Koa – die eerste aanlyn ‘pod’-skool

(Foto verskaf deur Koa Academy)

Die Suid-Afrikaanse digitale leeromgewing ontwikkel en brei teen ʼn rekordspoed uit – van skool tot tersiêre onderrig, nagraadse studies en werkgebaseerde onderrig. Vir gesinne bied aanlyn skole ʼn rits keuses wat hulle nog nooit vantevore gehad het nie. Waar geografie tradisioneel ʼn beperking ingehou het op die fisiese skool wat jou kind bywoon, is daar geen só beperking op aanlyn skole nie. Dit stel ouers in staat om baie meer aandag te skenk aan die aanlyn skool se filosofie en waardes, model en aanbieding om ʼn skoolomgewing te vind wat werklik die beste is vir jou kind.

Gesinne wat aanlyn skool aangegryp het, loof gewoonlik die buigbaarheid wat dit bied as ʼn groot voordeel. Omdat al die inhoud enige tyd en enige plek beskikbaar is, kan leerders teen hul eie pas vorder. Dit beteken dat leerders, wat vinniger leer, vooruit kan beweeg terwyl diegene wat met spesifieke inhoud meer aandag nodig het, hul tyd kan neem sonder dat hulle agterbly. Talle leerders het egter struktuur nodig om vordering te maak en hierdie balans tussen buigbaarheid en georganiseerde leer moet deel vorm van die aanlynskoolmodel.

Koa Academy, wat hoë betrokkenheid by sy aanlyn skool prioritiseer, het op dié manier Suid-Afrika se eerste aanlyn “pod”-skool geword waar leerders en onderwysers in groepe van agt georganiseer word. Hulle vergader elke skooldag vir Pod Connect, ʼn sessie van sosio-emosionele leer, spanwerk en die bou van verhoudings. Daar is ook daaglikse Pod Check-ins waar hulle doelwitte kan stel, vordering kan monitor, werk en terugvoer kan gee en waar vakgebaseerde meesterklasse plaasvind. Koa se unieke “pod”-struktuur skep ʼn georganiseerde ruimte vir leerders om sosiale bande te geniet, geteikende akademiese ondersteuning te ontvang en hul eie uitvoerende funksies te ontwikkel.

Mark Anderson, Koa se hoof en medestigter sê: “Dit gaan alles oor aanspreeklikheid en individualiteit. Ons het gesien hoe talle ander aanlynleermodelle ten gronde gaan omdat hulle aanneem dat kinders, veral tieners, kan leer sonder volgehoue aanspreeklikheid. Die feit is dat ʼn groot deel van dit wat ʼn skool ʼn jongmens leer, daaroor gaan om meer onafhanklik te word en nie net te aanvaar dat hulle reeds onafhanklik is nie. Ons klein ‘pods’ beteken dat elkeen akademies aanspreeklik gehou word. Die onderwyser ken elke persoon in hul ‘pod’, weet waar hulle is wat leer betref, en watter ondersteuning hulle benodig om aan te hou groei. Dit is in hierdie ruimte, waar soveel ondersteuning gebied word en waar hulle aanspreeklik gehou word, dat leerders werklik die vaardigheid van onafhanklikheid kan bemeester en in hul akademie kan uitblink.”

Koa se “pods” stel kinders ook in staat om voordeel te trek uit gereelde interaksie met hul maats. Die skool bied ook klubs vir spesiale belangstellings, hou wetenskap-, sake- en kuns-ekspo’s en nooi ʼn rits aanbieders wat kinders insig kan gee in hulle betrokke bedryf. Mark voeg by: “Daar is baie voordele van aanlyn leer, maar daar is ook die risiko in die aanlyn ruimte van ontkoppeling en dit kan moontlik tot isolasie lei. Ons het geweet dat, indien Koa die standaard van aanlyn leer in Suid-Afrika wil word, en die voordeel van aanlyn leer wil verseker, dan moet almal verbind bly – nie net in ʼn IT-sin nie, maar ook verbind voel in ʼn sosiale en emosionele sin. Die enigste manier om dit te doen is om seker te maak ons kameras is aangeskakel en dat ons stemme gehoor word. Dit gebeur op die beste manier – en slegs – in klein groepies. Met agt mense op ʼn skerm kan almal gesien en gehoor word.”

Vir Koa-onderwysers is die “pod”-struktuur ʼn droom opleidingsomgewing waar hulle hul gespesialiseerde onderrig in praktyk kan toepas op ʼn manier waartoe onderwysers net glad nie in staat is in groot groepe leerders nie. Pod-onderwyser Simone Dames sê: “Ek verbind elke dag met my ‘pod’ vir prettige sessies waar ons sagte vaardighede teiken en akademiese sessies waar ek die kinders se vordering kan monitor en bystand en leiding kan gee waar nodig. Ek kan vir jou sê wie elkeen is; ek ken hulle akademiese sterkpunte en uitdagings. Ek kan vir elke persoon ʼn individuele rooster gee wat fokus op hul sterkpunte en hulle toelaat om teen hul eie pas die inhoud te kan bemeester. Dit is ʼn uiters aanspreeklike struktuur waar kinders akademies en sosio-emosioneel kan floreer.”

Die hoë betrokkenheid wat die “pods” bied, het ook ʼn positiewe uitkoms wat betref die ontwikkeling van digitale geletterdheid – ʼn noodsaaklikheid in die 21ste eeu. Mark voeg by: “Ons kinders sosialiseer aktief aanlyn. Die aanlyn ruimte behoort reeds aan hulle! Maar hulle het ʼn veilige ruimte nodig en moet gelei word in hoe om op ʼn gesonde manier aanlyn te sosialiseer. Ons ‘pods’ skep daardie veilige ruimte waar jongmense die vereiste vaardighede kan bemeester en veilig en betekenisvol met ander aanlyn verbind kan word. Dit is ʼn belangrike regte-wêreld verbinding en hulle kry die nodige geleenthede om selfvertroue, ervaring en ʼn sin van verantwoordelikheid te ontwikkel sodat hulle suksesvol in die digitale wêreld kan omgaan.”

Vir ouers wat voel dat hul kinders nie raakgesien word nie en oorweldig word in ʼn groter klas, maak Koa se kleingroep “pods” baie sin. Mark sluit af: “Vir ouers wat die besluit neem om hulle kinders by ʼn aanlyn skool in te skryf, en wat die verskillende aanbiedings oorweeg, dink ek dit is belangrik dat hulle dink wat dit sal verg om seker te maak hul kinders floreer in die skool. Waaraan dink jy? Is dit die kans vir jou kind om hom- of haarself te wees? Is dit beter akademiese ondersteuning? Is dit meer betekenisvolle vriendskappe? Minder afknouery? Beter wiskunde punte? Trouens, daar is ouers in Suid-Afrika wat bloot wens dat hul kind se onderwyser hulle naam ken! Dink nou aan hulle in ʼn ‘pod’ van agt.”

Leer meer oor Koa Academy hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.