Kundige wenslys-wenke vir jou kind dié Kersfees

(Foto: Verskaf)

Kersfees-wenslyste is al lank deel van meeste moderne kulture, en byna al die kinders het die jongste speelgoedneigings heel bo aan hul lysies. Die finansiële druk wat ouers egter tydens die feesseisoen ervaar kan soms oorweldigend wees.

“Is my kind te bederf, of word hy of sy nie genoeg bederf nie? Wat moet ons bestee? Maak ons hulle materialisties groot? Leer ons hulle dat Kersfees oor geskenke gaan, of is dit net bloot ʼn manier om liefde aan hulle te wys?” Ouers sukkel dikwels met die vrae, en veral of hul kinders te veel of nie genoeg kry nie. Dit kan ʼn mens laat wonder waar die balans is.

Dit is waar ʼn wenslys baie nuttig kan wees. Dit help ouers en kinders om die regte gesindheid en perspektief rondom die Kersseisoen te behou, en die opwinding op ʼn positiewe manier aan te wakker.

Kinders is gek daaroor om Kersfees-wenslyste te maak, daarom het kenners van Toys R Us ʼn paar wenke gedeel oor hoe jou kinders ʼn wenslysie kan saamstel wat met vriende en familie georganiseer en gedeel kan word. ʼn Wenslys sal verseker dat jy vir jou kind iets kry wat hulle regtig graag wil hê, maar dit verseker terselfdertyd ʼn goeie leergeleentheid.

(Foto: Pexels)

Stel riglyne op

Kinders het leiding van hul ouers nodig om verwagtinge te bestuur en om ʼn goeie leergeleentheid te bied wanneer hulle wenslysies opgestel word. As jy veral bekommerd is oor ʼn wenslys wat byvoorbeeld gierigheid bevorder, is dit uiters belangrik om aan jou kind duidelik te maak dat net omdat die speelding gelys is, hy of sy dit nie noodwendig gaan kry nie.

Maak seker dat jou kind bewus is daarvan dat indien hulle kry waarvoor hulle op hul wenslysie vra, dit ʼn wonderlike seën is, maar dat hulle dit moet kan aanvaar en verstaan, wanneer hulle nie kry waarvoor hulle gewens het nie.

Skep ʼn spaarplan saam met jou kind vir die speelgoed wat hulle graag wil hê, en verduidelik aan hulle dat hulle dit self op ʼn later tydstip kan koop, met hulle eie geld as hulle leer hoe om reg te spaar.

(Foto: Verskaf)

Begin vroeg

Moenie wag tot Desember om jou kinders te kry om hul wenslysies te maak nie. Toys R Us stel elke jaar hul topspeelgoedlys vir kinders van alle ouderdomme bekend, wat deur ʼn groep kundiges saamgestel word. Ouers kan Geoffrey’s Big Book of Wonder vir hul kinders in die winkel of aanlyn kry. Die gids bestaan uit 68 bladsye wat die keuses van speelgoed vir hul wenslys baie makliker sal maak.

Jy as ouer het die laaste sê

As ouer moet jy soms “nee” kan sê, en daarby hou. Verduidelik aan jou kinders hoekom hulle dit moet aanvaar en aanbeweeg indien hulle iets op hulle wenslys het, wat hulle nie nou kan kry nie. Dit is nie ʼn maklike taak nie, maar beslis ʼn nodige een. Help hulle om ʼn ander geskenk te kies. Gee vir hulle ʼn paar alternatiewe opsies, dinkskrum saam met hulle, en bespreek die voor- en nadele van hulle keuses met hulle.

Behoeftes teenoor begeertes

Verduidelik aan jou kind wat die verskil tussen ʼn behoefte en ʼn begeerte is en wys vir hulle opsies van geskenke wat albei demonstreer. Dit is ʼn besonderse waardevolle gesprek en leerervaring vir kinders. Die feestyd bied ʼn wonderlike geleentheid om die verskil tussen behoeftes en begeertes te demonstreer. Laat hulle byvoorbeeld ʼn lys maak van iets wat hulle nodig het, graag wil hê, kan lees, kan dra, en kan gee.

Stel die lys saam

Hierdie behoort die prettige deel te wees. Kry gekleurde papier, versierings, kryte en penne, en raak kreatief saam met jou kind.

As jy graag vir jou kinders ʼn digitale wenslys wil skep om dit met familie en vriende te deel, besoek gerus hierdie skakel om ʼn register te skep:

Leer jou kind om terug te gee

Dit moet by jou kinders ingewortel word dat Kersseisoen nie net oor ontvang gaan nie, maar veral om te gee. Vind ʼn welsynsprojek waarby jou kinders die Kersseisoen betrokke kan raak. Laat hulle byvoorbeeld ʼn paar stukke ou speelgoed aan minderbevoorregtes skenk, en leer vir hulle dat ander kinders nie noodwendig so goed daaraan toe is soos hulle nie.

Benut hierdie wonderlike leergeleentheid hierdie vakansie en help om pligsgetroue en nederige geskenkgewers en -ontvangers groot te maak. Sien dit as nog ʼn manier waarop jy en jou kinders meer vreugde by die vakansie kan voeg.

(Foto: Unsplash)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.