Maak kinders só slimmer oor sosialemediaplasings

Die jonger generasie moet geleer word om slimmer slimfoonverbruikers te word. (Foto: GH Cassel/ Pixabay)

Die internet en sosiale media het amper soos ʼn tatoe geword. Dít wat jy vandag daarop plaas, kan vir jare nog by jou spook.

Daarom waarsku die bekroonde Suid-Afrikaanse sosialemediakenner Magriet Groenewald ouers oor die belangrikheid van kinders toerus om slimmer slimfoongebruikers te word.

Dié kreatiewe kenner is die stigter van Magriet.co, ’n aanlyn sosialemedia-sakeskool, en bemagtig entrepreneurs, sake-eienaars en beïnvloeders om hulle aanlyn voetspoor te vergroot en sodoende hulself, en hul produkte, beter te bemark.

Groenewald, wat al met bekendes soos Schalk Bezuidenhout, Minki van der Westhuizen, Karlien van Jaarsveld, Simoné Pretorius (Nortmann) en Leandie du Randt gewerk het, sê egter dat sy oor die jonger generasie sosialemediagebruikers bekommer is.

Hoewel sosiale media en die internet groot voordele vir die jonger garde inhou, waarsku sy dat dit ouers se verantwoordelikheid is om seker te maak dat hulle dit veilig gebruik. Sy voeg by dat talle ouers ongelukkig nie self genoegsame kennis daaroor het om hul kinders op dié platforms te monitor of beskerm nie.

Sy stel daarom die volgende belangrike wenk vir ouers voor: Voordat kinders iets op die internet of sosiale media plaas, moet hulle hulself afvra of dié plasing of inhoud deur die volgende mense gesien kan word:

  • Hul ouers of grootouers
  • Hul vriende se ouers
  • Hul onderwysers of skoolhoof
  • Die polisie
  • Swendelaars of pedofiele
  • Toekomstige universiteite of tersiêre instellings
  • Toekomstige werkgewers.

“As die antwoord op enige van hierdie vrae ‘nee’ is, moet hulle nie die plasing doen nie. Onthou, as iets eers op die internet is, is dit vir altyd deel van ons lewens en as iemand ’n skermgreep van jou plasing geneem het voordat jy dit kan verwyder, het jy nie meer beheer daaroor nie,” waarsku Groenewald.

Volg gerus hierdie skakel vir meer inligting wat ouers kan toerus om hul kinders slimmer op hul slimfone te maak.

Volg Magriet hier op Facebook en Instagram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.