Kweek ’n liefde vir lees by jou sewejarige

Argieffoto (Foto: Jonathan Borb/Unsplash)

Deur Almaret du Toit

Die vermoë om met begrip te lees is een van die mees fundamentele vaardighede wat ʼn kind gedurende sy skooljare moet ontwikkel. Nie alleen gee dit leerders toegang tot kennis nie, maar dit stel hulle in staat om sin te maak van die wêreld rondom hulle. Dit stel hulle ook in staat om doelgerigte aksie te neem om ʼn beter wêreld te skep.

Terwyl leerders in die grondslagfase moet leer om te lees, gebruik leerders in die intermediêre fase lees om te leer. Alle toekomstige leer sal afhang van leerders se vermoë om met begrip te lees. Verder sal hierdie vaardigheid om met begrip te lees, leerders in staat stel om sinvol met die wêreld waarin hul leef te kommunikeer. ʼn Leerder se leesvaardighede speel daarom ʼn kritieke rol in die bereiking van sukses op skoolvlak. Nie alleen stel dit leerders in staat om die volle omvang van die kurrikulum te verstaan nie, maar verbeter dit ook leerders se kommunikasie- en taalvaardighede.

Die ontwikkeling van leesvaardighede begin deur eerstens ʼn liefde vir lees by die kind te kweek. Lees moet pret wees. Lees prikkel die verbeelding en help die kind om te ontvlug na nuwe wêrelde. Deur te lees ontwikkel die leerder nuwe woordeskat wat weer in sy mondelinge praatvaardigheid asook skryfvaardigheid van waarde kan wees.

Ons leef tans in die 21ste eeu. Hierdie era waarin ons onsself bevind vereis dat ons nuwe leespraktyke benodig. Ons gebruik byvoorbeeld lees wanneer ons op sosiale media soos Instagram, WhatsApp en Facebook inskrywings wil lees. Ons lees die weer op ons selfone deur middel van grafieke en kaarte. Hierdie vereis dus ʼn nuwe manier van lees aangesien tekste multi-modaal is. Terwyl klank, beelde, video’s en woorde doelgerig verbind is om met die leser te kommunikeer in ʼn digitale wêreld, benodig ons steeds dieselfde leesvaardighede om die teks te kan dekodeer. Dit is daarom meer as ooit noodsaaklik dat ons ons leerders in alle fases van hul skoolloopbaan moet ondersteun om hulle in staat te stel om op gepaste vlakke van vlotheid, akkuraatheid en begrip te kan lees.

Ouers kan ʼn integrale rol speel om ʼn liefde vir lees te kweek by kinders en sodoende ʼn bydrae te maak om kinders se leesvaardighede te help ontwikkel. Ouers moet dus van kleins af vir hulle kinders lees. So raak lees “lekker” en ontwikkel die kind woordeskat. Navorsing het gevind dat, indien ʼn kind voor die ouderdom van ses jaar aan ʼn duisend boeke blootgestel is, so ʼn kind nooit sal sukkel op skool nie. Dit is dus uiters belangrik dat ons as ouers ons kind aan stories blootstel vanaf ʼn jong ouderdom. Waar boeke nie geredelik in ʼn huishouding beskikbaar is nie, kan daar van biblioteekdienste gebruik gemaak word. Deur toegang tot boeke moontlik te maak, kan ʼn leeskultuur in skole en huise geskep word. Deur verder seker te maak dat ons onderwysers goed toegerus is om lees te onderrig en ons leerder se leesontwikkeling stap vir stap te help ontwikkel, kan ons ʼn positiewe verandering teweeg bring in die leesvlakke van ons kinders in Suid-Afrika. Ons kinders verdien niks minder as dit nie!

  • Almaret is die hoof onderwysspesialis van die Wes-Kaap se onderwysdepartement en ʼn mede-opsteller van Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se ‘Leesgids vir ʼn gestruktureerde leesstrategie’ wat in Mei vanjaar vrygestel is. Die Leesgids is op bestelling beskikbaar en word vergesel met ʼn aanvullende aanlyn ‘Leeshandleiding’.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karoo ·

As ‘n kind lief is vir lees, as jy die wereld met boeke kan oopsluit, sal die kind lief wees vir leer en sal hy/sy’ n baie beter kaans op sukses he.

Ann ·

As alle ouers (en onderwysers) die kinders blootstel aan boeke van ‘n jong ouderdom af, sal hulle beter kan lees, spel en leer. Dis ‘n feit.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.