Kweek gesonde waardes by jou kind

kinders

Foto: Argief.

[promosie-artikel]

Prof Rita Niemann

“Maar almal doen dit!” Woorde soos dié laat ouers dikwels nadink oor die invloed wat hul persoonlike waardestelsels op hul kinders het, en of kinders makliker die waardes en norme van die sosiale massa aanvaar.

As ouers het jou norme en waardes vanselfsprekend ’n invloed op jou kinders se denke en waardes – dit is tog jou plig as ouer om jou kind toe te rus om krities te dink en ondersoekend na dinge te kyk, eerder as om sekere sosiale gebruike net eenvoudig te aanvaar of te verwerp. Dit is egter belangrik dat jy nie jou sieninge op jou kind afdwing nie.

Onthou, kinders is sosiale wesens wat ’n behoefte het om aan ’n groep te behoort en belangrik te voel. Hierdie behoefte kan lei tot die uitleef van waardes wat nie noodwendig met jou, as ouer, se waardes ooreenstem nie. Daar is egter baie wat jy kan doen om van kleins af ’n gesonde waardestelsel by jou kind te kweek.

  • Konfronteer jou kind met sekere komplekse kwessies en laat hom dan toe om sy eie opinie te vorm. Kinders moet geleer word om hulle besluite op geloofsbeginsels, gevolge en verantwoordelikhede te skoei. Gebruik alledaagse gebeure om jou kind “oefening” te gee om waarde-oordele te vel.
  • Deel jou ervarings met jou kind. Verduidelik waar jy die regte besluite geneem het en waar jy verkeerd was. As ouer moet jy ook om verskoning vra wanneer jy verkeerd opgetree het.
  • Hou jou kind verantwoordelik vir verkeerde besluite. Moet ook nie toelaat dat jou kind nie sy verantwoordelikhede nakom nie – al is dit ’n eenvoudige takie soos om die troeteldiere kos te gee.
  • Kweek Christelike beginsels by jou kind deur self daardie beginsels uit te leef. Daar is ’n wysheid wat sê: “Kinders doen nie soos jy sê nie, hulle doen soos jy ” Wees dus ’n positiewe rolmodel vir jou kind.
  • Betrek jou kind by gesonde aktiwiteite. Laat jou kind toe om deel te neem aan gesonde sosiale aktiwiteite en moedig welwillendheidswerk aan.
  • Prys jou kind wanneer hy reg optree.

Dit bly jou, as ouer, se verantwoordelikheid om ’n selfstandige, denkende kind met ’n gesonde waardestelsel groot te maak sodat hy homself met verantwoordelikheid in die gemeenskap sal kan handhaaf.

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.