Kinders en skermtyd: Filter die blou lig uit

blou-lig-en-kinders-se-oë

Die blou lig wat deur enige elektroniese toestel uitgestraal word, kan jou sig erg aantas. Foto: Verskaf.

Almal weet sekerlik nou al dat te veel skermtyd sleg vir kinders is. Dit maak nie net inbreuk op tyd wat eerder buite deurgebring kon word of om beter menseverhoudinge te bou nie, maar daar is ook ʼn werklike gevaar dat oormatige skermtyd kinders se oë permanent kan beskadig.

“Die blou lig wat deur enige elektroniese toestel uitgestraal word, kan jou sig erg aantas,” sê Ruahan Naude, uitvoerende hoof van Dynamic Vision. Volgens hom is die blou lig skadelik vir oë omdat dit die hoogste energie golflengte van sigbare lig het. Die lig dring deur die oë se natuurlike filters na die agterkant van die oog.

“Blootstelling oor tyd kan permanente skade aan die agterkant van die oog veroorsaak, wat die risiko van ouderdomsverwante makulêre degenerasie, ook bekend as AMD, en permanente sigverlies kan verhoog.

“Terwyl blou lig skadelik vir almal se oë kan wees, loop kinders onder die ouderdom van 18 veral gevaar omdat hulle oë steeds ontwikkel. Hulle oë het nie voldoende beskermende pigmente om van die blou lig te filter nie. So, hoe meer tyd hulle afstaan om na skerms te staar, hoe meer word hulle oë aan die skadelike uitwerking van blou lig sonder enige beskermende filter blootgestel.

“Buiten dat hierdie soort lig ʼn kind se sig kan beskadig, kan te veel skermtyd ook retinale stres veroorsaak wat lei tot waterige, geïrriteerde oë, vae visie en hoofpyne.”

Naude sê verder skermtyd meng boonop ook nog in met ʼn mens se slaaproetine omdat die blootstelling aan die frekwensie van blou lig die vrystelling van melatonien, die hormoon wat ons vertel wanneer dit tyd is om te slaap, onderdruk. Die negatiewe gevolge van te min slaap is prikkelbaarheid, moegheid en verminderde kapasiteit om daaglikse take soos skoolwerk te hanteer.

Hy reken die maklikste stap wat ouers kan neem om hulle kinders se oë te beskerm is om hulle skermtyd te beperk. “Dit kan egter moeilik wees om in te stel, veral as jongmense op ʼn tablet of rekenaar vir hulle skool- en huiswerk moet werk. Die intensiteit van skerms kan egter gedemp word om die hoeveelheid blou wat uitgestraal word te beperk.

“ʼn Beter langtermynstrategie om kinders se oë te beskerm is om ʼn beskermende bril aan te skaf wat die blou lig filter met spesiale lense. Kinders kan die bril dra terwyl hulle ʼn toestel met ʼn skerm gebruik.”

Voglens Naude kan ʼn bril met ʼn filter op die lense wat die blou lig beperk, help om kinders se ontwikkelende oë te beskerm terwyl dit die lig van LCD-en LED-skerms neutraliseer. Verder help dit ook om oogstremming en die simptome van moeë, rooi, waterige oë te voorkom.

Die blouligfilter-lense help ook om die glans van skerms te verminder en selfs kleurkontras-persepsies te verbeter wat die stremming op die oog verminder.

“Kinders hoef nie ʼn oogprobleem te hê om ʼn bril te dra met die blouligfilter-lense nie. Dit is egter raadsaam om ʼn oogkundige se raad te vra, aangesien jy in dié geval die beste gehalte lense, wat vir jou kind geskik is, wil aanskaf,” beveel hy aan.

Oogtoetse word nie benodig vir hierdie soort lense nie, maar ʼn gereelde besoek aan ʼn oogkundige is in elk geval ʼn goeie idee en word aanbeveel. Vir kinders wat reeds ʼn oogprobleem het, is blouligfilter-lense op voorskrif te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tv ·

Klink vir my na ou vrou stories, soos “moenie te naby aan die tv sit nie” ek’t teen die ding gesit en het perfekte visie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.