Waldo oor wiskunde: Maak of jy mal is en vat alles

waldo1

Gesels met Waldo op sy Facebook-blad by Waldo Wapad. Grafika: Verskaf.

Deur Johan Koekemoer

Talle ouers het al die volgende stelling gesê, gehoor of gedink: “Wiskunde is ’n verstaanvak, nie ’n leervak nie.” Die voorgenoemde stelling het uitgeloop op die tema van die artikel, want ek dink ons verwar leer met memoriseer. As ek jou moet vra, wat is eerste, leer of verstaan sal jy sekerlik saamstem dat leer voor verstaan geskied. Wiskunde is die enigste vak waar die meerderheid van die samelewing glo jy kan dit nie leer nie, jy moet dit verstaan. Saam met hierdie idee volg mites soos “seuns is beter in wiskunde as meisies” of “wiskunde is nie vir almal nie” en “jy moet wiskunde oefen, oefen, oefen.”

“Leer” word deur die HAT gedefinieer as om “met die verstand te probeer vat”. Ek vermoed die oorsprong van die idee dat wiskunde nie geleer kan word nie, is dalk omdat die HAT die definisie verder neem deur te sê “in die geheue opneem” maar ons weet memoriseer is nie werklik seggend nie. “Verstaan”, aan die ander kant, beteken “die bedoeling van iets vat”, gevolglik kom leer voor verstaan. Dit is vir my, as ’n konstruktivis, ’n riem onder die hart om die woord “vat” as ’n gemeenskaplike deler in beide definisies van leer en verstaan te sien. Vat is ’n sensoriese ervaring wat versterk word hoe meer ons ’n voorwerp, of in ons geval van wiskunde-onderwerp, van alle kante betas. Waldo adviseer dus: probeer soveel as moontlik enige wiskunde-onderwerp met vriende en familie bespreek; ruil idees uit, vat en los soveel as moontlik tot jy die onderwerp met beide jou hande kan vat en koester dit teen jou bors.

Waldo wil graag vanuit sy eie omstandighede as kind ’n getuienis lewer. Waldo se ma het in standerd 10 (graad 12) wiskunde verruil vir naaldwerk. Tog, ten spyte daarvan, was sy Waldo se huiswerkmaat. Anders as al die anders kinders het Waldo se ma nooit sy huiswerk vir hom gedoen of hom vir ekstra klasse gestuur nie. Sy het tyd gemaak en by hom gesit en vrae gevra. Hoekom doen jy dit so? Waarom gebeur dit? Wat het julle vandag in die klas gedoen?

Waldo was onbewus daarvan dat sy ma amper geen wiskundekennis gehad het nie, want elke keer nadat hulle klaar ‘’gevat’’ (gesels) het, het Waldo die onderwerp verstaan. Wat Waldo se ma (onwetend) gedoen het, was om die leerproses te stimuleer deur die punte van sy brein se neuron-netwerk te verbind deur middel van baie vrae saam met baie geduld, liefde en geloof. Waldo se ma het “om te leer” gekoester en vandag nog is dié metode van leer deel van sy daaglikse bestaan.

Om saam te vat: Leer is ’n proses waarby verskeie rolspelers betrokke is. Ons kinders kyk op na hul ouers en onderwysers om die voorlopers te wees om vrae te vra, minder te praat en meer te doen en ontdek. Dit is nie ’n maklike pad nie en daar is baie dissels en dorings maar die uitsig maak dit die moeite werd. Wiskunde word ontdek op die wapad waar ons nog nie voorheen was nie.

’n Bietjie meer oor Waldo

My eerste artikel is geskryf om die algemene leser se wêreldbeskouings te identifiseer. Die doel was om ’n trajek te bepaal vir ’n reeks artikels, wat hopelik soos ’n legkaart in mekaar sal pas.

In die eerste artikel was Waldo aan lesers bekendgestel. Waldo het intussen gegroei tot die Wiskunde-alliansie vir leerders wat wil doen en ontdek.

Waldo poog om ’n stem te word vir ouers wat raadop is of net oningelig is of vir onderwysers wat moeg en oorlaai is en nie die nuutste navorsing kan lees nie. Dis ook die raakvatonderwysers wat bevestiging soek vir wat hul pedagogiese intuïsie hulle wysmaak. Laastens, gaan Waldo poog om ’n stem te word vir leerders. Leerders wat met onnatuurlike druk sit om te presteer asook die leerders wat voel dat daar nóg meer oor wiskunde is wat hulle kan ontdek.

Waldo se droom is om ouers, onderwysers en kinders weer op “die spoor van ons voorvaders te sit.” ’n Spoor wat selde bekend was en wat na ongerepte tonele gelei het, ’n spoor wat ’n ingesteldheid gekweek het om te doen en te ontdek.

Waldo is ’n alliansie, met ander woorde, ’n verbond tussen volke. In konteks, ’n verbond tussen ouer, onderwyser en kind. Verbond is ’n sterk woord, maar dit dra by tot die erns van die sake wat Waldo graag wil uitlig en daaraan aandag gee. Ná talle observasies is die volgende veralgemenings wat dié alliansie groot skade aanrig, opgemerk: Ouers laat die leer van hul kinders slegs in die hande van hul onderwysers; onderwysers laat die leer van hul leerders in die hande van die kurrikulum; en kinders laat hul eie leer aan die hand van ekstra klasse.

Vir dié wat ek verveel het deur die wapad, wat ek gevat het om tot by die punt van die artikel te kom, vra ek groot om verskoning. Ek moet op ’n manier van Waldo ’n handelsmerk maak.

Waldo het tans sy eie Facebook-blad by Waldo Wapad. Kinders, ouers en onderwysers word aangemoedig om met Waldo te gesels oor enige saak rakende die wiskunde-onderwys. Waldo is ’n inisiatief van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers(VAW).

  • Johan Koekemoer is ʼn onderwysspesialis in wiskunde by die VAW en trotse pa van twee kinders. Sy droom is om die beeld van wiskunde mooi te maak vir almal wat daarna kyk. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.