Karakterontwikkeling is ononderhandelbaar

(Foto: Jehyun Sung/Unsplash)

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het reeds talle kenners geraadpleeg vir die ontwikkeling van ’n volhoubare en waardegedrewe onderrig- en leermodel om die toekoms van Afrikaanse onderwys te help verseker. Dr. Jeanette de Klerk-Luttig is een van hulle en ons deel graag haar kundigheid oor karakterbou en die vestiging van waardes in gesinne, skole en gemeenskappe.

Deur dr. Jeanette de Klerk-Luttig

Toe die Japannese vioolmeester Suzuki gevra is na sy hoofdoel met elk van sy leerlinge, het hy geantwoord: “Om ’n mens met ’n edel karakter te ontwikkel.” Karaktervorming en die vestiging van waardes is die kern van opvoeding, en dit is om verskeie redes ononderhandelbaar in ons huise én skole.

Sokrates het gesê: “Karakter dra op die lange duur meer by tot jou geluk én die geluk van diegene om jou as enige ander faktor.” Ouers se diepste wens is dat hulle kinders gelukkig en suksesvol sal wees. Nietemin vergeet hulle soms dat om dít te verwesenlik, hulle nie net hulle kinders se lewe so aangenaam moontlik moet maak nie, maar ook die kind se karakter moet bou. Ouers behoort minder op hulle kinders se prestasies te konsentreer, en meer op die ontwikkeling van karaktereienskappe soos selfdissipline, deursettingsvermoë, hardwerkendheid, verantwoordelikheid en innerlike taaiheid – kenmerke wat hulle kinders nodig het om te presteer. Karakter is waardes in aksie, en karakteropvoeding in gesinne en skole berei kinders voor vir sukses op skool, by die werk en in die lewe.

Die lewe is nie altyd rose en roomys nie. Sonder ’n sterk karakter is dit moeilik om die stampe wat die lewe uitdeel te hanteer. Die stabiliteit van ’n mens se lewe hang af van die gehalte van jou karakter, want in ’n deurmekaar en onvoorspelbare wêreld is dit karakter wat jou laat vasbyt en teëspoed en teleurstellings help oorkom. Die gehalte van jou karakter kom veral na vore wanneer dit juis nié goed gaan nie. Karakter maak jou innerlik sterk, stabiliseer jou wanneer dit rof gaan, en help jou vasbyt en deurdruk wanneer ander dalk sal moed opgee.

Hieroor sê Spreuke 27:21 in Die Boodskap: “Soos silwer in vuur en goud in ’n smeltoond gelouter word, so word ’n mens se karakter in die harde leerskool van die lewe gevorm.” As jy dus jou kinders wil voorberei vir die onseker toekoms wat wag, bou hulle karakter.

Karakter is ’n beter voorspeller van sukses op skool, op die sportveld én by die werk as talent. Navorsing toon dat 95% van mense wat hulle eerste werk verloor, dit nie as gevolg van gebrekkige kennis of vaardighede verloor nie, maar weens tekortkominge in hulle karakter, waaronder ’n gebrek aan eerlikheid, betroubaarheid, verantwoordelikheid, selfdissipline en deursettingsvermoë. In Good to Great skryf Jim Collins dat die topmaatskappye meer waarde heg aan voornemende werknemers se karaktereienskappe as aan hulle praktiese vaardighede, kennis of vorige werkservaring.

“Karakter is bestemming,” het Herakleitos gesê. Karakter vorm die toekoms van individue, gemeenskappe en beskawings. Volgens Toynbee het 19 van die 21 kernbeskawings in die mens se geskiedenis tot niet gegaan, nie as gevolg van vyandige magte van buite nie, maar morele verval van binne. Sonder karakteropvoeding en die oordrag van kernwaardes val gesinne, skole, gemeenskappe en beskawings uitmekaar. Daar is ’n direkte verband tussen die welsyn en moraliteit van ’n samelewing. “Die welstand van die staat is geleë in die karakter van sy burgers,” het Cicero gesê. Die welstand van ons land hang direk af van die gehalte van inwoners se karakter, asook van die erns en energie waarmee ons die karakteropvoeding van ons jeug aanpak.

Karakter beïnvloed en kleur elke aspek van ons gedrag en elkeen van ons verhoudings. Vir kinders en veral tieners om hulle drome te bewaarheid, het hulle karaktereienskappe soos selfdissipline, deursettingsvermoë en verantwoordelikheid nodig. Om met ’n verskeidenheid van mense oor die weg te kom, het hulle omgee, respek, bedagsaamheid en integriteit nodig. Ook selfrespek berus op karakter. Selfagting ontwikkel wanneer jy vasbyt en ’n moeilike stuk werk vasberade afhandel, of oor tyd heen getrou oefen om ’n musiekstuk of balvaardigheid te bemeester en dit eindelik regkry. Selfrespek ontwikkel onder meer wanneer jy ander respekteer, omgee, jou eie belange opsy skuif, en jou tyd en energie daaraan wy om ander te help. Selfrespek en -agting sonder karakter is papierdun en hang in die lug.

Karakterleiers, mense wat konsekwent volgens hulle kernwaardes leef, is onmisbaar in ons huise, skole en op alle vlakke van die samelewing. Altesaam 90% van alle leiers wat misluk, faal nie as gevolg van gebrekkige kennis of ervaring nie, maar weens ’n kraak in hulle karakter. Onderwysers én leerders moet in ons skole as karakterleiers optree, as rolmodelle leiding neem, en die skoolkultuur positief kleur.

Onderwysers kan nie onderrig en leerders kan nie leer waar karakter en waardes ontbreek nie. Sonder die kernwaardes van respek en verantwoordelikheid kan ’n skool nie goed funksioneer nie. Inteendeel, dan floreer terugpraat, vandalisme, boeliegedrag, groepwreedheid, verskonings vir luiheid en die ontduiking van verantwoordelikheid. Waardegedrewe skole, waar kernwaardes deel is van die skoolkultuur, is die suksesvolste en gelukkigste skole in die land. Dit is aangename werkplekke vir onderwysers, want leerders aanvaar verantwoordelikheid vir hulle werk, onderwysers word gerespekteer, en hoef nie hulle energie daarop te mors om leerders gedurig te probeer dissiplineer nie. Ook vir leerders is dit aangenaam om in ’n skool te wees waar hulle gerespekteer, raakgesien en erken word, en ondersteuning ontvang om hulle beste werk te lewer en die beste mense te word wat hulle kan wees.

Tieners is baie kwesbaar en word sterk beïnvloed deur die waardes wat die populêre kultuur, glanspersone, sportsterre en die media voorhou. Ongelukkig is daardie waardes dikwels net so ongesond vir hulle karakter soos dieetkoeldrank vir hulle gesondheid. Boonop is tieners hoogs vatbaar vir groepdruk en konformeer maklik met hulle vriende se waardes en gedrag omdat hulle by die groep wil inpas. Daarom is dit belangrik dat kinders en jongmense tuis, op skool en in die geloofsgemeenskap positiewe kernwaardes sal beleef en dit hulle eie sal maak. Hulle het ’n groot behoefte aan gesonde kernwaardes “met ’n vel”. As daar volwassenes in hulle lewe is met wie hulle ’n sinvolle verhouding het en wat positiewe kernwaardes uitleef, smeer dit as’t ware aan hulle af.

In wese gaan karakteropvoeding daaroor om kinders en tieners die beste mense te help word wat hulle kan wees. Dít vind plaas wanneer ouers en onderwysers hulle ondersteun om die goeie te ken, te aanvaar en te doen. Dit is egter allermins ’n eenvoudige taak, want die kind se verstand, wil, emosies én gedrag is betrokke. Karaktervorming vind dus oor tyd heen plaas en is ’n lang en uitdagende pad sonder kortpaaie of kitskursusse, maar wel talle afdraaipaaie. As primêre opvoeders is dit allereers ouers se taak om karakter te bou en waardes te vestig, en hulle mag nie die verantwoordelikheid “uitkontrakteer” nie. Nietemin vervul onderwysers as sekondêre opvoeders ook ’n onmisbare rol om kinders innerlik sterk te maak.

  • Dr. Jeanette de Klerk-Luttig was eers ʼn onderwyseres en het daarna 26 jaar lank as opvoedkundige sielkundige onderwysers aan die Universiteit van Stellenbosch opgelei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.