Luister: Hiér gaan jy meer uitvind oor kuberwelstand

Rianette Leibowitz. (Foto: Rianette Leibowitz/Digitale Ouerskap Facebook-blad.)

“Die reeks is spesifiek vir almal wat belangstel om hul kuberveiligheid ’n prioriteit te maak.”

Só sê Rianette Leibowitz, kuberveiligheid- en digitale-ouerskap‑kenner en stigter van SaveTNet Cyber Safety, oor haar splinternuwe podsendingsreeks, Rianette en die internet, wat binnekort op Maroela Media afskop.

Kuberveiligheid en aanlyn welstand is konsepte wat ʼn mens maklik skrik op die lyf kan jaag. Rianette is egter van plan om lesers en luisteraars stukkie vir stukkie te bemagtig met haar raad en kennis oor die kuberruim en hoe dit gebruik behoort te word.

“Dit is vir my belangrik dat mense besef dat ons digitale en fisieke lewens so geïntegreer geword het, dat ʼn mens nie noodwendig die twee as apart kan sien nie,” het Rianette, wat al sedert 2014 die pad met kuberveiligheid stap, aan Maroela Media gesê.

“Ek sien so baie verhoudings wat opbreek as gevolg van digitale verslawing, sosiale media en misverstande.”

Die reeks sal lig werp op ouerskap en die internet, asook temas soos pornografie en vaardighede om jou aanlyn teenwoordigheid in orde te kry. Rianette wil met dié reeks van 13 episodes mense toerus om nie net beheer te neem van hul gewoontes op sosiale media nie, maar ook om verantwoordelike gebruikers daarvan te word.

“Ek hoop om praktiese raad te gee,” het Rianette gesê.

“Ek wil graag sien hoe gedrag verander en hoe gewoontes op sosiale media verander sodat ons as volwassenes ons kinders kan help. Digitale ouerskap is ’n relatiewe nuwe konsep, maar lank genoeg in die land dat ons nou al moet weet wat ons doen en waaroor ons praat. Dit is ons verantwoordelikheid om dit reg te doen.”

Rianette gaan ook raad gee oor aanlyn maatsoekwebtuistes en hoe om op ’n veilige en verantwoordelike manier van aanlyn winkels gebruik te maak.

  • Luister boaan die artikel na ’n volledige klankonderhoud met Rianette Leibowitz.
  • Spits jou ore en luister na Rianette en die internet, ’n podsendingsreeks oor aanlyn welstand en kuberveiligheid wat van 1 Desember weekliks op Maroela Media te hore sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.