Leef ons kinders in ʼn tyd van gesagskrisis?

Argieffoto (Foto: ambermb /Pixabay)

Die woord “gesag” is nie meer bekend aan baie van ons kinders nie. Die woord het ook dikwels ʼn negatiewe koppeling. Meeste kinders dink as jy praat van gesag, beteken dit ou verkrampte reëls, min vryheid, die onderdrukking van hul menseregte en die toepassing van onregverdige dissipline.

Ds Henk Stavast van die Gereformeerde Kerk Totiusdal, Pretoria, is van mening dat mense in ʼn tyd van gesagskrisis leef. Hy meen dat die gesin die eerste plek is waar kinders van gesag leer. Dit is juis hier waar die gesagskrisis volgens hom ontstaan. Hierdie krisis in gesag spoel dan oor na verskeie ander kringe soos die skool en werksplek. Ons hoor al hoe meer onderwysers ervaar ʼn gesagskrisis in hul klaskamers. Kinders is ongehoorsaam en aanvaar nie die gesag van die onderwyser nie. Ouers wakker dikwels die kind se negatiewe gedrag aan, deur die onderwyser voor die kind te bespreek en ontneem so die gesag van die onderwyser verder. Dit kan later so eskaleer dat treine aan die brand gesteek word, omdat dit nie betyds is nie.

Ontkenning van gesag kom egter al van Adam en Eva se tyd voor. Adam en Eva was in ʼn stryd teen gesag en wou self in beheer wees. Ds. Henk noem dat geen mens uit sy eie wil hê dat iemand oor hom seggenskap moet hê nie. Daarom het God aan ons die vyfde gebod gegee, naamlik eer jou vader en jou moeder. Die Here leer ons as die gebod oortree word, lei dit tot chaos. As daar nie gesag is nie, is daar nie orde nie en is daar ook nie respek vir ander nie. Só verval verhoudings waarin God ons gestel het.

Uit hierdie boodskap van ds. Henk lei ek af dat gesag dus nie ʼn losstaande verpligting is wat eenvoudig net deur kinders toegepas moet word nie. Ek hoor dat gesag veel meer as ʼn verpligting is. Gesag geskied binne ʼn verhouding. Gesag vind binne liefde plaas. Gesag sonder liefde is harteloos.

Ons as ouers moet dus eerstens aan hierdie verhouding met ons kinders werk, deur hulle op te bou, te versorg en orde binne die gesin te handhaaf. Ouers moet liefde straal. As die kind hierdie ouer-en-kind-verhouding positief ervaar, is dit vir hulle maklik om die gesag ook te aanvaar. So leer ons dan die kind om later ʼn positiewe verhouding met sy onderwysers te vestig en so hul gesag te aanvaar.

Ds. Henk gaan verder en vertel dat geen ouer volmaak is nie en so ook geen kind nie. Dit is daarom belangrik dat ons ons kinders se foute en ons eie op ʼn eervolle wyse hanteer en regstel. Daarmee bedoel hy dat ons nie ons kinders onteer deur hulle af te kraak, te verneder of verdere woede te ontlok nie.

Ons as ouers moet vir ons kinders deur ons eie optredes leer hoe om gesag te aanvaar en positief daarmee te handel. Gesag is daar gestel om ons te beskerm, te lei sodat ons die goeie in die lewe kan geniet. Ons is immers ons kinders se eerste gesagsfigure hier op aarde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maria ·

ASB!! Ek self n moeder met 2kinders. ASB! lees hierdie stuk …weet julle dink kinders is okey maar nee …..omdat ons as ouers nooit tyd maak met kinders as gesels nie(wat kinders dink en voel nie wat hulle koppe en harte is nie) asook dink gaan nie met jou kinders oorkom of gebeur nie . As die Tyd kinders by tiener kom dit hel los grys hare tyd. Baie kinders het DEPRESSIE !!! Voor te laat is…..asb!

ChrisE ·

Ek stem saam. Ek blameer egter die ouers vir die “krisis” waarin kinders hulself bevind. Die ou spreekwoord geld nog steeds. Kyk na die kind en weet uit watter huis hy uitkom. Die kind verteenwoordig sy gesin, ouers opvoeding en omstandighede. Die ouers is afwesig. Wanneer hulle egter tyd maak vir die kinders oorkompenseer hulle en maak toegewings waarop die kinders naderhand aandring. Klein kinders het roetine en grense nodig. Dit skep sekerheid. Ouer kinders moet grense hê en daarbinne leef. Respek word nie deur die ouer afgedwing nie, die ouer stel ‘n voorbeeld en die kind streef daarna. Ongelukkig is daar nie handleidings nie. Elke kind is anders.

John ·

Waar is die handleiding vir die ouers of opvoeders? Hoe verduidelik mens aan ‘n kind waar hy so of so fouteer en waarom hy respek moet hè vir sy meerderes of is die Human Rights-manifes van die Black Power Movement, nogal met ‘n dominee as voorbok, die ware jakob? Ons dominee preek mooi… maar waar is die Bybel in die verhaal of is die storie van Adam en Eva ‘n mitiese verhaal… of ‘n soort Jan en die boontjierank-gelukbringer-toorstorie. Die Bybel bevat die Hemelvader se woorde oor mensgemaakte gelowe en gode en hoe dit verdraai kan word om die gebruiker te pas… Lees Jesaja 44-46. Sonder geloof en vrees in en vir die Skepper is alle opvoeding tevergeefs.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.