Kweek ons ’n kluisenaargenerasie?

(Foto: Mirkosajkov/Pixabay)

Die alarmklokke lui reeds lankal oor die menslike reaksie op die uitgerekte afsonderingstydperk.

Kenners bespiegel oor die lang termyn sielkundige uitwerkings wat ons te wagte kan wees. Maar, wie weet wat hierdie generasie, veral die jongeres, met hulle gaan saamneem in wat nou ʼn onseker toekoms blyk te wees?

Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos, sê een van die moontlike resultate, wat nog nie wyd bespreek is nie, is dat ons ʼn generasie kweek wat meer op aanlyn kontak steun as om van aangesig tot aangesig met mekaar te wees: jongmense met ʼn soort onthouer of kluisenaarpersoonlikheid.

“Ons maatskaplike werkers was in 2020 besiger as ooit, met ondersteuning vir ʼn groot verskeidenheid probleme. Gedragspatrone soos hierdie sal eers veel later manifesteer, wanneer hierdie kinders volwassenheid bereik, en daar sal dan teruggewys kan word na die pandemie as een van die oorsake.”

ʼn Persoon met vermydende gedrag word gekenmerk deur ʼn konsekwente patroon van sosiale inhibisie, wat manifesteer deur weg te skram van kontaksituasies – in die werkplek of op sosiale vlak – as gevolg van vrees vir verwerping, kritiek of teenstand.

Van der Merwe sê die nagevolge sal eers later duidelik word, omdat mense wat in isolasie is, nie die vaardighede aanleer om alledaagse situasies die hoof te bied nie. Hul sal geneig wees om te onttrek en geïnhibeerd te wees in alle omstandighede, oorsensitief wees vir kritiek, van menslike kontak wegskram en ʼn lae selfbeeld hê.

“Baie meer behoort gedoen te word om hierdie moontlike effekte reeds nou te identifiseer en werk te maak daarvan. Onderwysers, veral, kan ʼn bepalende rol speel ten opsigte van invloed. Ons moet daarop let dat wat ons vandag sê, in die toekoms in reik en sielkundige nagevolge het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.