Middernag-gebede van ʼn ma

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

“ʼn Ma moet op haar knieë bly sodat haar kinders op hulle voete kan bly,” het ek een keer êrens gelees.

Ek weet voor my siel dis my ma se gebede wat my gebring het waar ek vandag is. So dikwels het ek in nabetragting van ʼn situasie gedink dat dit heel moontlik my ma se gebed is wat my daarin beskerm of deurgedra het.

Hoekom het ek dit geweet? Want ek het geweet hoe baie my ma vir ons gebid het.

Vandag, as ʼn ma van twee bitter besige kleuter seuntjies, kan ek die krag daarvan raaksien. Miskien omdat ek al lankal besef het dat niks wat ek kan doen my kinders kan beskerm nie. Uiteindelik is dit hulle teen die wêreld …

Ek kan nie elke dag, elke oomblik daar wees om hulle te beskerm teen die dinge wat elke dag met hulle kan gebeur nie. Nog minder het ek beheer oor hoe en of hulle luister na my raad of nie. Dís waar ek tot die besef gekom het: die enigste manier hoe jy jou kinders rêrig kan groot kry, is deur gebed.

En dit is waar my middernag-gebede begin het, of dis hoe ek daarna verwys, want dit is dikwels in die lang, donker nagte wat ek hierdie tipe gebede bid.

Ek het die waarde daarvan besef om enige tyd te bid vir my kinders wanneer ek in daardie tye, wat soms so bitter lank kan voel, by hulle moes sit. Wanneer hulle nie aan die slaap wil raak nie (of nie weer aan die slaap wil raak ná hulle in die middel van die nag wakker geword het nie), wanneer hulle sleg slaap omdat hulle siek is, wanneer ek vir hulle moet wag by ʼn aktiwiteit, ens.

Hierdie wagtye het heilige oomblikke geword, waar ek al my vrese, bekommernisse en verwagtinge oor my kinders met God kon deel en oorgee.

As daar een ding in die lewe is waaroor mens geen beheer het nie, is dit die lewe self. Veral as jy so graag wil hê die lewe moet reg loop vir die mens vir wie jy lief is. Maar God het besluit Hy wil vir my leer daar ís geen beheer in die lewe nie, deur vir my twee seuns te gee. Dis wanneer ek net oorgee, dat die vrede kom.

Jy bid nog steeds vir hulle veiligheid in hierdie gebroke wêreld; vir hulle gesondheid; hulle vermoë om te kan onderskei tussen goed en kwaad, reg en verkeerd; vir hulle huidige en toekomstige vriende; vir die meisies wat eendag hulle harte gaan steel; vir hulle vermoë om hulle passies te vind en dit uit te leef; dat hulle hul doel in die lewe sal besef maar bowenal vir ʼn lewendige en heilige verhouding met God, sodat hulle ook eendag hulle kinders sal kan dra, deur gebed.

Dan word middernag-ontwakings nie meer frustrerende moeë oomblikke nie, maar ontmoetings met God, waar julle gesels oor Sy plan met jou kinders en hulle lewens, in ʼn wêreld wat eintlik ook ʼn ma nodig het wat middernag-gebede bid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Byekonfyt ·

Jip. Die vurige gebed van ‘n gelowige [ma] het ‘n kragtige uitwerking..

Gemaskerde Sopbeen ·

‘n Ma se gebede, omgee en bekommernis hou nooit op nie. Ek onthou toe ek as tiener dikwels baie laat of eerder vroeg die huis ingesluip het, hoe ek die kraak van haar bed kon hoor soos sy omdraai om te slaap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.