Leerders moet meer verantwoordelikheid vir hul eie leer neem

André Badenhorst is ‘n navorser verbonde aan die Wolkskool. (Foto: Verskaf.)

Deur André Badenhorst

Die wêreld het in 2020 onherroeplik verander en een van die sektore wat die meeste geraak word, is die onderwys. Byna oornag het daar groot verandering plaasgevind in die manier waarop skole klas gee deur aanlynonderrig te begin gebruik. So ontwrigtend as wat hierdie verandering is, bied dit die geleentheid om kritieke vaardighede by leerders te ontwikkel wat tot op hede selde die geval was.

Onder opvoedkundiges en verskeie wêreldorganisasies is daar konsensus dat die industrie van die 21ste eeu vier kernvaardighede nodig het, te wete kritiese denke, kreatiwiteit, samewerking en kommunikasie. Alhoewel Afrikaanse skole uitstekende resultate toon as dit kom by dieper denke, is daar steeds baie ruimte vir die verbetering van leerderverantwoordelikheid en outentieke leer. Dit is die bevinding van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se jongste navorsingstudie oor vernuwende onderwys.

Volgens die 818 deelnemers van 463 skole kry leerders uitstekende blootstelling aan vakspesifieke vaardighede en houdings (domeinkennis: 96%), belangrike temas en konsepte (dieper leer: 94%), die kognitiewe belyning met standaarde en leerdoelwitte (94%) asook kritiese en analitiese denke (81%), geleenthede om na te dink oor beplanning, werk en vordering (metakognisie: 80%) asook geleenthede om te skep of hul unieke bydrae te lewer (kreatiwiteit: 79%).

Die vier skuiwe protokol. (Grafika: SOS/Die Wolkskool.)

Daarteenoor kry leerders min geleentheid om ’n keuse uit te oefen oor die tegnologie wat hulle kan gebruik (40%), min inspraak in die wyse waarop hul kennis en vaardighede geassesseer word (25%), min geleentheid om met behulp van tegnologie saam met ander leerders te werk (20%) asook min geleenthede om oor die leerinhoud te besluit (20%). Hierdie tekort het ʼn duidelik invloed op leerders se vermoë om die vier kernvaardighede wat nodig is vir die 21ste eeu, aan te leer. Hierdie leemte kan egter daadwerklik deur tegnologie opgelos word.

Die SOS raai skole dus aan om van gebruikersvriendelike en geredelik beskikbare tegnologie gebruik te maak om struikelblokke wat deur die inwerkingstelling van vernuwende onderrig mag ontstaan, te help oorkom. Tegnologie bied ruimte vir ingryping waar kennis en begrippe tekort skiet deurdat leerders op hul eie tyd weer deur die werk kan gaan. Nie net word leerders aangemoedig om toenemend selfgerig te leer nie, maar tegnologie wakker ook kreatiwiteit aan deurdat ʼn wye verskeidenheid opsies beskikbaar is vir leerders om hul kennis ten toon te stel. Laastens gee tegnologie geleenthede vir leerders om saam te werk aan komplekse, aktuele probleme.

Onderwysers en skole moet leerders in ʼn toenemende mate blootstel aan aktuele kwessies soos die bewaring van die omgewing, sosiale neigings en die etiek rondom kunsmatige intelligensie, maar ook die bewaring van die eie.

So kan leerders die geleentheid kry om eties om te gaan met tegnologie om hul belangstelling en karakter daardeur te ontwikkel, en ook erkenning te gee aan hul eie en ander se kulturele identiteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Die uitwerking van die virus, terwyl dramatiese skuiwe op onderwysvlak plaasvind, is stresvol vir kinders. Daarmee saam kon hul tot nou toe vir maande nie eens met maats/vriende sosiaal verkeer nie. Die nuwe e-leer plaas erge druk op diegene wat die sisteem en rekenaars vir die meerderheid leerders en studente in orde moet hou; baie veeleisende druk en blaam vir eie agterlosigheid hetsy laksheid word op die skouers van ander geplaas. Diè ruimte-splitsings strompel deur dorings en dissels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.