Lughawens is storiefabrieke, veral vir die wat agterbly

(Argieffoto: Unsplash)

Deur dr. Sulette Ferreira

In die Suid-Afrikaanse emigrasieverhaal figureer lughawens as storiefabrieke – veral vir dié wat agterbly. Ouers wat in Suid-Afrika agterbly ná hulle kinders geëmigreer het, ervaar gemengde emosies. Ons vermy afskeid van geliefdes en wil dikwels nie oor die afskeidsproses praat nie. Hoe gemaak om die slaggate van komplekse rou te voorkom?

ʼn Ouer vertel: “Ek het iewers gelees lughawens is storiefabrieke, waar mense kyk hoe hul geliefdes verder en verder van hulle af wegstap totdat hulle buite sig verdwyn. Vandag is dit my beurt. Jy met jou rugsak vol drome op pad na ʼn ander kontinent, en ek wat met my herinneringe agterbly, om jou te groet, en nie te weet wanneer ek jou weer gaan sien nie. Ek wou ’n wit-en-rooi pleister op my hart plak wat lui: Breekbaar, hanteer asseblief baie versigtig.”

Van al die veranderinge en uitdagings wat mense deur die loop van hul lewens moet hanteer, is min so verreikend en kompleks soos wanneer geliefdes emigreer. Emigrasie is nie ʼn nuwe of unieke verskynsel nie. Drie en ʼn half persent (3,5%) van die wêreldbevolking woon tans buite die grense van die land waarin hulle gebore is. In 2019 was die beraamde getal internasionale emigrante reeds 272 miljoen. Die World Migration Report 2020 rapporteer dat daar teen die einde van 2018 na beraming een miljoen Suid-Afrikaners in die buiteland gewoon het.

Emigrasie is ’n lewensveranderende ervaring; nie net vir diegene wat emigreer nie, maar ook vir dié wat agterbly. Dit is deesdae só ʼn aktuele en emosionele onderwerp. In die verhaal van ouers wie se kinders emigreer, is die lughawe gewoonlik die kernpunt. Ons het lughawens leer ken as die onpersoonlike ruimtes wat as ʼn belangrike skakel in die ketting van emigrasiegebeure dien.

Sulke openbare ruimtes word vir logistieke doeltreffendheid ontwerp en leen hul nie juis daartoe om delikate oomblikke van afskeid en die rou intieme emosies wat met emigrasie gepaardgaan te koester nie. Hoe figureer hierdie verbindingsruimtes as die vernaamste simbool van die skeiding en gepaardgaande verlies in ons verhale?

Drie fases van skeiding

Die emigrasieproses is nie eenvoudig nie en raak elke gesin op ʼn ander manier. Ouers se ervaring van hulle kinders en kleinkinders se emigrasieproses kan in drie fases onderskei word. Elke fase is uniek, met sy eie uitdagings wat afgehandel moet word alvorens daar na die volgende fase aanbeweeg kan word.

In die eerste fase – die pre-emigrasiefase – word besluite beredeneer. Redes vir bly of gaan word teen mekaar opgeweeg. Besluitneming vir hierdie ingrypende en lewensveranderende stap is ʼn komplekse interaksie van faktore. Byvoorbeeld, is dit ʼn tydelike of permanente skuif? Die tydsverloop van dié fase verskil van gesin tot gesin. Logistieke reëlings is ’n sleutelkomponent.

Die lughawe verteenwoordig hier ’n deur na nuwe geleenthede vir die volwasse kind. Die lughawe is vir beide kinders én ouers ’n plek van wesenlike verandering.

Die tweede fase word verteenwoordig deur die kinders wat fisies vertrek. Dit is ’n kort, maar baie kragtige en emosiebelaaide fase. Die voorbereidingsfase is afgehandel en die finale groet op die lughawe lê voor. Al is daar lank hierop voorberei, ervaar ouers en kinders dikwels hier eers die tasbare verlies. So vertel ’n ma: Vir my was die heel, heel ergste toe my oudste dogter vir my sê sy wil nie hê ek moet saamgaan lughawe toe nie. Ek het die hele dag lank by die werk gehuil, maar later besef dit was tog ’n goeie idee.”

Vir diegene wat agterbly, is die lughawe ’n simbool van verlies – ’n plek gevul met emosies soos hartseer, vrees en eensaamheid en die terugkeer na ʼn stiller huis. Ons vermy afskeid van geliefdes en wil dikwels nie oor die afskeidsproses praat nie. Ons gee soms voor, tot op die laaste nippertjie, dat dit nie werklik gaan gebeur nie. Vermyding en ontkenning as hanteringsmeganisme lei dikwels tot ’n meer emosionele afskeid.

Neem liewer vooraf afskeid van jou kinders om die proses te versag en jou beter op die lughaweskeiding voor te berei. Sommige mense groet tuis, of op enige ander plek behalwe die lughawe.

Daar is nie voorgeskrewe rituele oor hoe om dié “totsiens-sê” te hanteer nie en daarom is dit belangrik om julle eie rituele te ontwikkel. ’n Klein, persoonlike geskenk soos ’n gelukbringertjie wat met die afskeid oorhandig word, kan ’n nuwe ritueel vir die groetslag skep.

Lughawens is besige plekke, maar daar is niemand so eensaam soos die ouers wat pas hul kinders en kleinkinders moes groet nie, veral wanneer daar onsekerheid is of hulle mekaar binnekort weer gaan sien. Gun jouself die geleentheid om die hartseer en al die emosies te ervaar wat met die groet gepaardgaan.

Die beste hanteringsmeganisme is om dadelik ná die afskeid planne te beraam oor wanneer julle mekaar weer kan sien. Beplan jou volgende besoek nog voordat jou kinders vertrek het. Kuiers is ongelukkig nie vir almal beskore nie. Vir diegene wat dit wel kan bekostig, bied dit ’n tydlyn van hoop om na uit te sien. Andersins is die reëling van kuiersessies oor die kuberruimte raadsaam.

Die laaste fase is dié van na-emigrasie, wanneer die kinders en kleinkinders die land verlaat en hulself in hulle nuwe omstandighede gevestig het. Dit het ingesink dat gesinne se fisiese ervarings en samesyn tot ’n einde gekom het. Die uitwerking wat geografiese afstand op gesinsverhoudinge het, het nou ʼn werklikheid geword.

Met kinders se besoeke aan die land van oorsprong is die lughawe opnuut weer belangrik – dit dien as die toegangspoort tot die kinders wat geëmigreer het.

Ouers wat in Suid-Afrika agterbly sê hulle het gedink die eerste afskeid sal die ergste wees, maar dat dit inderwaarheid elke keer moeiliker raak. ʼn Ouer stel dit soos volg: “Nee, dit raak nie makliker nie. Dit is soos iets in jou wat afgesny is en wat eers terugkom as die kinders terug is. Nee! Dit word nie makliker nie.”
Die afskeid is telkens weer moeilik, omdat ouers besef dat die besoek net ʼn tydelike kuier is.

Teenstrydige emosies

Maak seker dat julle gereelde kontak behou. Bly op hoogte van gebeure in jou kinders en kleinkinders se lewens. Hulle het steeds jou ondersteuning nodig. Jy kan steeds oor die afstand ʼn bydrae lewer, met jou raad, bystand en leiding.

Rekenaars, selfone en die internet is jou vennote. Verskeie video- en stemtoepassings kan julle steeds ʼn gevoel van onmiddellikheid en teenwoordigheid in mekaar se lewens gee.

Wend ʼn doelgerigte poging aan om belangrike sake te bespreek – byvoorbeeld jou gesondheid of finansiële sake – om sodoende jou kind op hoogte van jou omstandighede te hou. Dink jou ook in hulle leefwêreld in en hou die gesprekke interessant.

Die tydperk in jou lewe waar jy fisies die rol van die aktiewe en betrokke ouer gespeel het, duur eenvoudig nie onbeperk voort nie. As ouers is ons geneig om aan ons kinders te wil vashou. Met emigrasie word ons gedwing om hulle fisies te laat gaan. “Mense wat nie in hierdie situasie is nie, sal nooit verstaan nie, en sal nooit weet hoe hartseer ʼn lughawe my maak nie. Daardie alleen huis toe gaan …” vertel ʼn pa wie se kinders geëmigreer het.

Vir die ouers wat agterbly, veroorsaak die emigrasie teenstrydige emosies: terwyl hulle dankbaar en verlig is dat dit met hulle kinders goed gaan, sou hulle tog soveel eerder wou hê dat die kinders steeds fisies deel van hul lewens kon bly. Is dit nie juis die paradoks van ouerskap nie?

  • Dr. Sulette Ferreira is ’n familieterapeut in privaat praktyk wat in berading en navorsing spesialiseer vir gesinne wat emigreer. Kontak haar by [email protected] of besoek www.drsulette.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
annie

Die een groot verskil tussen die glyers en die blyers is dat eersgenoemde wil glo dat beter dae elders blink terwyl die op die kaai weet dat dit orals op deeske aarde goed en sleg kan gaan en dat verlang en nabyheid hemelsbreed verskil. Hoeveel gevalle van skade en skande tref nie die glyers nie… En dis gewoonlik nie by wyse van ‘n piesangskil nie.