Leerstyle is só laasjaar!

(Foto: Annie Spratt/Unsplash

Deur Johan Koekemoer

Dit is ’n koue Maandagaand en die eerste oueraand ná inperking by ’n gesogte laerskool in die ooste van Pretoria. Marie-Claire du Toit se mamma, Anastasia, arriveer by die skool. Sy het nog haar Lorna-Jane oefenklere aan en lyk ontsteld. Diamond, haar ingevoerde miniatuur-yorkie, sit soet in haar handsak (sy het pas ’n stukkie beeshaas gesluk).

Marie-Claire het net 85% vir Wiskunde. Dit is 3% minder as Petronel – wat ook op Dinsdae haar hare doen by Gary Rom – se dogter. Anastasia het reeds ál die redes geïdentifiseer hoekom Marie-Claire nie na wense presteer nie. Sy het Marie-Clair ’n paar vrae laat antwoord op ’n leerstyltoets wat sy op Facebook gesien het en dié het getoon dat Marie-Claire ’n kinestetiese leerder is. Dit beteken dat Marie-Claire beter leer as sy beweeg. Die inperking het egter veroorsaak dat Marie-Claire via aanlyn platforms haar Wiskunde-inhoud moes bemeester. Volgens Anastasia spreek die aanlyn leeralternatiewe nie tot haar kind se leerstyl nie en dus het Marie-Claire se punte geval. Anastasia wil by juffrou Stiena hoor hoe juffrou Stiena nou in Marie-Claire se behoeftes gaan voorsien.

Juffrou Stiena het met aandag geluister en kort-kort vir Marie-Claire geglimlag terwyl sy skaam agter haar ma wegkruip. Sy weet dit was nie Marie-Claire se idee nie. Sy weet Marie-Claire presteer lankal bokant haar natuurlike vermoë omrede sy so hard werk ten spyte van die ongesonde druk wat haar ma op haar plaas. In die klas is Marie-Claire stil, maar sy vra as sy sukkel en haar huiswerk is altyd gedoen. Juffrou Stiena weet dis eintlik mamma Anastasia wat hulp nodig het. Hoe gaan sy dit doen sonder om venynig te wees? Sy haal diep asem en begin:

“Gisteraand was ek by ’n webinaar wat die Skoleondersteuningsentrum (sien skakel hier) aangebied het. Die webinaar is gelei deur ʼn internasionale kenner wat al meer as 75 akademiese artikels gepubliseer het in die domein van opvoedkunde. Die aanbieder beweer dat leerstyle ’n mite is en dat daar geen wetenskaplike bewyse is wat die teorie ondersteun nie. Leerstyle is in die 1970’s laas werklik ernstig opgeneem en mense wat daarin glo, werklik te min lees.”

Juffrou Stiena noem dat sy as professionele onderwyser haar leerders aan inhoud bekendstel deur middel van ’n verskeidenheid onderrigstrategieë. Sy maak seker dat elke leerder die inhoud van alle kante af (wat ook hul eie manier van verstaan insluit) bestudeer. Sy noem dat haar leerders aktief betrokke is by die leerproses en dat sy nie vir ’n kind iets kan leer nie, maar dat sy vir elke kind die ruimte skep sodat hulle dit self kan leer.

Mamma Anastasia is stom. Sy was gereed vir ’n geveg; nie vir ’n lewensles nie. Sy sluk haar trots en vra vir juffrou Stiena: “Nou wat kan ek as mamma doen vir Marie-Claire?”

Juffrou Stiena antwoord met ’n merkwaardige hoeveelheid selfvertroue dat sy die volgende kan doen:

  1. Vertrou die onderwyser om as opvoedkundige op te tree en bou jou kind om in die onderwyser te glo;
  2. Moet nooit kinders se werk vir hulle doen nie, al lyk dit of hulle sukkel. Staan by hulle as hulle sukkel en gee hulle ’n drukkie as hulle sukkel, maar moet hulle nie ontneem van die geleentheid om produktief te sukkel nie. Dít kweek karakter; en
  3. Prys inset en nie uitset nie. As jy jou kind sien werk, vertel jou kind hoe trots jy op hom of haar is, nie net wanneer hy of sy goeie punte kry nie.

Mamma Anastasia voel dom, maar sluk weer haar ego. Sy besef nou hoe baie mammas in leerstylslaggate van laasjaar trap wat wonderlike kinders soos Marie-Claire só baie benadeel.

  • Johan Koekemoer is die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se onderwysspesialis in wiskunde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Kiepie

Die skrywer het duidelik nog nooit in die werklike lewe voor ‘n “helikopter-mamma” gesit nie. Juf. Stiena sou niks verder as “werklik te min lees” gekom het nie dan was Mamma reguit na die hoof toe en Juf. Stiena op die rooi tapyt.