Kinders en kos: 10 wenke vir ouers

(Foto: Kelly Sikkema/Unsplash)

Van die vyf vlakke van die voedselpiramiede tot die jongste kosgier – dit kan alles moontlik baie verwarrend vir ouers wees, veral as hulle hul kinders net wil help om gesond te eet.

Die goeie nuus is dat jy gelukkig nie ʼn graad in voeding nodig het om jou kinders gesond groot te maak nie. Deur net ʼn paar basiese riglyne te volg, kan jy jou kinders aanmoedig om reg te eet en ʼn gesonde gewig te handhaaf:

Kidshealth.org het hierdie 10 belangrike riglyne bymekaar gesit om ouers te help:

  1. Ouers beheer toegang tot kos

Jy besluit watter kos om te koop en wanneer om dit te bedien. Alhoewel kinders altyd sal vra vir minder voedsame kos, moet volwassenes verantwoordelik wees vir die besluit van watter kossoorte vir die huis aangeskaf word.

Jou kind sal nie honger ly nie. Hulle sal wel eet wat in die koskas en yskas beskikbaar is. As hul gunsteling-versnapering nie so voedsaam is nie, kan jy dit steeds af en toe koop, sodat hulle nie ontneem voel nie.

  1. Kinders kan kies wat hulle eet en of hulle wel gaan eet

Uit die kos wat jy aanbied, kan kinders kies wat hulle gaan eet of nie. Kinders moet ’n sê oor die saak hê. Beplan gereelde maaltye en peuseltye en betrek jou kinders by hierdie beplanning. Laat hulle uit die keuses wat jy aanbied, kies wat hulle wil eet en hoeveel hulle wil hê. Dit lyk miskien na baie vryheid, maar as jy stap 1 uit dié lys volg, kan jou kinders in elke geval slegs kies uit die gesonder kos wat jy koop en bedien.

  1. Bedank uit die skoonbord-klub

Laat kinders ophou eet as hulle voel hulle is versadig. Baie ouers het grootgeword met die skoonbordreël, maar hierdie benadering help kinders nie om na hul eie liggame te luister as hulle versadig voel nie. As kinders die gevoel van versadiging herken en daarop reageer, is hulle minder geneig om te ooreet.

  1. Begin jonk

Voedselvoorkeure word vroeg in die lewe ontwikkel, bied jou kind dus op ʼn vroeë ouderdom ʼn verskeidenheid van kosgeure en teksture aan. Hierdie voor- en afkeure begin reeds by babas ontwikkel. Moet ook nie te vinnig moed opgee met nuwe kos nie, miskien moet jy iets ʼn paar keer bedien voordat ʼn kind dapper genoeg is om dit te probeer. Moenie ’n kind dwing om te eet nie, maar moedig hom of haar aan om net ʼn paar happies te probeer.

  1. Herskryf die kinderspyskaart

Wie sê kinders wil net worsbroodjies, pizza, hamburgers en macaroni-en-kaas eet? As julle as gesin gaan uiteet, gee die kinders ook die kans om nuwe kosse te probeer, en dalk verras hulle jou met hul bereidwilligheid om te eksperimenteer. Jy kan begin deur hulle te laat proe aan jou gereg of deur ʼn voorgereg saam te bestel.

  1. Vloeibare kalorieë tel ook

Gaskoeldrank en ander versoete koeldranke voeg ekstra kalorieë by en belemmer goeie voeding. Water en melk is die beste drankies vir kinders. Sap is goed as dit 100% is, maar kinders het nie veel nodig nie – ʼn kwart tot ʼn driekwart koppie per dag is genoeg vir kleuters.

  1. Sit lekkernye en poeding op hulle plek

Soms is lekkergoed lekker, maar moenie van nagereg die hoofrede vir aandete maak nie. As nagereg die prys is om aandete te eet, plaas kinders natuurlik meer waarde op die kolwyntjie as die broccoli op hulle bord. Probeer neutraal oor alle voedsel bly.

  1. Kos is nie liefde nie

Vind beter maniere om te sê: “Ek is lief vir jou”. As voedsel gebruik word om kinders te beloon en liefde te betoon, kan hulle begin om voedsel te gebruik om spanning of ander emosies te hanteer. Gee drukkies, lof en aandag in plaas van kos.

  1. Wees self ʼn goeie rolmodel

Wees ’n rolmodel wat self gesond eet. As jy goeie eetgewoontes probeer leer, probeer om die beste voorbeeld daarvan vir jou kinders te stel. Kies voedsame versnaperinge, eet aan tafel en moenie etes oorslaan nie.

  1. Beperk skermtyd

Al agtergekom hoe jy altyd lus is om iets te peusel terwyl jy na die skerm staar? As jy skermtyd beperk, vermy jy ook die tyd wat daar onbenullig aan ongesonde peuselhappies geknaag kan word. Moedige eerder aktiewe spel, binne of buite die huis, aan.

Navorsing het getoon dat kinders wat minder televisie kyk, ook hul persentasie liggaamsvet verminder het. As TV en rekenaartyd beperk is, vind hulle meer aktiewe dinge om te doen. Minder skermtyd beteken ook dat julle meer tyd sal hê om gehalte gesinstyd saam deur te bring.

  • In Suid-Afrika is daar ongelukkig elke aand kleuters wat honger gaan slaap. Hulle ouers kan dit eenvoudig net nie bekostig om vir hulle kos te gee nie. Die #StopHonger-veldtog van Solidariteit Helpende Hand se kosblikkie-projek is daarop gemik om te sorg dat hierdie kleuters daagliks ʼn voedsame bord kos ontvang. Klik hier of besoek www.stophonger.co.za om uit te vind hoe jy dié kosblikkie-projek kan ondersteun en so kan jy help om elke dag 8 000 kleuters te voed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Blomme ·

Wonderlike inligting. Nie net vir ouers van jongkinders nie maar vir ons almal om hierdie inligting toe te pas.. Dit sal beslis help teen obesity.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.