Laerskool Constantiapark: Welkom in die Rooikat-paradys!

Dis hóé Laerskool Constantiapark die wát doen! 

Laerskool Constantiapark in Pretoria vier vanjaar ʼn vrolike, fabelagtige en verruklike 44ste bestaansjaar! Die RooiKatte en RooiSkatte stap vir meer as vier dekades ʼn pionierspad van uitnodigende onderwys. Hier is die hartklop en trots van elke onderwyser dat daar daagliks in elke klaskamer entoesiasme gekweek en gekoester word met hoe hulle die wat aanpak. Hier voel elke kind welkom en hulle kom leergierig skool toe om leeravonture met groot waagmoed en selfvertroue aan te pak. Die Rooikatte van Laerskool Constantiapark huppel skool toe en die borrelende energie van elke RooiKat en RooiSkat, van graad RR tot graad 7, is aanvoelbaar oral op die terrein.

Besoekers word gereeld betower deur Laerskool Constantiapark se leerlinge wat hulle vrolik en met breë glimlagte groet terwyl een en elkeen vibreer met ʼn eie vrolike ritme en is iewers besig met aksie, want Rooikatte hou van roer! Hier voel een en elkeen uniek, gekoester en geliefd! Die geheim agter die vrolike vonkeloë en breë glimlagte is legio geleenthede om te kan verken, te ontdek, te waag en uiteindelik dat elkeen ʼn eie wonderwêreld binne die veiligheid van ʼn skoolterrein kan bou!

Laerskool Constantiapark volg die voorgeskrewe kurrikulum, maar verruim leerlinge se wêreld met verrykingsgeleenthede wat in die skoolrooster ingebou is, so leer ons graad R- tot 3-leerlinge skaak speel en Zoeloe praat. Alle Rooikatte ontwikkel deur kuns en musiek analitiese en laterale denke wat weer Wiskunde-denke verryk, vorm en ondersteun. Die skool se vier moderne rekenaarsentrums word die plek waar ons rekenaarvaardigheid, kodering, Wiskunde-verrryking en leesprogramme aanvullend tot elke dag se voorgeskrewe kurrikulum inwerk. Die skool het ook kleinklas-Wiskunde-onderrig (met 15 leerlinge in ʼn klas) en ʼn Rooikat-Wiskunde-sentrum vir graad R- tot 7-leerlinge wat in die middae saam met die Sentrum van die Kunste ekstra ontwikkelingsgeleenthede bied aan leerlinge. ʼn Ondersteuningsentrum is die veilige vangnet vir daar waar uitdagings ʼn kundige se toetrede vra.

Leiers by Laerskool Constantiapark (Foto verskaf)

Elke klas het internettoegang, dataprojektors en visualiseerders wat ons klasse in ʼn onderrig-en-leer-wonderwêreld verander. Met uitgesoekte, toegewyde en kreatiewe onderwysers word ʼn balans tussen tegnologie in die klaskamer en kinestetiese leer gevind en so word leer met elke sintuig en liggaamsdeel beleef.

Uitnemende onderrig, saam met 16 sportsoorte, vier kore, redenaars, revue, drama en heerlike kreatiewe pretdae, ontvou ʼn leefwêreld waarmee Rooikatte droom en doen en so spore gaan trap op die maan! 

Groot waar dit saak maak! 

Hóé Laerskool Constantiapark die wát doen, spel sukses, en hier volg maar enkele hoogtepunte:

  • Atletiekkampioen in hekkies en 800 m met ʼn SA-rekord (2021)
  • o.13-SA-netbalkampioene (2021) en o.12-span onder die top-10 in Suid-Afrika
  • Bloubul-kampioene (2019)
  • Nasionale Lego Robotika-wenners
  • Nasionale Afrikaans-Ekspo-wenners
  • Nasionale redenaarskampioene
  • Titan-krieketwenners
  • Super-12 sege-op-sege in atletiek, tennis, landloop en hokkie
  • Swemspan-naaswenners in liga
  • CP-seniorkoor skitter as nasionale wenners van “Sing in harmonie” en ʼn silwer medalje verwerf by die Wêreld-koorspele in 2018, deelname aan ATKV-finale en goue toekennings by streeksfinale
  • Graad R-koor verskeie jare reeds Centurionfees-wenners

Klein waar die avontuur begin! 

Laerskool Constantiapark (Foto verskaf)

Laerskool Constantiapark het ʼn eie Graad R-Sentrum met kamma-kamma skooldrag vir graad RR- en graad R-Rooikatjies asook ʼn eie Graad R-naskool by die Graad R-Sentrum. Hier is speel elke Rooikatjie se werk! Kreatiewe en liefdevolle onderwysers maak koppies, vingertjies en voetjies speel-speel sterk sodat elke skooldag ʼn avontuur bly en elke maatjie slim word sonder dat hulle vermoed die speletjie is eintlik slimword-skoolwerk. Hier word entoesiasme vir skool gekoester en aangevuur met hóé die Graad R-Sentrum die wát doen. Die graad R- en graad 1-personeel werk nou saam as ʼn span om te verseker dat die oorgang na graad 1 vlot geskied.

Die skool het ook ʼn eie Rooikat-naskool op die terrein van graad 1 af, want alles so bymekaar sorg dat Laerskool Constantiapark ʼn huis vir elkeen is totdat Rooikat-kindertjies weer saam met mamma en pappa huis moet gaan.

Staan saam, wen saam, Rooikatte!

Besoek die webwerf https://lscp.co.za vir meer inligting
Skakel 012 761 9500
Of stuur ‘n e-pos aan [email protected]

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.