Kindervrese – hanteer die angs en onsekerheid vinnig

(Foto: R.D. Smith/Unsplash)

Deur Maretha Botes

Alle kinders is op een of ander stadium van hul ontwikkeling bang vir iets. Die donker, monsters onder die bed, of slange. In die pandemie steek vrese soos dié vir die dood en skeiding boonop kop uit. Kenners sê hoe jy jou kind se angs en onsekerheid kan hanteer.

Nie alle vrese is sleg nie. Party is daar om jou van dodelike gevaar te red. Soos die vrees vir harde geluide en vreemde mense by babas, of ʼn vrees vir diere soos groot honde by peuters.

Boonop is kinders van verskillende ouderdomme vir verskillende goed bang. Dit is deel van hul ontwikkelingskurwe. Dr. Tamar E. Chansky, skrywer van die boek Freeing your child from anxiety, sê ideaal gesproke ervaar ’n kind ’n gevoel van veiligheid by die huis. Wanneer iets, maak nie saak wát nie, dan hierdie gevoel van vrede en kalmte bedreig, kan dit vrees by jou kind wek. Dr. Elzette Fritz, opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, sê babas en peuters is veral bang vir harde geluide en skielike bewegings, vreemdelinge, vreemde voorwerpe en om weg te wees van hul ouers. Kleuters, waar ’n ooraktiewe verbeelding ʼn rol speel, is bang vir die donker, “monsters” onder die bed en spoke.

Laerskoolkinders is oor die algemeen bang om foute te maak, want hulle wil almal graag tevrede stel en hoërskoolkinders is bang dat hulle sosiaal nie sal inpas nie. Ander dinge waarvoor skoolkinders bang is, is slegte nuus op die televisie, om alleen tuis te wees, natuurrampe, misdaad, en verwerping.

Soms kan ʼn vrees egter handuit ruk en jou kind se lewe inperk. Benewens normale ontwikkelingsmatige vrese wat elke kind het, speel trauma ʼn groot rol in die ontwikkeling van vrese. Daar is ernstige trauma soos dood, ernstige siekte, growwe argumente tussen ouers wat die kind bedreig laat voel, egskeiding, fisieke en emosionele mishandeling van die kind óf een van die ouers.

Kleiner traumas soos ’n besoek aan die tandarts of ’n mediese prosedure, kan later traumaresponse in die sentrale senuweestelsel tot gevolg hê. “Ingryping is eerder vroeër as later nodig,” sê Fritz.

Tye van onsekerheid wek vrees

Gedurende die pandemie worstel kinders veral met skeidingsangs, ʼn vrees vir die donker en om te gaan slaap, en die dood. “In praktyk sien ons ook al meer kinders met konsentrasieprobleme en ons besef dat die impak van die pandemie besig is om in kinders te manifesteer,” sê Fritz.

Hierop sê Lizette Labuschagne, kliniese en forensies maatskaplike werker, en Minke Saayman, kliniese maatskaplike werker in Johannesburg, kinders reageer intens op wat hulle beleef en dit is vir hulle moeilik om afstand te skep tussen hulself en dit wat om hulle gebeur. Labuschagne en Saayman sien kinders van alle ouderdomme wat intense trauma beleef. Dié trauma is die gevolg van al die verliese wat die kinders ly in pandemietyd en verskyn op verskillende maniere, afhangend van die kind se ouderdom.

’n Veilige hawe

“Veral vir kinders wat van volwassenes afhanklik is, is ’n gevoel van veiligheid, iemand op wie hulle kan staatmaak, iemand wat na sy behoeftes omsien, ’n drukkie gee, sy emosies respekteer en erken, help om emosies uit te druk, en te verduidelik wanneer goed nie sin maak nie, van die uiterste belang.

“Dis ongelooflik belangrik om erkenning te gee aan jou kind se emosies, en om haar te help woorde vind wanneer sy iets nie kan uitdruk nie, en geleentheid te bied om uitdrukking aan vrees te gee, soos om ʼn prentjie te teken of ʼn speletjie daaroor te maak. Jy kan so jou kind help om ʼn gevoel te kry daar is ʼn mate van beheer en hy is nie uitgelewer aan hierdie vrees nie,” sê Fritz.

As ouer moet jy ook bewus wees dat jou eie optrede ’n impak het op hoe jou kind reageer in sekere situasies. As jy voortdurend angstig is en so optree, sal jou kind dit naboots.

Fritz sê dit is só belangrik dat ouers verstaan hulle mag nooit ’n bespotting van hul kind se vrese maak nie. “Dán dra jy die boodskap oor dat jou kind se gevoelens nie tel nie, hoe hy voel maak nie saak nie, en jy sien dit as ʼn bron van vermaaklikheid.”

Help om vrese te oorkom

Skep ʼn gevoel van beheer en voorspelbaarheid deur te verduidelik wat in sekere situasies, soos as julle tandarts toe gaan, sal gebeur. As julle speel, laat jou kind die speletjie kies en doen dan vir ʼn rukkie slegs wat jou kind wil doen. Dít skep ook ʼn gevoel van beheer, sê Fritz.

Skep roetine, want dit skep ook ʼn gevoel van veiligheid as jou kind weet wat om wanneer te verwag. As iets buite hul roetine gebeur, kan jy verduidelik hoekom dit gebeur en wat jou kind van die situasie kan verwag.

Bring bekende elemente terug, soos sport‑ en kultuuraktiwiteite. As gevolg van pandemiereëls het baie van dié formele aktiwiteite weggeval. Soek maniere hoe jy dit kan terugbring vir jou kind op ʼn veilige manier.

Sorg dat daar konnektiwiteit en interaksie is met ander op ʼn prettige manier.

As jy voel jou kind se vrees is buite beheer, is dit nodig om professionele hulp te kry. Hoe vroeër, hoe beter, sê Fritz.

Dié dinge maak jou kind ontvanklik vir oordrewe vrees

Sy predisposisie. As ʼn kind uit ʼn familie kom waar hoë angstigheid manifesteer, veral by pa en ma, is daar ʼn redelike kans dat die kind ook op ʼn sentrale senuweestelselvlak vinniger geaktiveer kan raak. Harde geluide, sensoriese stimuli, sal so ʼn kind vinnig ontsenu.

Die voorbeelde wat deur die ouers en ander volwassenes gestel word.

Persoonlikheid en temperament. Sommige kinders is van nature baie rustiger en word nie vinnig ontsenu nie, sê Fritz.

Blootstelling aan trauma. Dit kan selfs voorgeboorte of tydens geboorte wees, indirekte trauma (trauma wat deur die ouers ervaar is), en kleiner trauma soos ʼn besoek aan die dokter of tandarts, of om by die skool vergeet te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.