Kan jou seun dié rol in ʼn Aardklop-produksie vertolk?

Illse Roos, Paul du Toit, Nomkhita Bavuma en Sesethu Zamxaka in ‘Melk & Vleis’ (Foto: Facebook)

LET WEL: ʼn Sesjarige seun om dié rol in Melk & Vleis te vertolk is reeds gevind. Inskrywings is dus gesluit.

Die Aardklop Nasionale Kunstefees, wat vanjaar van 2 tot 8 Oktober op Potchefstroom in Noordwes aangebied word, is op soek na ʼn jong seun om in een van dié fees se produksies te speel.

Alexa Strachan, feesbestuurder, sê die fees is op soek na ʼn sesjarige seun wat ʼn “klein verskyning” kan maak in Marthinus Basson, bekroonde dramaturg, se produksie Melk & Vleis.

Die seun moet verkieslik donker hare en blou oë hê. Die rol het geen dialoog nie, maar die seun moet ook nie skaam wees om op die verhoog te verskyn nie.

Melk & Vleis speel in 1996 af. Dit vertel die verhaal van ʼn “onafhanklike vrou” wat haar werk as aktuaris in die stad prysgee nadat sy op ʼn jong boer verlief raak. Die vrou doen haar bes om by die kleindorp-gemeenskap in te skakel en wend haar vernuf aan om die boer se familieplaas in die Oos-Kaap van ondergang te red. Nadat hulle met moeite en die nodige behandeling ʼn erfgenaam vir die plaas skep, verneuk die boer haar. Dan tree dié vrou op soos nét ʼn boervrou kan.

Die akteurs Illse Roos, Paul du Toit, Nomkhita Bavuma en Sesethu Zamxaka is in die stuk te sien. Die sesjarige seun sal die karakters van Roos en Du Toit se kind in die verhaal vertolk.

Melk & Vleis is gegrond op Medea van Euripides en is verwerk deur Marina Albertyn.

Kaartjies vir Melk & Vleis is beskikbaar op Computicket. Lees meer oor Aardklop 2017 op Maroela Media. Luister ook ʼn volledige onderhoud met Alexa Strachan, feesbestuurder, oor wat vanjaar se fees inhou.

LET WEL: ʼn Sesjarige seun om dié rol in Melk & Vleis te vertolk is reeds gevind. Inskrywings is dus gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.