Kleuterskole en die ‘nuwe normaal’

(Argieffoto: pixabay)

Duisende kinders het vandeesweek vir ʼn tweede keer vanjaar “die eerste skooldag” beleef toe kleuterskole en dagsorgsentrums landwyd uiteindelik weer hulle deure kon oopmaak.

Alle sentrums vir vroeë kinderontwikkeling is in Maart gesluit weens die afsonderingsmaatreëls wat ingestel is om die verspreiding van die nuwe koronavirus (Covid-19) te bekamp. Die hooggeregshof in Pretoria het Maandag beslis dat alle kindersentrums hulle deure mag open indien al die nodige veiligheidsmaatreëls ingestel is.

ʼn Skooldag verloop egter nie meer presies soos wat die kinders dit onthou het voordat die wêreldwye pandemie uitgebreek het nie en daar is ʼn hele paar nuwe reëls waaraan hulle gewoond moet raak. Nie net moet die kleuters en hulle juffrouens heeldag maskers of gesigskerms dra nie, maar hulle moet ook kort-kort in rye staan om handjies te was en te saniteer.

Die “nuwe normaal”

Volgens Verushka Laubscher, skooleienaar en hoof van Baba Liefies Kleuterskool in Elarduspark, het die kinders haar verbaas met hoe vinnig hulle by die nuwe reëls aangepas het.

“Ek het eintlik nie gedink die kinders gaan so maklik aanpas nie, maar hulle was glad nie bang nie en die juffrouens se maskers pla hulle glad nie. Die groter maats wat in rye moet wag op die kolletjies wat aandui waar hulle moet staan, het dit dadelik verstaan en so mooi uitgevoer,” sê Laubscher.

Sy sê ook dit was duidelik dat die kinders mekaar vreeslik gemis het. “Hulle was so bly om terug te wees. Net om te sien hoe hulle na mekaar en na my verlang het, het alles die moeite werd gemaak.”

Giona Oosthuyzen, skoolhoof van Kleuterpret in Lyttelton Manor, beaam dit en voeg by dat sy self senuweeagtig was oor hoe die kinders die eerste skooldag gaan hanteer ná bykans drie en ʼn half maande tuis.

“Ek moet sê alles verloop seepglad en die kleuters verstaan só mooi dat hulle uitmekaar moet bly en gereeld handreinigers moet gebruik. Ek dink hulle het al so baie gehoor van die koronavirus en die ouers het hulle ook goed voorberei,” sê Oosthuyzen.

Sy lag as sy vertel dat sommige kinders na pres. Cyril Ramaphosa verwys as “die Koronaman” of “Oom Cyril”. “Die kinders het beslis baie by die huis van die virus gehoor!”

Oosthuyzen sê hoewel die kinders eers vandeesweek teruggekeer het skool toe, was sy en haar personeel reeds die afgelope twee weke by die skool doenig om alles gereed te kry vir die openingsdag.

“Ons is nou soos ʼn goed geoliede masjien, maar dit was maar ʼn aanpassing met baie uitdagings. Dit is ʼn kopskuif wat ʼn mens moet maak om dinge gewoond te raak. My personeel stap al ʼn lang pad saam met my – almal is positief en net bly om te kan werk,” sê sy.

‘n Dogtertjie saniteer haar hande by Carpe Diem Kleuterskool. (Foto: Verskaf)

Carpe Diem Kleuterskool in Roodepoort het ook Dinsdag teruggekeer skool toe en volgens skoolhoof Annelize Floor het die eerste dag goed afgeloop ondanks al die veiligheidsaanpassings wat die kleuters moes maak.

“Hoewel sommige maatjies aanvanklik effens onseker was, het hulle vinnig weer tuis gevoel toe hulle weer hulle juffrouens en maats kon sien. Die dra van die gesigskerms en -maskers was maklik omdat almal om hulle dieselfde doen. Ná so ʼn lang tydperk van afsondering is die kinders reeds gewoond daaraan om gereeld hulle hande te was en te saniteer. Die kinderlaggies en geselsies het deur die hele skool weergalm. Kinders is ongelooflik aanpasbaar,” sê Floor.

“Al die veiligheidsmaatreëls by die kleuterskool is reeds ingestel en ons onderwyseresse het kreatief te werk gegaan om kleuters met die aanpassings te help sonder om ʼn rigiede of onnodige streng omgewing te skep.

“Daar is helderkleurige voetjies op ons vloere geverf en ons speel speletjies om kinders te leer om presies op die geverfde voetjies te staan. Daar is ook vorms op die matte in ons klaskamers geverf wat sosiale afstand op ʼn prettige en opvoedkundige manier bevorder,” sê Floor.

“Ons is verlig om weer die kinders by die skool te kan verwelkom. Die veiligheid, stimulering en ontwikkeling van kleuters, veral wanneer ouers nou terugkeer werk toe, was ʼn groot bekommernis. Liefdevolle juffrouens, maatjies en ʼn goeie roetine speel ʼn ontsettend belangrike rol in die emosionele welstand van voorskoolse kinders.”

Volgens Oosthuyzen het sy talle navrae van onsekere ouers gekry die dag voordat die skool weer oopgemaak het. “Ek dink die ouers het beter gevoel nadat hulle by die skool was en kon sien hoe goed ons voorberei is. Ek moet eerlikwaar sê dit is asof ons dit al weke lank doen.”

Laubscher stem saam. “Die juffrouens het net so vinnig aangepas soos die kinders, al is die administrasie baie meer. Ons moes ook ʼn ekstra persoon aanstel om te help met die skoonmaak, want ons kan nie bekostig dat ons assistente hulle aandag tussen die kinders en die skoonmaakwerk moet verdeel nie.”

Sy sê die uitgawes wat aangegaan moet word om die skool gereeld skoon te maak, is astronomies. “Die hoeveelheid seep wat ons in twee dae gebruik het, is skrikwekkend!”

Volgens Laubscher is daar nog ouers wat verkies om hulle kinders eerder tuis te hou. “Dit is nie vir ons ʼn probleem nie en dit is elke ouer se keuse om sy kind skool toe te stuur of nie. Ek moet sê dat die ouers wat wel hulle kinders teruggestuur het, baie opgewonde is oor die kinders se roetine wat reeds verbeter en stimulering wat hulle poegaai maak en heerlik laat slaap snags!

“Hier en daar was ʼn mamma wat bang was om hulle kinders terug te stuur, maar ander mammas het my amper gesoen, so bly was hulle om my te sien!” lag sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Die eintlike “nuwe normaal” kom nog: wit mense wat op groot skaal hulle werk gaan verloor en permanent uit die ekonomie verwyder gaan word. Ramaphosa waarsku al lankal daaroor.

Jan ·

Die Covid-19 “nuwe normaal” is dwaas. Dit takel ons immuniteit af.
Die 1914-1918 oorlog het 240 miljoen mense fisies geraak en die wêreldbevolking se immuniteit afgetakel. Toe sterf tussen 17 en 100 miljoen mense weens griep.
Covid-19 se impak is waarskynlik as gevolg van swak dieet- en leefstylkeuses wat die huidige geslag se weerstand reeds afgetakel het.
Byna alles wat ons doen om verspreiding van die virus te bekamp, is teenproduktief. Maskers, isolasie, min sonlig, aanraking en sosiale interaksie, armoede en swak voeding, negatiwiteit en media wat vrees aanblaas, wek angs en takel ons immuniteit verder af.
Jesus leer dat fisiese aanraking belangrike is vir genesing, liefdebetoning, seëninge ens. Na mate ons verder van hierdie belangrike beginsels wegbeweeg deur paniekbevange maar vergeefs van virusse te probeer ontvlug, beweeg ons nader aan selfvernietiging.
Die “nuwe normaal” wat nou gepropageer word lyk na opstand teen ons Skepper en die normale orde wat Hy vir ons gegee het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.