nie. Willem Frost is ʼn kundige op die gebied van fauna en flora en het sy ongelooflike kennis oor bome, verskillende biome en die interaksie tussen plante en diere met die groep jongmense gedeel. Die stadsboere kon bome prakties in die veld identifiseer asook die verskillende diere met die besoek aan die plaas se beenhoop.

Wim en Maryka Wagner het ʼn indiepte-lesing gegee oor groentetuine en die konsep van bestaansboerdery. Daarna was dit tyd vir die praktiese aspek waar hulle die groentetuin omgespit en die grond deeglik voorberei het. Hulle het ook so bietjie konstruksie gedoen om die tuin in wording te bring.

Tydens Berchtesgaden se veldskool is daar ook ʼn nag van oorlewing in die bos – maar die beste skut moet eers bepaal word. Die “skietdag” is in drie groepe geroteer tussen teikenskiet, boogskiet en kettieskiet. Daar was ʼn touknooplesing en die groep het selfs kans gekry om bosmeubels te maak en uit te toets.

Reuben le Roux het dié keer die eer gewen met beste groepering en is die geleentheid gebied om die volgende dag ʼn bok te gaan skiet vir aandete.

Met die lesing van oorlewing in die veld het die stadsboere geleer wat in jou “grypsak” moet wees in ʼn noodsituasie. Daar is verduidelik hoe om te dink en op te tree in elke situasie en hoe jy beplan en dit uitvoer in elke fase van die proses.

Kinders was trots op hul funksionele boskamp – kompleet met stort en toilette. ʼn Bok wat geskiet is, is die aand afgeslag en die vleis is daar verwerk.

Daar was natuurlik tyd vir ontspan ook! Van gronddamswem tot ʼn “sokkie” onder die sterre.

Navrae ná die veldskool was soveel dat Berchtesgaden Game Ranch besluit het om weer ʼn veldskool in die Maart/April 2022-skoolvakansie aan te bied. As jy dalk jou kind wil stuur, bespreek betyds plek deur ʼn e-pos te stuur aan [email protected]

Die volgende kampe word later dié jaar aangebied. Bespreek nou jou plek:

Dylan Mattheus, Hoërskool Nelspruit, Gr 10: “Ek het baie geleer van die sekuriteitswagte en ek het nie besef dat die sekuriteit van boere so noodsaaklik is nie.”

Henri Underhay, Hoërskool Eldoraigne, Gr 8: “Ons het boog geskiet. Ek het ʼn baie goeie telling gekry en is trots op myself.”

Arisha Hubbard, Oos Rand Akademie, Gr 9: “ Ek het die baie klein skapies aangeneem as my babas.”

Tiaan Coetzee, Hoërskool Erasmus, Gr 10: “Ek het baie by die veldskool geleer. Ek het meer uitgevind van die beroep wat wil betree.”

Hanco Nel, Hoërskool Eldoraigne, Gr 8: “Dit was ʼn baie lekker ondervinding en ek het baie geleer.”

Dean Underhay, Hoërskool Eldoraigne, Gr 8: “Om al die diere te voer en om vir hulle te sorg was vir my baie lekker en ek wou nie terug huis toe gaan nie!”

Stanirie van de Velde, Nukleus Tuisskool, Gr 9: “Hierdie was ʼn baie lekker en goeie ervaring, ek het nou al myself meer begin leer en verstaan. Ek het myself meer begin ervaar, dis om nie te verander nie. Dat ek perfek is en dat die plaas laat jou tuis voel.”

Nathan Trentelman, Hoërskool Dr EG Jansen, Gr10: “Ek het die aktiwiteite baie geniet veral die perdry en die veiligheids personeel wat ons ʼn ding of twee kom leer het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.