Kweek gesonde eetgewoontes tydens swangerskap

(Argieffoto)

Goeie eetgewoontes tydens swangerskap is nie net goed vir die baba nie, maar ook vir die ma. Geregistreerde dieetkundige Omy Naidoo, van Newtricion Wellness, sê die ou gesegde dat swanger vroue vir twee eet, is nie eintlik waar nie, omdat die kilojoule- (kJ-)inname slegs met ʼn klein bietjie toeneem.

Naidoo sê swanger vroue se kJ-innamevereistes neem slegs met sowat 1 250 kJ toe. Dit beteken ʼn ekstra halwe koppie ontbytpap met melk en ʼn piesang.

“ʼn Mens moet versigtig wees om jou nie te ooreet nie, omdat dit skadelik kan wees vir ma én baba. Swangerskap-diabetes is aan die toeneem en dit is weens ongesonde eetgewoontes voor en gedurende swangerskap.”

Dit is wel baie belangrik in swangerskap om na die voedingswaarde in jou kos te kyk om seker te maak jy neem genoeg nutriënte in.

ʼn 2019-studie in KwaZulu-Natal het getoon dat swanger vroue minder as 50% van die vereiste voedingswaarde tydens swangerskap inneem. Hierdie vroue het ook byna die helfte van die voorgestelde daaglikse groente en vrugte ingeneem.

Kommerwekkende statistieke was dat sowat een in elke twee vroue as vetsugtig geklassifiseer is, wat die swangerskap ʼn hoër risiko van komplikasies gee.

“Wat jy tydens swangerskap eet, is uiters belangrik vir ʼn gesonde baba en navorsing toon gesonde eetgewoontes tydens swangerskap kan daartoe lei dat jou baba later minder kroniese siektes as volwassene sal hê.”

Hier is ʼn paar wenke vir gesonde eetgewoontes tydens swangerskap:

  • Eet ʼn verskeidenheid van kosse.
  • Stel gebalanseerde borde kos saam. Die helfte van jou bord moet groente wees, ʼn kwart daarvan stysel en die ander kwart proteïen.
  • Hou jou kos veilig deur groente en vrugte goed te was en vleis behoorlik gaar te maak voor jy dit eet.
  • Wees bedag op wat jy drink – water is altyd die beste keuse.
  • Drink slegs een koppie (300 ml) koffie per dag.
  • Groen en swart tee moet liefs vermy of streng beperk word omdat dit die absorpsie van vitamiene soos foliensuur kan vertraag. Drink eerder rooibostee.
  • Moenie alkohol drink nie.
  • Kies gesonde vette soos in neute, avokado’s, sade, sonneblomolie en olyfolie.
  • ʼn Dieet met ʼn hoëveselinhoud word hoogs aanbeveel. Eet dus baie heelgrane soos bruinbrood, boontjies, ertjies, lensies, vrugte en groente.

Eet jou vitamiene

  • Foliensuur help om geboorte-afwykings te voorkom. Jy kan foliensuur inneem in groen blaargroentes soos spinasie, sitrusvrugte, grane en peulgewasse.
  • ʼn Ystertekort is baie algemeen in swangerskappe. Yster is belangrik om seker te maak jou liggaam vervoer suurstof na die fetus toe. Goeie bronne van yster is hoender, vis en groen blaargroentes. Die absorpsie van yster kan verbeter word deur ook kosse te eet wat hoog is in vitamien C soos sitrusvrugte, aarbeie en tamaties.
  • Kalsium is belangrik vir die ontwikkeling van sterk bene en tande in die fetus. Goeie bronne hiervan is suiwelprodukte, groen blaargroentes, brokkoli, salm (wat goed gaar gemaak is) en sardyne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.