Kuns, vlyt help kinders van geskiedenis leer

Talle kinders het Woensdag meer oor die geskiedenis geleer deur kuns en vlyt by die Pioniersentrum se vakansieprogram. (Foto: Verskaf)

Die Pioniersentrum by die Voortrekkermonument het vandeesweek die jongspan meer van kuns en geskiedenis geleer.

“Kuns en Vlyt” is die tweede vakansieprogram wat dié sentrum aanbied vir die jeug terwyl die skole gesluit is.

Volgens Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder van die Voortrekkermonument, was die program se tema krygsgevangenes.

“Die kinders is eers geleer van die geskiedenis van die krygsgevangenes van die Anglo-Boereoorlog tussen 1899 en 1902 en toe moes hulle iets maak.

“Hulle het verskillende items gebruik om hulle kunswerke mee te maak. Daar was van herwinbare materiaal tot verf, sand, boombas, takkies, blare en lap wat hulle gebruik het om ’n kunswerk mee te maak wat ’n krygsgevangenekamp uitbeeld.”

Daarna het hulle ook geleer wat die weef van mandjies en ander goedere behels.

Die krygsgevangenes het materiaal soos gras gebruik om die mandjies mee te weef. Hulle was genoodsaak om dit te doen in die kampe waar hulle aangehou is, omdat daar niks anders was nie. Hulle moes byvoorbeeld hulle eie tente, mandjies en bokse maak.

Dit is ook later gebruik om ’n bron van inkomste te genereer.

“Die kinders het geleer hoe om hulle eie mandjies van plastiek te weef en het hulle gate uit geniet,” sê Pretorius.

“Ek het ’n skoen en rugbybal geverf, want dit herinner my aan wat hulle gemaak het in die kampe. My maatjies moet kom dat ons saam kan leer oor die geskiedenis van daai tyd,” sê die 11-jarige Caylie Wirth.

Dehano Müller sê dit is vir hom lekker om sy verbeelding te kon gebruik oor wat hulle moes teken.

Adalynn Watkins glo ook meer van haar maats moet deelneem. “Dit is goed wat ons nie in kuns by die skool leer nie, so al my maatjies moet kom dat ʼn mens saam kan leer.”

Die datum van die volgende program sal later aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.