Moedig jou kinders só aan om te spaar

geld spaar spaarvarkie pensioen

Argieffoto (Foto: Stevepb, Pixabay)

Die vaardigheid om geld te kan spaar is sekerlik een van die belangrikste aspekte om jou finansiële toekoms te verseker.

As ʼn mens dit nog boonop vroeg genoeg vir jou kinders kan aanleer, word dit net makliker vir hulle om goeie finansiële gewoontes te ontwikkel wat op langer termyn dividende sal lewer.

“As kinders op ʼn jong ouderdom toegelaat word om hulle eie finansies te bestuur, kan hulle in ʼn beheerde omgewing onder ʼn ouer se toesig foute maak. Só kan ʼn kind uit sy of haar finansiële foute leer en gewoontes identifiseer wat hulle sal help om meer verantwoordelik met hulle finansies te wees,” het Ester Ochse, produkspesialis by FNB se beleggingsafdeling, gesê.

Ochse het die volgende wenke vir ouers wat hulle kinders wil aanmoedig om te spaar:

Help jou kind om ʼn finansiële doelwit te stel

ʼn Voorbeeld van so ʼn doelwit kan wees as jou kinders ʼn nuwe TV-speletjie wil koop. Moedig hulle aan om daarvoor te spaar uit die sakgeld wat hulle ontvang en stel ʼn tydlyn waarin die doelwit bereik wil word.

Wanneer hulle die doel bereik, sal hulle die voordele daarvan kan waardeer om te spaar en te werk vir die geld wat hulle benodig om die doelwit te bereik.

Behoeftes versus begeertes

Kinders moet die verskil tussen ʼn behoefte en ʼn begeerte kan verstaan sodat hulle onnodige uitgawes kan vermy. Sodra hulle die verskil tussen die twee begrippe verstaan, sal hulle meer versigtig wees oor waar en hoe hulle geld bestee.

Beloon getroue spaargewoontes

“Oorweeg dit om tot jou kind se spaargeld by te dra as hy of sy haar maandelikse teiken bereik. As jou kind se doelwit is om byvoorbeeld R150 per maand te spaar en hy daarin slaag, kan jy ʼn verdere R150 bydra om sy spaarteiken te ewenaar en dit R300 te maak,” het sy gesê.

Ochse meen dit sal ʼn kind bykomende aanmoediging gee om te spaar en so begin hulle ook iets te leer van die basiese beginsel van saamgestelde rente.

Wees ʼn voorbeeld vir jou kind

“Wanneer jy elke maand jou salaris ontvang, moet jy saam met jou kinders sit en vir hulle wys hoeveel jy besig is om te spaar vir hulle skoolgeld.

Wys hulle dan ook hoeveel jy aan die einde van die jaar gespaar het, asook die rente wat jy op die spaargeld ontvang het. Wys jou kinders sommer ook die soort korting wat jy ontvang as jy vooraf hulle skoolgelde vir ʼn sekere tydperk vereffen om te wys wat jy spaar as jy van dié voordeel  gebruik maak,” het Osche gesê.

Sy meen een van die beste maniere om te verseker dat ʼn kind spaarsamig met hulle geld sal werk, is om hulle beheer oor hulle eie reis met spaargeld te gee.

“Wees jou kinders se gids op hulle reis waar hulle leer om hulle eie geld te bestuur. Help hulle om rekord te hou van hulle eie maandelikse vordering. Dit is een van die beste maniere om hulle te help om te leer spaar,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.