Kloof kraai koning: Matriekuitslae 2019

Matrieks 2019 van Hoërskool Waterkloof (Foto verskaf)

Deur Cilliers Diedericks

Om ʼn kwartel perfek voor te berei, sit nie in enige sjef se voorskoot nie, om ʼn tarentaal op te dis, is dalk nóg moeiliker, maar wanneer die spyskaart ʼn héél volstruis vereis, skiet die kanse op kombuismoles die hoogtes in. Om ʼn handjievol graad 8’s vir hul matriekeksamen te slyp, is prysenswaardig, maar wanneer daar 343 leerders is wat georganiseer en gemotiveer moet word, moet jy behoorlik ál jou hoenders op hok hou. Megaskole met goeie matriekuitslae kán maar poubors rondloop.

Hoërskool Waterkloof is ʼn megaskool met reusegetalle, trouens, die inname van 451 graad 8’s in 2020, maak dit amptelik die grootste graadgroep in ʼn Afrikaanse skool in die land. Die 2019-matriekprestasies by dié skool bewys egter dat wêreldklasonderwys nie deur groot getalle beïnvloed hoef te word nie. Die 100%-slaagsyfer vir die 30ste opeenvolgende jaar met 321 leerders wat universiteitsvrystelling verkry het, is merkwaardig. Die 742 onderskeidings behaal, plaas Kloof in die tweede posisie provinsiaal en vierde landswyd. Agt slimkoppe het agt en meer onderskeidings, terwyl tien leerders sewe onderskeidings verwerf het. Die nommer een posisie in Besigheidstudies was ʼn welverdiende pluimpie in die Kloof-keps wat in ál die kernvakke uitgeblink het. Die 650 B-simbole bevestig dat uitstekende vakkennis deur die bank vasgelê is.

Matrikulante is dit eens dat die wenresep by hierdie gemengde megaskool aan ʼn paar faktore toegeskryf kan word: alhoewel die Klofies na uitnemendheid strewe, is die seuns en dogters uiters gebalanseerd, die personeel is topgehalte en die gees wat tans in die gange heers, is een van ondersteuning, samewerking en kameraadskap. Dit blyk dat jy toe tóg die voël aan die vere kan ken en met sulke pronkerige uitslae vlieg dié streep- baadjies, weer bo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.