Kodering en robotika: Hoe berei ons voor vir 2024?

Argieffoto (Foto: HensleyStudios/Pixabay)

Deur Alex J Coyne

Krap jy en jou gesin kop oor dié nuwe vak wat binnekort gaan deel uitmaak van die Suid-Afrikaanse skoolkurrikulum? Hier is hoe jy jouself en die jongklomp kan voorberei vir 2024, asook meer inligting oor wat in kodering en robotika geleer sal word.

Wat is kodering en robotika?

Volgens die departement van basiese onderwys is hierdie nuwe vak juis ingestel ter voorbereiding vir vakrigtings soos inligtingstegnologie en ingenieurswese. Die vak ondersoek die aktiwiteite wat verband hou met probleemoplossing deur logiese en berekende denke.

Hierdie nuwe vak se uitleg is reeds in 2017 op die proef gestel. Hoewel dit reeds in 2023 aan die publiek bekendgestel moes word, is dit nog nie by skole landswyd ingestel nie.

Baie ouers, onderwysers, en selfs tieners meen dit is belangrik om ʼn grondslag te bou in hierdie vakke vir die toekoms. As gegradueerdes oor tien jaar almal die rekenaartale van HTML en CSS magtig is, wat sal dit vir jou kinders beteken?

Kodering en robotika: Vier kernfokusareas

Volgens die Nasionale Raamwerk wat bekend gemaak is, sal kodering en robotika fokus op vier belangrike kernfokusareas:

  • Algoritmes en koderingsvaardighede: heelgetalle, Boolse algebra, tabelle, en stellings
  • Robotikavaardighede: logiese stappe, beheerstelsels en CAD-tekeninge
  • Internet en kommunikasievaardighede: virusse, data, sosiale media en kunsmatige intelligensie
  • Aanlegvaardighede: HTML- en CSS-programmering

Vir praktiese doeleindes, moet skole toegerus word met ʼn laboratorium waar enige praktiese eksperimente voltooi kan word.

Sagteware (en sekere hardeware) moet deur ouers of studente verskaf word. ʼn Basiese raamwerk word hiervoor deur die onderwysdepartement verskaf.

Oopbronkode-sagteware vir kodering en HTML word aangeraai. ʼn Lys van komponente sal vir ouers gegee word, wat mag insluit sensors, skroewe, batterye, en LED-liggies.

Die departement beveel aan dat rekenaars ten minste ʼn “vyfjaar lewensduur” moet hê. Benodighede sluit in internettoegang, ten minste 3 USB-poorte, en ten minste ʼn 2GB 64-bit Core i5-prossesseringskapasiteit.

Wat word geleer?

Argieffoto (Foto: Christopher Gower/Unsplash)

Die departement van basiese onderwys gee reeds hulle voorstelle vir die vaardighede (en modules) waardeur onderwysers en studente sal moet werk.

Graad 7-leerders se kurrikulum sal fokus op aangepaste realiteit (augmented reality), lyngebaseerde en blok-kodering, basiese HTML-programmering en CAD-tekeninge.

Graad 8-leerders sal leer oor kuberveiligheid, binêre nommers, HTML-wenke, en meer komplekse CAD-tekeninge en robotika.

Graad 9-leerders se modules raak aan sosiale media, logika en programmering, tabelle in HTML-formaat, en nog meer gevorderde CAD- en robotika-beheersing.

Soos leerders vorder, sal hulle meer leer deur take wat deur die loop van die jaar voltooi word. Teen die vierde kwartaal, sal studente in graad 9 reeds ʼn volledige webwerf kan skep as deel van die projek waarmee hulle aan die begin van die jaar weggespring het.

Mauritz Kotzé is die uitvoerende direkteur van SA School Coding & Robotics, ʼn onderneming wat kinders en ouers meer leer oor die onderwerp.

“Kodering en robotika is opsioneel as ʼn vak en nie verpligtend nie,” sê hy, hoewel hy ook noem dat die departement dit ʼn verpligte vak vir grade R tot 9 wil maak. “Die kurrikulum is nog in die beginfase, en dit is reeds aan Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, gestuur.

“Ons weet nog nie wanneer die hersiening gefinaliseer sal word nie. Ons weet ook nog nie wanneer dit verpligtend sal word nie,” sê Mauritz. Die departement het die hersiening van die vak al in 2021 aangevra.

Volgens Mauritz moes die onderrigplan reeds in 2023 die lig gesien het. “Ons is nou al amper in 2024, en is steeds nie heeltemal seker hoe die finale kurrikulum gaan lyk nie.”

Dit bied ʼn uitdaging vir ouers wat onseker is oor waarheen die toekoms van tegnologie hulle kinders sal neem.

Dit moet egter nie ouers of die jongspan verhoed om te leer nie. “Ons het heelwat hulpbronne vir die grondslagfase. Digitale letterkunde is ʼn goeie beginpunt. Maak seker jou kinders weet hoe om ʼn rekenaar of slimfoon en ander toerusting te gebruik.”

Mauritz raai ouers en kinders aan om die grondslag-voorbereiding te doen, hetsy hulle nou seker is oor die departement se plan of nie.

Hy wys uit dat die belangrikste konsepte van kodering nie ʼn rekenaar of toestel benodig om te leer nie. “Daar word nog gedebatteer of ʼn mens werklik ʼn rekenaar nodig het: baie van die kern konsepte kan vir kinders geleer word sonder toegang tot ʼn rekenaar.”

Die rekenaar, sê hy, word eers later deel van die toerusting met meer gekompliseerde kodering.

Is jy en jou kinders behoorlik voorberei vir die uitdagings wat hierdie nuwe vak mag bied?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Ek kan my nie indink dat dit ‘n verpligte vak kan word nie. Almal stel nie daarin belang nie en almal get nie die aanleg daarvoor nie. Net soos vir wiskunde. Daar is soveel ander rigtings wat mens kan ingaan sonder die vak. Ek vir een sou dit glad nie wou neem as ‘n vak nie. Het absoluut geen belangstelling in dit nie. En met die wat rekenaars en wst daarmee gepaard gaan baie duur is, kan ek nie glo dat hierdie land se onderwysdrpartement dit verpigtend wil maak nie. Om nie eens van beurtkrag en duur data te praat nie. Of gaan die wanfunksionele en skole wat nie skoolfonds betaal dit verniet kry en ander moet deur hul nekke betaal, al kan hulle dit nie bekostig nie?

Tricea ·

Hulle noem dan in die artikel dat dit ‘n opsionele vak sal wees! Nes jou kind kan kies om nie Wiskunde tot matriek te neem nie. By sekere privaatskole is dit lankal die norm. My kind het tydens ‘lockdown’ my gehelp om Teams baas te raak. Sy het Robotika sedert graad R en kodeer nou haar eie webwerwe (nou gr.8). Ons kinders is gebore en leef in ‘n tegnologiese era – raak dit gewoond. Ek wonder egter ook oor staatskole en die koste. Hierdie robotte en sagteware is nie goedkoop nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.