Klop disleksie só

kind_lees_bril.jpg

Foto: Visionbeyond2020.com

In September en Oktober word twee opvoedkundige kwessies in die plaaslike en internasionale kollig gewerp – verlede maand se Geletterdheidsdag (8 September), en Disleksie-bewustheidsmaand (elke jaar in Oktober). Tydens vanjaar se Disleksie-bewustheidsmaand ondersoek Edublox-wiskunde-lees-en-leerkliniek een van die grootste oorsake van disleksie, en deel ’n paar wenke met ouers wat hul kinders wil help om leesprobleme aan te pak.

Tydens ’n Geletterdheidsdag-ontbytgeleentheid, aangebied deur die opvoedkundige ontwikkelingsprogram help2read, het paneellede kommentaar gelewer op die onderwerp “Die belangrikheid van geletterdheid vir voorspoed en demokrasie in Suid-Afrika”. Dié gesprek het ten doel gehad om sleutelkwessies uit te lig wat die plaaslike grondslag-onderwyssektor beïnvloed. Volgens dr. Nick Taylor, hoof van Opvoedkundige Evaluasie en Navorsing by die Joint Education Trust, moet die grondslag-onderwyssektor se belangrikste prioriteit wees om kinders so vroeg moontlik aan skool en leesgeleenthede bloot te stel. Die rede hiervoor is dat ’n kind se brein tydens die eerste paar lewensjare buitengewoon sensitief is vir die ontwikkeling van taalvaardighede. ’n Studie deur Van der Berg beaam hierdie stelling met die bevinding dat die moontlikheid van aanvaarding tot universiteit, saam met al die geleenthede wat daarmee gepaardgaan, reeds grootliks bepaal word in graad 4*. Dit is dus belangrik om enige tekortkominge in die leerproses so gou moontlik aan te spreek.

Volgens Susan du Plessis, direkteur van opvoedkundige programme by Edublox, is kwessies rondom die bevordering van basiese geletterdheid en disleksie-bewusmaking meer verweef as wat ʼn mens besef. “Leesprobleme is ’n groot sondaar wanneer kinders algemene leerprobleme ervaar. Dit gebeur maklik dat ’n verskeidenheid simptome saamgegroepeer word en onder die sambreelterm ‘disleksie’ gediagnoseer word, en die woord laat ouers sommer groot skrik. Ons glo in ’n sterk fokus op die ontwikkeling van fundamentele leesvaardighede as die sleutel tot kinders se uiteindelike leersukses – ongeag of hulle disleksies is of nie,” verduidelik sy.

“Ouers moet eers die oorsake van disleksie verstaan voordat hulle kinders kan help om die probleem te oorkom,” sê Du Plessis. “Twee faktore is belangrik: eerstens moet ʼn mens onthou dat lees nie ’n natuurlike, instinktiewe proses is nie, maar ’n vaardigheid wat aangeleer moet word. Tweedens moet ʼn mens ook in gedagte hou dat die leesproses laagsgewys plaasvind – een vaardigheid moet eers bemeester word voor jy kan aanbeweeg na die volgende. Die hart van hierdie proses en die eerste sport op die leer na leessukses is taal. Vaardighede soos visuele prosessering, ouditiewe prosessering en ouditiewe geheue vorm die tweede sport van die leer, en moet ook bemeester word voor kinders se leesprobleme uitgestryk kan word,” voeg Du Plessis by.

Sy deel graag nog ’n paar wenke met ouers:

  • Omdat taal so ’n noodsaaklike rol speel wanneer dit by lees kom, is dit belangrik om kinders van hul babadae af bloot te stel aan geleenthede om taal te hoor.
  • As jou kind sukkel met letteromruilings, letterorde, swak leesbegrip of swak geheue, is dit van sleutelbelang om so gou moontlik hulp te soek.
  • Nader ’n professionele leeskliniek wat spesialiseer in kognitiewe ontwikkeling en wat fokus op aspekte soos konsentrasie, perseptuele vaardighede, geheue en logiese denke.
  • Maak ’n lys van enige waarnemings of bekommernisse, wat jy kan saamneem na jou afspraak met ’n opvoedkundige praktisyn.
  • Die meeste kinders sien daarna uit om te leer lees en die meeste leer relatief vinnig – maar vir ander voel dit asof dit heeltemal buite hulle bereik is. Wees dus sensitief teenoor ’n stadige leser of ’n kind wat disleksies is.

Vir sommige ouers mag dit ’n verligting wees dat kinders se akademiese prestasie daadwerklik kan verbeter ten spyte van disleksie. Abigail de Robillard, ’n ma van Durban, het haar seun ingeskryf by ’n betroubare leeskliniek nadat disleksie en aandagafleibaarheid by hom gediagnoseer is. Sy het ná een kwartaal reeds ’n verbetering opgemerk ten opsigte van sy selfvertroue, sy vermoë om self sy skoolwerk te doen, en sy lees- en konsentrasievermoëns. “Disleksie is ’n struikelblok; ek glo nou dat die leeskliniek deur harde werk my kind gaan help om hierdie struikelblokke te oorkom om sy volle potensiaal te bereik – en dat hy bowenal ’n gelukkige kind sal wees,” sê sy.

  • Edublox-klinieke spesialiseer in die bevordering van kinders se akademiese ontwikkeling deur opvoedkundige programme aan te bied wat fokus op kognitiewe ontwikkeling, lees, spel, begrip en wiskunde. Besoek edublox.co.za

Nota:

* Van der Berg, S. (2015). “What the Annual National Assessments Can Tell Us About Learning Deficits Over the Education System and the School Career Year”. Stellenbosch Economic Working Paper No. 18/15, November, 2015.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.