Liewe grondslagfase-mamma hier is wat jy moet doen

(Foto: Aaron Burden/Unsplash.)

Deur Marnelda de Beer 

“My fellow South Africans” laat my keel toetrek. Dit is nie weens die virus nie, maar weens die aankondiging: “Schools will start on 15 February.” ʼn Luide gejuig klink uit my tiener se kamer op. Die vreugde duur net oomblikke, want die besef dat hy sy maats nog later gaan sien, dring skielik tot hom deur.

Vir ʼn onderwyser is die aankondiging slegte nuus en vir ʼn grondslagfase-ouer (spesifiek ons ma’s) is dit ʼn ramp. Jou graadeen-kind wag al sedert Desember om die nuwe uitdraaikryte oop te maak. Die Pritt-buisie brand ʼn gat in die penneblik en die klei moet bevoel word. “Ek kyk net of dit nog sag is”, is die verweer.

Die groot opgewondenheid en die slapies wat afgetel word, hang soos ʼn dag oue partytjieballon aan die deur. Alles word weer weggepak en Ma se angsvlakke styg.

As ervare grondslagfase-juffrou wil ek sê: Grondslagfase-ouers kan ontspan. Dit is normaal om vrese te hê omdat die skool eers drie weke later open, maar wees gerus, jou kind is in die beste hande van die onderwysprofessie. Grondslagfase-onderwyseresse is uiters bekwaam en die meeste van hulle beskik oor jare lange ondervinding.

Hierdie onderwyseresse was reeds op 15 Desember gereed vir hulle nuwe haasbekkies. Alles in hulle klasse is gereed. Jou kind se naam is reeds op ʼn tafel, teen die verjaardagmuur, op ʼn notaboek of op ʼn roomysbak aangebring. Sy het die weke wat verlore is, herbeplan, sodat die kurrikulum volledig aangebied gaan word. Sy is ʼn spesialis op haar gebied en weet presies wat haar nou te doen staan.

Jou gr. 1-kind beleef nie angs omdat hy nie skool toe kan gaan nie. Hy ervaar teleurstelling omdat hy nie sy nuwe skooluniform kan aantrek óf sy nuwe tas kan sleep óf sy nuwe Pritt-buisie kan gebruik nie. Indien hy of sy angstig is, kan dit van jou as ouer afkomstig wees omdat jy dit onwetend op jou kinders oordra. Haal drie keer asem … as jy nog bekommerd is dat jou kind sal agterraak, kan jy die volgende dinge doen totdat die skole open:

  • Sluit by die Wolkskool aan en laat jou gr. 2-kind die gr. 1-inhoud van die laaste drie weke se Slimboeke doen. Doen ook die assesseringstaak en herroep so sy kennis van die vorige jaar. Sy nuwe juffrou sal dit baie waardeer. Doen ook dieselfde indien jy ʼn gr. 3-kind het. Hulle kan weer gr. 2 se inhoud hersien. Die Wolkskool is ʼn fantastiese platform wat die hele jaar benut kan word.
  • Nuwe gr. 1-maats moet nie nou al wegspring en gr. 1-werk aanpak nie. Dit is ʼn gespesialiseerde graad en die juffrou sal vir seker nie iets belangriks uitlaat nie. Daar is nog 187 van die 200 skooldae oor. Dit is genoeg tyd om álles te leer.
  • Lees boeke vir jou kind. Laat hulle die storie terugvertel. Let op na die volgorde van gebeure.
  • Vra watter letter hy eerste, laaste en in die middel hoor as jy ʼn drieletterwoord vra, byvoorbeeld mat.
  • Laat hy buite speel, bal skop, tou spring en bollemakiesie slaan.
  • Maats wat graad RR en R toe gaan, kan ook net speel en alles ontdek.
  • Gesels baie met jou kind. Verryk sy woordeskat en luister met aandag as hy met jou praat.

Reël ʼn Zoom-kuier met sy maats, sodat hulle kan sosialiseer. Leer hom of haar om gereeld hande te was. Maak hulle weer opgewonde om terug skool toe te gaan. Stel ʼn nuwe kalender op en tel die slapies weer af. Wees rustig in die wete dat daar ʼn Hoër Hand is wat alles vashou en alles ten goede laat meewerk.

Haal dan gerus nog drie keer diep asem.

  • Marnelda de Beer is die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se onderwysspesialis by die Afrikaanse Grondslagfase-vereniging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.