Luister: Help! My kinders bly in mekaar se hare


gehoor_kind_luister.jpg

Konflik tussen kinders is normaal tot vermydingsgedrag opgemerk word. Foto: brandpointcontent.com

Hoewel alewige konflik tussen jou kinders normaal is, is dit belangrik vir ouers om te weet hoe om die konflik te hanteer en wanneer dit te ver gaan, sê Hettie Brittz van Immergroen Ouerskap.

Hettie sê dié konflik is gewoonlik oor ouderdoms- of fasegapings tussen die kinders. Sy sê dit is ook belangrik om te onthou dat kinders nie dieselfde is nie. “As jy byvoorbeeld ʼn vierjarige en ʼn 14-jarige ʼn slaapkamer laat deel, soek jy bloot moeilikheid. Konflik is normaal tussen kinders wanneer daar ouderdoms- en faseverskille is omdat hulle doelwitte uiteenlopend is.”

Ouers moet egter besef dit is nodig om briek aan te draai wanneer kinders nie meer in dieselfde vertrek wil wees of die konflik self oplos nie. “Konflik raak abnormaal wanneer kinders mekaar begin vermy, of glad nie met mekaar iets te doen wil hê nie. Hulle wil byvoorbeeld aan niks deelneem waaraan die ander kind deelneem nie. Dit is vermydingsgedrag wat ʼn rooi vlag is vir ouers.”

Volgens Hettie is tieners nie noodwendig moedswillig moeilik nie. “Ek het ʼn boek gelees wat sê tieners kry ʼn mislukheidshormoon wanneer hulle 13 jaar oud word. Ons moet egter nie te veel ruimte laat vir nukke en grille nie, want hulle moet beter gedrag toon met elke jaar wat hulle ouer word.”

Sy sê die eise wat aan tieners gestel word, het dikwels ʼn groot invloed op hulle gedrag. “Vir sommige tieners is dit nie die feit dat hulle tieners is nie, maar die taak van tiener-wees wat hulle onderkry.”

Luister na die volledige podsending. Besoek ook Hettie se webwerf Immergroen Ouerskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.