Kinderverwaarlosing neem steeds toe

(Argieffoto ter illustrasie: Volodymyr Hryshchenko/Unsplash)

Die dogtertjie word opgemerk waar sy op ʼn swart sak langs ʼn ry asblikke in ʼn stegie lê en slaap. Sy is omtrent drie jaar oud. Langs haar is ʼn plastiekbottel met louwarm water. Mense wat haar opgemerk het, probeer uitvind wat haar naam is, hoe sy daar gekom het en wie haar daar gelaat het. En of sy weet waar haar huis is.

Teen die tyd dat ʼn maatskaplike werker op die toneel kom, het die kind se oppasser uit die nabygeleë winkelsentrum gekom en verduidelik dat sy nêrens het om die kind te laat terwyl sy werk nie. Daar moes opgetree word om te verseker dat die dogtertjie veilig sou wees en versorg word.

Kinderverwaarlosing is ʼn kriminele oortreding volgens die Kinderwet 38 van 2005.

Volgens dié wet het alle kinders die reg op beskerming, veilige behuising, mediese sorg, kos en klere. Dit is die ouers se verantwoordelikheid. In gevalle waar die ouers afwesig is of nie na die kinders kan omsien nie, staan maatskaplike werkers in om sulke kinders, onder gesag van die kinderhof, te ondersteun.

“Daar word gekyk na die kind en die gesin se omstandighede en altyd gepoog om ʼn kind by ʼn familielid of in ʼn ander veilige plek te plaas om na hom of haar om te sien. Maar terwyl ons na die praktiese omstandighede omsien, moet ons bedag wees daarop dat kinders ernstige emosionele trauma ervaar as hul verwaarloos word,” verduidelik Henda van der Merwe, direkteur van Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos.

En trauma wat vroeg ervaar word, selfs in ʼn geringe graad, werk deur na komplekse trauma wat as volwassenes deurlopend ʼn rol in mense se lewens speel.

“Van die vroegste tekens by kinders is gedragsprobleme, leerprobleme en aandagspantekorte. Langertermyn probleme, wat tot in volwassenheid hul plekke in mense se lewens staanmaak, sluit emosionele probleme in soos byvoorbeeld die onvermoë om ander mense te vertrou. Dit kan jaloesie, paranoïese wantroue, selfs ernstige geestesgesondheidsprobleme soos depressie of angsversteurings tot gevolg hê.

“ʼn Kind wat verwaarloos word, begin glo dat die lewe lyk soos sy dit ervaar. Vanuit die oogpunt waar sy op ʼn swart sak lê en wag vir die dag om verby te gaan. Vroeë kinderontwikkeling speel nie ʼn rol in haar lewe nie. Sy bestaan maar net,” benadruk Van der Merwe.

Van der Merwe sê maatskaplike werkers kom elke dag met dié soort realiteite in aanraking. “Daar is gevalle van kinders wat op die ouderdom van ses nog nooit gekookte kos gehad het nie – hulle word op brood en worsies grootgemaak. Wanvoeding is die gevolg en hul tandjies vrot letterlik in hul monde. Dit kom oral voor, dis glad nie kultuurgroepgebonde nie.

“As ʼn kinder- en gesinsorganisasie met statutêre magte doen ons wat ons kan. Maar langtermyn emosionele skade wat op ʼn vroeë tyd in ʼn kind se lewe inslaan, verg groter insette.”

CMR Gauteng-Oos se 13 kantore in Pretoria reik jaarliks na meer as 27 000 mense uit.

  • Kontak CMR Gauteng-Oos se hoofkantoor by 012 361 4619 of die naaste tak van ʼn welsynsorganisasie vir meer inligting of hulp.
  • Besoek die CMR Gauteng-Oos se webblad of Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

lollapot ·

Ons wat meer het, moet op ons kniee lewe in dankbaarheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.