Luister: App gee bekommerde ouers nog ’n lagie sekuriteit

slimfoon-in-die-hand-kuberbedel

(Foto: Kaboompics.com)

ʼn Aanlyn gesprek kan in drie lyntjies uitrafel en jou tiener in ʼn gevaarlike situasie laat beland.

Rachelle Best weet want sy het al gesien hoe dit gebeur. Dit is aanlyn omstandighede soos hierdie wat Best, self ʼn ma van ʼn tiener, laat besluit het om die FYI Play It Safe‑app te ontwikkel.

Die app is so ontwikkel dat dit aanlyn gesprekke en sosialemediaplatforms op ʼn kind of tiener se slimtoestelle monitor en ouers waarsku as aanlyn gesprekke gevaarlik raak of platforms met inhoud wat nie kinder- of tienervriendelik is nie besoek word.

“Ouers kan ongelukkig nie hulle gewete sus en sê dit sal nooit met hulle kind gebeur nie. Ons het al net te veel gesien hoe kinders aanlyn in die moeilikheid beland, selfs al is daar met hulle gepraat oor die gevare in die digitale wêreld.”

Best benadruk dat FYI Play It Safe nie net nog ʼn ouerbeheer-app is nie, maar eerder ʼn aanvullende laag sekuriteit vir ouers bied. Dit is ontwikkel vir enige kind met toegang tot ʼn slimtoestel, maar fokus op kinders tussen die ouderdomme van 8 tot 16 jaar oud.

“Met die eerste weergawe van die FYI Play It Safe‑app, kon ons die toepassing slegs aan gesinne met Android-toestelle verskaf. Ons het egter ook talle versoeke ontvang van ouers wat iPhones gebruik om ʼn weergawe te ontwikkel wat hulle ook op hulle toestelle kon installeer.

“Dit is wonderlik om nou te kan sê dat die FYI-veiligheidsnet uiteindelik kinders se aanlyn aktiwiteite vanaf enige webblaaier op enige toestel aan ouers beskikbaar kan stel. Dit beteken dat ouers met iPhones en iPads nou kan baat vind by die beskerming wat ons app bied,” het Best, uitvoerende hoof en stigter van die FYI Play It Safe‑app, gesê.

Die app se moniteringsmeganismes word gereeld bygewerk met woorde, frases en selfs emotikons waarmee jong mense aanlyn kommunikeer.

“Ons jongste weergawe van die app is ook so uitgebrei dat dit aktiwiteit kan optel wat met dwelmmisbruik en -handel verband hou. Dit behoort die vlak van gemoedsrus oor die veiligheid wat ons vir ouers bied, te verserk,” het Best bygevoeg.

Privaatheid bly ʼn hoofprioriteit van die ontwikkelingspan en al die nodige maatreëls word getref om te verseker dat ouers en kinders se inligting beskerm word as hulle op die app inteken.

“Terwyl ouer kinders en tieners daarop ingestel is om pret te hê en nuwe vriende aanlyn te ontmoet, moet ouers die fyn lyn uitbalanseer tussen respek vir hul kinders se privaatheid en die risiko’s wat sosialemediaplatforms, aanlyn speletjies, anonieme kletskamers en inhoud op soekenjins bied. Dit is hier waar ouers hulp van ons app kan kry.”

Laai die app by www.fyiplayitsafe.com af en volg die maklike drie stappe om toegang tot ʼn gratis proeftydperk van sewe dae vir die app se gebruik te begin.

  • Rachelle Best, uitvoerende hoof en stigter van die FYI Play It Safe‑app, het met Maroela Media gesels oor die app. Sy vertel waarom sy die app ontwikkel het en gee nog raad oor hoe ouers hul kinders en tieners aanlyn kan beskerm. Luister na die volledige gesprek bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.