Klop die masjiene met ʼn prestigebeurs in die geesteswetenskappe

Foto verskaf deur die APA

Die sogenaamde 4IR (vierde industriële rewolusie) het die hele wêreld aan die gons. Verskeie beroepsvelde wat tot dusver groot werkverskaffers was, gaan eenvoudig wegval weens tegnologiese vooruitgang – dink maar aan die veranderinge in die bankwese as een voorbeeld.

In die toekoms gaan gegradueerde persone wat oor oordraagbare vaardighede beskik – vaardighede wat nie net aan een tegniese spesialiteit gekoppel is nie – toenemend gesog wees vir werkgewers. Omdat die geesteswetenskappe by uitstek hulself daartoe leen om kritiese, analitiese en probleemoplossingsvaardighede te ontwikkel (almal tipiese oordraagbare vaardighede) wil dit dus blyk of die geesteswetenskappe ʼn dramatiese oplewing gaan toon as gevolg van die 4IR.

Die Afrikaanse Protestantse Akademie is ʼn privaat tersiêre instelling wat spesialiseer in die geesteswetenskappe – spesifiek in die opleiding van sogenaamde meningsvormende beroepe: predikante, beraders, sielkundiges, onderwysers, joernaliste, kommunikasiekundiges en politieke analiste. Enigeen wat graag in Afrikaans wil studeer en vir wie die bemiddeling van die wêreld waarin ons leef met die Christelike geloof belangrik is, behoort ernstige oorweging te skenk aan die APA as ʼn moontlikheid vir tersiêre onderrig.

Met ʼn keuse van afstandsonderrig, wat studente in staat stel om te werk en te studeer, óf om klas te draf indien studente in Pretoria en omgewing woonagtig is, kan die APA ʼn wye verskeidenheid van studente-behoeftes aanspreek. Moedertaalonderrig is ʼn verdere voordeel van groot waarde. Taal is die stroom waarin die gedagtegang vloei. Konsepvorming in die moedertaal is van integrale belang om die uiteindelike verstaan te bewerkstellig. Dit is geen toeval dat moedertaalonderrig-skole in die algemeen bewysbaar beter presteer in wiskunde, wetenskap en die tale nie. Die APA bou voort op hierdie grondslag van uitnemende standaarde, binne Afrikaanse onderrig, met bewese vakspesialiste as dosente en ʼn vinger op die pols van ʼn groter prentjie as net die plaaslike.

Dit is dus vir die APA en Pretoria FM ʼn groot voorreg om ʼn prestigebeurs in die geesteswetenskappe aan te bied vir 2020. Die beurs dek die klasgelde van ʼn volledige drie jaar BA-graad asook ʼn vierde NGOS-jaar. Belangstellendes word uitgenooi om aansoek te doen vir hierdie prestigebeurs. Meer inligting is beskikbaar op die APA se webwerf by https://www.apa.ac.za/. Aansoeke sluit op 13 Desember 2019.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.