Leerprobleme: Skoolgereedheid

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

In September is skoolgereedheid, of eerder leergereedheid, soos dit deesdae bekend staan, aan die orde van die dag. Maar waarom sou skoolgereedheid, of eerder dan gereedheid om te leer, ’n “leerprobleem” kan inhou of selfs ’n leerprobleem kan veroorsaak?

Kom ons kyk na aspekte wat ’n rol speel in ’n kind se gereedheid om te leer:

’n Kind is skoolpligtig in die jaar waarin hy sewe word. Om leergereed te wees moet die kind in geheel gereed wees vir die leerproses. Dít behels al die verskillende terreine van sy ontwikkeling, naamlik:

  • emosioneel;
  • sosiaal;
  • intellektueel (verstandelik), byvoorbeeld perseptuele ontwikkeling, motoriese ontwikkeling, taalontwikkeling en konsentrasievermoë;
  • fisiek;
  • kreatief (impliseer dat die kind iets kan ontdek wat nuut is vir hom of haar).

Bogenoemde aspekte (wat nie bemeester is nie) en/of ’n kombinasie daarvan sal uiteindelik bepaal of die kind leerprobleme gaan hê of nie. Daarom is dit belangrik dat jy, as ouer, moet verstaan wat hierdie vyf aspekte behels ten einde jou kind leergereed te maak en/of hom of haar te kan ondersteun om leergereed te word vir graad 1.

  • Om emosioneel en sosiaal leergereed te wees behels onder meer:

Die klein kind beweeg van sy egosentriese denke waar net hy belangrik is en leer om met ander kinders saam te werk, om konflik tussen hom en ’n maat te hanteer (ja, hy moet deur jou as ouer gelei word om sy konflik self te hanteer en jy moet dit nie vir hom oplos nie), sy beurt af te wag, ensovoorts. ’n Goeie selfbeeld is sekerlik die grootste geskenk wat jy jou kind kan gee. ’n Kind wat selfvertroue het en in homself glo, is meer leergereed as ’n kind wat twyfel in homself. ’n Kind se selfbeeld word eerstens deur sy ouers bepaal en later ook deur sy onderwyseres en maats. Jou kind se uithouvermoë en deursettingsvermoë speel ook ’n belangrike rol in sy emosionele ontwikkeling.

  • Intellektuele (verstandelike gereedheid) sluit onder meer die volgende in:
  • Persepsie (die brein se vermoë om inligting wat die sintuie na die brein toe stuur, te verstaan). Persepsie bestaan uit twee dele, naamlik visuele en ouditiewe persepsie.
  • Visuele persepsie is wanneer die oë en brein saamwerk, sodat ’n kind kan leer skryf, spel, lees en somme doen (byvoorbeeld om na prente te kyk en klein verskille daartussen te kan waarneem; om ’n voorwerp in jou gedagtes te draai, sodat dit soos ’n gegewe voorwerp lyk; om dit wat jy sien te onthou, ensovoorts).
  • Ouditiewe persepsie is wanneer die ore en brein saamwerk, sodat ’n kind kan leer skryf, spel, lees en somme doen (byvoorbeeld om na twee sinne te luister en dit presies so te herhaal; om opdragte korrek uit te voer; om ’n onvoltooide woord te kan voltooi soos appel in plaas van appe_).
  • Sintuiglike vaardighede beteken dat die jong kind al sy sintuie gebruik om sy eie binnewêreld, sowel as die wêreld rondom homself te leer ken. Al die kind se sintuie (sien, hoor, ruik, aanraak en proe) moet dus goed ontwikkel wees.
  • Gestalt-waarneming is die waarneming van ’n bepaalde beeld en die vermoë om daardie beeld so akkuraat moontlik na te teken.
  • Ruimtelike oriëntering is die vermoë om die posisie van jou liggaam in verhouding tot ander voorwerpe in die omgewing waar te neem, asook die verhouding van die voorwerpe tot mekaar (dit sluit begrippe in soos voor/agter; langs, tussen; voor/na; links/regs; groter/kleiner; hoog/laag, ensovoorts.
  • Lateraliteit is die vermoë om te onderskei tussen jou lyf se linker- en regterkante.
  • Motoriese ontwikkeling
  • Grofmotoriese ontwikkeling is die ontwikkeling van die grootspierbewegings van die liggaam (byvoorbeeld baloefeninge, sterspronge, ritmiese bewegings soos huppel en galop, eenbeen- spronge, ensovoorts).
  • Fynmotoriese ontwikkeling is die ontwikkeling van die fynspierbewegings van die liggaam (knipwerk, voltooiing van doolhof-prente – sonder om aan die kante te raak en bo-oor die lyne te gaan, “pick up sticks”, ensovoorts).
  • Taalontwikkeling het onder meer ten doel dat die klein kind kan leer om na ander te luister en hulle te verstaan, hom duidelik in woorde uit te druk en te kan dink en redeneer.
  • Konsentrasievermoë behels dat die kind by skooltoetrede sy aandag kan rig en dat hy kan fokus (vir ongeveer 10 minute).
  • Fisieke ontwikkeling: ’n Gesonde kind het meer energie en is meestal meer leergereed as ’n siek kind.
  • Om kreatief te wees impliseer dat die kind iets kan ontdek wat nuut is vir hom en met nuwe idees vorendag kan kom om die verhouding tussen dinge te kan raaksien.

’n Klein kind is altyd gereed om te leer. Dit is dus eerstens die rol van jou as ouer en later steeds jy as ouer sowel as jou kind se onderwyser wat toepaslike geleenthede vir jou kind moet skep om hom sodoende te ondersteun om leergereed te word.

Wanneer jy bekommerd is oor jou kind se leergereedheid, kan jy by ’n opvoedkundige sielkundige aanklop. Hy of sy sal jou kind kan assesseer, indien nodig, om te bepaal of/en indien daar wel aspekte is waaraan aandag gegee moet word. Die opvoedkundige sielkundige sal ook die nodige verwysings na ander spesialiste en/of terapeute kan maak, soos ’n arbeidsterapeut, pediatriese oogkundige, spraakterapeut, oudioloog, neuroloog, ensovoorts.

Bronverwysings

Davin, R. en Van Staden, C. The Reception Year: Learning through play. 2005. Kaapstad: CTP Book Printers.

Besoek gerus dr. Marisa van Niekerk se webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.