Mishandeling is die kanker van ons tyd

mishandeling

Foto: Stefano Pollio/Unsplash.com

Mishandeling. ’n Hedendaagse vloekwoord waarmee ons almal saamleef. Die eerste gedagte wat by ’n mens opkom, is dié van familiegeweld waarin vroue en kinders die slagoffers is. Dit is dalk die mees algemene vorm van mishandeling, maar nie naastenby die enigste vorm van die misbruik van mag nie.

In die politieke arena word mishandeling (van geld) maklik korrupsie. In die huis kan mishandeling in kriminele geweld ontaard. Mishandeling vind daagliks op alle vlakke plaas, ook in die skool en die werkplek. Mishandeling in skole sluit boeliery in, wat al so algemeen geword het dat dit gesien word as iets wat geen kind meer vryspring nie.

Mishandeling vind ook plaas in ouetehuise, verpleegsorg en selfs hospitale.

Wat is die onderliggende aspek? Eerstens, dat sommiges weerloos is en dat ander hul posisie van mag op negatiewe maniere gebruik, m.a.w. wangebruik van mag wat in mishandeling tot uiting kom.

Onder die mees kwesbare in ons samelewing tel ouer mense, kinders en vroue. Fisieke mishandeling praat hier die hardste. In die gesin sal ’n gewelddadige man ongehinderd aangaan as niks gedoen word om hom te stop nie. Maar wat kan ’n ma doen as haar man haar en haar kinders fisiek aanrand? Maatskaplike werkers is al dekades lank die eerste aanklopplek vir sulke vroue, veral weens die feit dat sulke vroue gereeld weggewys word, as gevolg van gebrek aan belangstelling of onprofessionele hantering deur die polisie.

Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-Oos, sê dat gesinsgeweld ’n groeiende tendens toon. Oor die afgelope vyf jaar het die syfers gestyg en dit is opmerklik dat mishandeling nie “kieskeurig” is nie, dit kom in alle etniese groepe, ekonomiese groepe, geslagte en verhoudings voor.

“Ons het ’n 22%-styging in die aangemelde gevalle van vrouemishandeling gesien, 5% in kindergevalle en 9% in gevalle van seksuele mishandeling van kinders. Meeste van hierdie gevalle gaan gepaard met dwelm- of alkoholgebruik. Ons het ’n 27%-styging ervaar in die getal dwelmafhanklikes die afgelope jaar.

“Wat ons wel kan noem, is dat ons weet meeste van die gevalle nie aangemeld word nie. Familielede of slagoffers self, is dalk te bang om dit by die polisie aan te meld. Hier is die maatskaplike werk-netwerk wat in amper alle gemeenskappe teenwoordig is, die regte plek om te vra om hulp, ondersteuning, traumaberading en ander fisieke/liggaamlike behoeftes wat deur die situasie veroorsaak word.

“Ons gemeenskap is deurtrek van mishandeling en ons almal ly daaronder. Die langtermyngevolge hiervan is ’n gemeenskap wat deur vrees beheer word: Vrees dat iemand jou sal afluister, vrees vir mishandeling, al het jy niks verkeerds gedoen nie, vrees dat die polisie jou nie sal help nie. Ons sal sekerlik nie in ons leeftyd mishandeling kan uitroei nie, maar ons is vasbeslote om dit te hanteer.

“Om mishandelaars se gedrag te verander, sal die enigste manier wees waarop die situasie verander kan word,” sluit van der Merwe af.

  • CMR Gauteng-Oos werk met kinders en gesinne in die Tshwane-metro deur  13 streekkantore wat strek vanaf Bronkhorstspruit tot by Midrand. Meer inligting kan bekom word by Henda van der Merwe by 072 801 0092.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JAN ·

Sadisme is die grondslag van satanisme. Maak van klippe brood . Spring hier af kyk of jou God sy engele sal stuur. ? Verbrand jou oeste , vermoor jou volkshelde kinderoffers. Na al die sadisme wag hulle vir ń wonderwerk. Hmm?
Vir 50 jaar word van die Afrikaner verwag om selfmoord te pleeg.
Ons kry grade van verrykte satanisme in Afrikaans. Oorsaak van die rommelstatus van Afrikaans.

JAN ·

verbaas oor plasing.
Eensaamheid is veel erger as die dood, Enige aandag is beter as niks aandag.
Fisiese mishandeling /geweld is meer aanvaarbaar as isolasie /verwerping.
die artikel verwys na ons bekende Sensuur kultuur .
“….God haat egskeiding..” Maleagi 2
Lees gerus die hele boek om te begryp wat ‘n disfunksionele samelewing is en waarom God sy Seun gestuur het om ons te red uit die reddelose diep moeras van die verskriklike leegheid { terrible void. ..van Nietzsche] … van godverlatenheid.

Theresa ·

En mense moet nooit vergeet dat daar duisende mans is wat ook mishandel word nie…
Met baie respek aan dames – daar is seker niks so skerp soos die tong van ‘n vrou wat ‘n man wil verkleineer/seermaak/vernietig nie. Staan baie maal verstom hoe venynig mense kan raak en lyk asof botter nie in die mond sal smelt nie.
Daar is verseker mans wat hierdie tipe mishandeling kan getuig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.