Wie van ons was op die GU (gelduniversiteit)? Ek weet nie van jou nie, maar ek was nie. Waar leer ons dus van geld? Die meeste mense leer op die harde manier, soos wat hulle deur die lewe gaan. Ek het nie spesifieke statistieke nie, maar ek is bereid om geld te verwed dat geldsake vir die meeste mense ʼn bron van angs is!
Hierdie noodsaaklike beginsels kan jou help om jou kind al van jongs af te leer hoe om met geld te werk.
Leer eers self
Vind soveel uit van finansies en finansiële beplanning as wat jy kan. Toegepaste kennis is kragtig. Daar is talle goeie boeke beskikbaar oor die onderwerp en baie inligting op die internet.
Wees ʼn goeie voorbeeld
Kinders kyk na wat jy doen en wat jou gesindheid teenoor geld is. Hulle doen dit die hele tyd!
Leer hulle van ʼn baie jong ouderdom af
Kinders leer vinnig en sal al basiese geldlesse op kleuterstadium begin verstaan.
Leer hulle om emosies uit geldbesluite uit te hou
Emosies is waarskynlik die grootste vyand van verstandige finansiële besluite.
Verduidelik wat die verskil tussen ʼn behoefte en ʼn luukse is.
Maatskappye is baie goed met hul bemarking tot op die punt waar hulle ons kinders laat glo dat ʼn hulle ʼn spesifieke item eenvoudig móét hê.
Bring pret in
Geld hoef nie met vrees of angs geassosieer te word nie. As kinders dit geniet om oor geld te leer sal die lesse meer blywend wees.
Ouderdom 3 tot 6
Gee aan hulle ʼn bedrag sakgeld en vra uit oor wat hulle daarmee gedoen het. Leer hulle die basiese beginsels van beplanning en om nie alles op een slag uit te gee nie.
Leer hulle om te spaar
Moedig hulle aan om geld te spaar vir iets wat hulle graag wil hê.
Ouderdom 7 tot 12
Leer hulle meer van beginsels soos wat ʼn begroting is, hoe ʼn bank werk en ander aspekte van geld. Verduidelik wat geld is.
Hef rente op geld wat jou kinders by jou leen
Verduidelik vir hulle wat rente is en hoe dit werk en ook die basiese beginsels van skuld.
Ouderdom 13 tot 18
Gedurende hierdie fase kan jy heelwat kennis oordra:
- Wat langtermyn- en korttermynversekering is.
- Hoe ʼn bankrekening werk. Open ʼn rekening vir hulle en gaan maandeliks saam met hulle deur die state.
- Verduidelik vir hulle wat ʼn belegging is en laat hulle toe om in ʼn gepaste produk te begin belê.
- Leer hulle meer van skuld en verduidelik wat goeie en slegte skuld is.
- Verduidelik wat ʼn mediese fonds is.
- Bespreek basiese ekonomiese beginsels soos die wisselkoers, inflasie, groei ensovoorts.
Beloon hulle vir take verrig
Jy hoef hulle nie te betaal vir alle huistake nie. Maar deur hulle te betaal vir ʼn spesifieke taak leer jy hulle van die verband tussen werk en inkomste.
Eerste tree is seker om eers te leer tel. 1, 2, 3, 4, 5, 3 ,4……? ;-)
Dagsê Kiepie
Baie dankie dat jy die fout uitgewys het, dit is nou reggestel.
Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media
Dankie vir die goeie raad, ek hoop alle ouers het dit gelees want die nuwe generasie gaan baie geldwys moet wees.