Kanker steeds hoofrede vir kindersterftes

Foto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

In September word kinderkanker wêreldwyd in die kollig geplaas met die doel om hoop te skep vir pasiënte en geliefdes wat hierdeur geraak word.

Hoewel daar medies vooruitgang in pediatriese onkologie gemaak word, bly kanker steeds die grootste oorsaak van kindersterftes.

Choc, die kinderkankerstigting van Suid-Afrika, sê dit is belangrik dat kinders vroegtydig gediagnoseer word vir doeltreffende behandeling in die vroeë stadiums van die siekte. Vroeë diagnose sal tot gunstige uitkomste lei en ook ʼn beter kans op oorlewing.

Baie kinders in laeinkomste- en middelinkomstelande het beperkte toegang tot hospitale, wat op hul beurt nie noodsaaklike diagnostiese toetse het nie, ʼn tekort aan verpleegpersoneel en chirurgiese personeel ondervind, onvoldoende en wisselvallige voorraad van basiese farmaseutiese en chemoterapeutiese middels, en ʼn gebrek aan radioterapie-, chirurgiese en intensiewesorgfasiliteite. Volgens Choc is dit slegs enkele van die faktore wat bydra tot die feit dat pasiënte met gevorderde siektes swakker uitkomste ervaar.

“SARS-CoV-2 plaas verder druk op die reeds brose gesondheidsorgstelsels in Afrika. Baie versorgers is werkloos weens die nasionale afsondering, daar is onvoldoende vervoerstelsels, en versorgers is bang om gesondheidsorg te soek uit vrees dat hulle die virus gaan opdoen. Ons kan nog in die toekoms dus verdere vertragings in die diagnose van kinderkanker ondervind,” het Choc in ʼn verklaring gesê.

Die organisasie onderneem om te verseker dat kinders met kanker nie verdere vertragings ondervind in die diagnose en behandeling van kanker tydens die wêreldwye Covid-19-pandemie nie.

“Ons moedig die gemeenskap aan om in September ʼn stem van hoop te wees en saam met gesondheidswerkers, niewinsgewende organisasie en die departement van gesondheid te werk om die Siluan-waarskuwingstekens vir vroeë kankerdiagnose te versprei,” het die organisasie verder gemaan.

Choc is ʼn internasionaal geregistreerde, niewinsgewende organisasie wat fokus op ondersteuning van kinders, en hul families, wat ʼn stryd voer teen kanker of ander lewensbedreigende, bloedverwante siektes.

Choc bied op 30 September ʼn gratis aanlyn webinaar aan oor vroeë diagnose van kinderkankers. Die webinaar word van 15:00 tot 16:30 op Zoom aangebied. Klik hier om vir die geleentheid te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.