Kinders moet leer van mislukking om sukses te behaal

(Foto: Shlomaster/Pixabay.com)

Ons as ouers se grootste begeerte is om net die beste vir ons kinders te gee, sonder dat hul hoegenaamd blootgestel word aan die seer, verwerping en mislukkings van die lewe.

Só sê Lizette Volkwyn, lewensafrigter en skrywer, oor ouers se alombewustheid om as rolmodelle vir hulle kinders op te tree.

“Dit noop ons om altyd die beste voetjie voor te sit. Ons wil die lewe maklik laat lyk en die persepsie skep dat ons altyd in beheer is en dat ons die perfekte ouers is. In ʼn perfekte wêreld mag jy dalk vra wat is fout daarmee? Hoekom kan ek dit dan nie doen nie? Ek moet tog my kind wys hoe sukses lyk? Kom ons parkeer die vrae en skuif ʼn bietjie nader aan die realiteit.”

Volgens Volkwyn is ʼn suksesvolle lewe ʼn kombinasie van hoogtepunte, laagtepunte, uitdagings, en soos ʼn Engelse persoon sal sê, “a walk in the park”-oomblikke.

“Ons aanpassings, reaksies, en groei uit hierdie oomblikke bepaal ons toekoms, ons suksesse en aanvaarding in die samelewing en hoe goed ons aanpasbaarheid is ten opsigte van uitdagings.

“Een van my mentors het altyd gesê: ‘As ons nie blootgestel word aan die terugslae van die lewe nie, kan ons nie die kruin van sukses geniet nie’. Ons sal nie die waarde kan voel nie en ons empatie met die mensdom sal vervang word met oordeel en venynigheid.”

Volkwyn sê ouers moet besef hulle voorbeeld as rolmodelle kan nie net op suksesvolle oomblikke geskoei word nie, maar dat dit eerder benader moet word as ʼn 24-uur-per-dag-mentorskap.

“Ons verantwoordelikheid strek baie verder as om net ʼn perfekte wêreld te skets, sonder foute en terugslae.”

Kinders is sterk genoeg

Kinders het ʼn inherente begeerte om ouers te beïndruk, en om hulle goedkeuring en onvoorwaardelike aanvaarding te kry.

“Kinders wil hoor dat hulle veilig is al verloop dinge soms nie soos beplan nie. Daar lê bevryding in die oomblik waar ons teenoor ons kinders kan erken dat ons ook foute gemaak het. Dit skep die geleentheid om te mentor en bo alles ʼn vertrouensversterking te kweek wat ʼn pad oop kerf wanneer die bordjies verhang word.”

Volkwyn glo kinders is ongelooflik aanpasbaar en soveel te meer as ouers hulle die geleentheid gun om hulle eie opinies en insette te kan lewer.

“Dit is belangrik dat ons besef ons kinders is sterk genoeg vanaf ʼn baie vroeë ouderdom. Hulle eie morele standaarde en persoonlikhede sal hulle deurdra. Dit is ons werk om slegs ʼn leier en ʼn vangnet te wees indien hulle dit benodig. Ons het ʼn verantwoordelikheid om hulle toe te rus met realistiese verwagtinge van verhoudings sowel as interaksie met mense.”

ʼn Voorhou van ʼn ouer wat onfeilbaar is, skep die illusie van ʼn bonatuurlike beeld wat die kind altyd sal bybly.

“Dink net hoe bevredigend dit vir ons is as ons steeds die waardering, liefde en aanvaarding van ons kinders kry nadat hulle ons ware self gesien het. Ons kinders is sterk genoeg.”

Volkwyn benadruk dat ʼn gesin wat leer om mekaar te dra deur suksesse én mislukkings, staan sterk en geanker in die wete dat ongeag wat gebeur, daar ʼn geleentheid geskep word om te groei.

“Die dinamika van die gesin word gekoester deur elkeen se sterktes te erken en elkeen se tekortkominge te ondersteun. In hierdie gesonde omgewing moedig ons ons kinders aan om ʼn avontuurlustige en ondersoekende geaardheid te ontwikkel om vooruitgang te bewerkstellig.”

Lees meer by www.lizettevolkwyn.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.