‘Kinders moet skerms los en eerder bome klim’

Argieffoto. (Pixabay)

Argieffoto. (Pixabay)

Dit is die vraag op menige ouers se lippe: Hoeveel skermtyd is te veel vir jong kinders? Ouers worstel om balans te handhaaf in die tegnologiese era waarin ons leef en om die dinamika van die veranderende wêreld te verstaan.

Talle ouers wroeg met die vraag of hulle ʼn generasie van kinders grootmaak wat gemaklik in ʼn rekenaargedrewe samelewing kan inpas, terwyl hul ook genoegsaam hul kinders se liggame toelaat om fyn motoriese vaardighede, asook kritiese denke en probleem-oplossingsvaardighede, te ontwikkel.

Of kies ouers eerder om hul blind te staar vir die negatiewe effekte wat skermtyd op die fisieke en kognitiewe ontwikkeling van kinders het, vra Cindy Glass, stigter en eienaar van die opvoedkundige sentrum, Step Up. “Dit is soveel makliker om in te gee en die moontlikheid dat elektroniese toestelle kinders se vermoë om te leer kelder, te ignoreer.”

Volgens Glass is dit belangrik om te onthou dat kinders leer deur dinge self te doen, en nie wanneer dinge vir hulle gedoen word nie.

“Kinders leer aktiewe betrokkenheid deur legkaarte te bou, verbeeldingspeletjies of in die sand te speel of ʼn boom te klim. Hulle moet dink, probleme oplos en hul ingebore kreatiwiteit gebruik om dié aktiwiteite te geniet. Dit ontwikkel ook belangrike motoriese vaardighede.”

In ʼn neutedop leer kinders hoe om hul liggame en breine effektief te gebruik, sê Glass. “Deur vir ure voor ʼn skerm te sit verg slegs die sinnelose druk van knoppies en bring onmiddellike bevrediging. Dit is duidelik nie ideaal vir groeiende en ontwikkelende kinders nie.”

Glass voeg by dat dit belangrik is om te onthou dat ons in ʼn wêreld saam met ander mense woon. Om speletjies te speel met ander kinders, of dit nou sibbe of maats is, dra by tot die aanleer van noodsaaklike emosionele intelligensie-vaardighede.

“Selfbewustheid, self-regulering, motivering, empatie en sosiale vaardighede word deur interaktiewe speel aangeleer. Ouers wat tyd maak om met hul kinders speletjies te speel of saam met hulle goed te maak, geniet ook ʼn positiewe verhouding met hulle kinders en kweek waardevolle konneksies wat nie deur ʼn rekenaar ervaar kan word nie,” sê Glass.

Sy voeg by dat kinders wat tyd buite deurbring, die voordele geniet van natuurlike lig, die warmte van die son, oefening en uitbundige lag.

“Hul ontwikkelende liggame geniet die vryheid van hardloop, klim, fietsry of om in die skadu van ʼn boom te sit en die klein kreature te aanskou wat deel van die wêreld uitmaak. Daar is geen rekenaarspeletjie of aktiwiteit wat dié noodsaaklike aktiwiteite kan naboots nie.”

Ons kan nie die feit ontken dat ons ʼn tegnologiegedrewe wêreld woon nie, maar Glass benadruk dat dit nie beteken ons kan jong kinders ontneem van noodsaaklike ontwikkelingsvaardighede deur toe te laat dat tegnologie hul ingebore behoefte aan leer deur aktiewe betrokkenheid met die wêreld en als wat dit bied, oorheers nie.

“Kortom – klein kinders het nié toestelle nodig nie. Hulle het bome, boublokkies, legkaarte en kryte nodig,” sê Glass.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mamma van drie ·

My kinders kyk glad nie stories op tablets of fone nie want dit kan nie gereguleer word nie.
Toe ek wel op ‘n stadium dit toegelaat het was hulle lusteloos, bakleierig en het baie sleg geslaap. Toe ek dit stopsit het hul manier van speel en leer en doen met vir die positiewe verander.
Hul kyk wel TV maar net die programme wat ons goedkeur.
Dis amper 7uur en my jongste is steeds buite.

Cornelia ·

Ek dink die meeste van ons geslag en vroeër, onthou nog hoe ‘n klimbare boom ‘n trekpleister was. Buite speletjies: Bok in die hok, onder handjie klap, touspring, “hop scotch”, vrot eier, boompie verplant en vele meer. Om nie te praat van albasterkoors seisoen nie. Ja, ons kon ‘n dag moeg speel. En natuurlik al die binnehuise spel- en doen aktiwiteite. Dit sluit brei in. Boekies gelees. Afrikaans en Engels.Te veel om op te noem. En daarmee saam dikwels ‘n stukkie “grond gekoop.” Ai, dit vestig ook wonderlike herinneringe vir wanneer die oudag nader staan. En hoe heerlik deel mens nie die: “onthou jy nog toe ons… se ryke gedagtes nie!

Aster ·

Ek self het lekker boom geklim toe ek ‘n klein dogtertjie was, en was dit lekker en bou ook selfvertroue. Ouers m kindertjies wat in groot erwe bly met lekker bome is gelukkig maar ons ou kindertjie was in groot komplekse bly het is nie so gelukkig om altyd groot bome te hê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.