Moet ek regtig verder as matriek studeer?

Argieffoto (Pixabay)

Deur Paul Maritz

Dit gebeur gereeld dat ons hoor van multi-miljoenêrs wat geen verdere opleiding of kwalifikasies ná matriek behaal het nie, en selfs in baie gevalle nie eens matriek het nie, en dan is ons geneig om te wonder of ons regtig verder moet gaan studeer.

Alhoewel daar suksesstories van mense is wat sonder veel opleiding groot dinge bereik het, is dit beslis nie die norm nie, en daardie gevalle raak in werklikheid al hoe minder!

Prof. Robert Lawrence, ‘n akademikus van Harvard-universiteit in die VSA en ‘n kundige op die gebied van handel en nywerheid, het tydens ‘n onlangse besoek aan Suid-Afrika lesings oor meganisering en robotte in die werkplek gelewer. Hy meen dat, alhoewel robotte sonder twyfel al hoe meer werke sal begin doen, sal daar altyd werk wees vir beter opgeleide mense.

Prakties maak dit tog logies sin dat daar altyd vir beter opgeleide mense werk sal wees. Dink byvoorbeeld aan die beligting in ‘n vertrek – 200 jaar gelede was daar twee of drie mense nodig om ‘n groot saal te belig, want hulle moes ure voor ‘n funksie reeds begin het om kerse aan te steek en kandelare op hulle plek te plaas. Vandag skakel ons bloot ‘n skakelaar aan en siedaar, ‘n hele saal is belig. Ja, met tyd is daar wel verskeie kersaanstekers werkloos gelaat, maar nou is daar gloeilampmakers nodig! Die punt is dat, soos wat robotte die eenvoudige werke oorneem, word daar werk geskep vir mense met beter opleiding.

Die syfers wys ook duidelik vir ons dat dit waar is. Meeste lande se vervaardigingsbedryf, met ander woorde die sektor waarin mense goedere vervaardig, is besig om ‘n al hoe kleiner persentasie van totale beroepe te verteenwoordig. In 1981 het die vervaardigingsbedryf in Suid-Afrika die hoogte ingeskiet met 17% van alle beroepe in dié bedryf. Vandag word daar maar 11% van mense in die vervaardigingsbedryf aangestel.

Wat is die punt van al hierdie statistieke vir jou as skolier of selfs student? Die punt is dat daar ‘n 27%-werkloosheidsyfer in Suid-Afrika is. Meer as ‘n kwart van die mense wat werk soek, kry nie werk nie. Tog is werkloosheid onder mense met universiteitsgrade slegs ongeveer 6%. As jy dus seker wil wees dat jy nie een van die 27% word nie, maak seker dat jy goed opgelei is; beter opgelei as die mense wat aansoek doen vir dieselfde pos, en beter opgelei as die robot, wat in elk geval eenvoudige repetisiewerk in ‘n stadium gaan oorneem.

Ons eenvoudige antwoord op die vraag of dit nodig is vir verdere studies, is: Absoluut en sonder enige twyfel moet jy jouself verder as matriek kwalifiseer. As jy skool vroeg verlaat het, oorweeg om jou matrieksertifikaat klaar te maak. Daar is baie sentrums wat jou daarmee kan help. As jy net matriek het en deur die dag moet werk, oorweeg kwalifikasies wat jy na-uurs kan studeer. Hier kan ‘n hoëropleidingsinstelling soos Akademia van groot waarde wees.

By Solidariteit Jeug glo ons dat ‘n mens eintlik nooit moet ophou leer nie. Die oomblik wat jy voel jy weet nou genoeg, dan word jy ‘n risikogeval vir vervanging – dit is hulle wat voor die golf is, en aanhoudend hulself verbeter wat seker kan wees van ‘n voorspoedige loopbaan.

***

Dié artikel is deel van ‘n reeks om matrikulante aan te moedig en te motiveer tydens die eindeksamen.

Terloops, om jou matriekuitslae te kry was nog nooit só maklik nie. Maroela Media het die “Maroela Matrieks”-app ontwikkel om dit vir matrikulante so gerieflik as moontlik te maak om toegang tot hul uitslae te kry sodra dit vrygestel word. “Maroela Matrieks” is beskikbaar vir Android– en iOS-slimfone. Laai die app nou af, dis die eerste stap ter voorbereiding vir jou groot eksamen!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VanAfrika ·

Ek is goeie voorbeeld vir die jonger geslag. Op 50 het ek matriek geskryf. Begin 2018 en op 54, het ek by Unisa aangesluit en studeer tans besigheidsbestuur. Gaan dit my iewers bring, dis waarvoor ek strewe. En dalk as ek eendag aftree sal dit my nog steeds help om a salaris te verdien, hetsy ek nog steeds in die werkbedryf aanvaar word en of ek dalk n klein besigheid aan die gang kan sit sodat ek nie afhanklik hoef te wees van ander mense nie. Mag die Heer my hierin ondersteun. En dis nie so erg om weer jou neus in die boeke te druk nie, ek sukkel net met algebra, om deeltyds te swot is moeilik, om algebra onder die knieg te kry sonder ondersteuning van n tutor aangesig tot aangesig is moeiliker, maar ek prober.

Theresa ·

Wonderlik! Dis so lekker om so iets te hoor. Baie sukses met jou doelwitte en mog daar iewers naby jou ‘n Algebra-boffin wees wat dit vir jou makliker kan maak!
Mens hoor baie van middeljariges wat studies soveel meer geniet as dit wat studeer was direk na skool. Dink mens pak dit rustiger aan en die brein is al gewoond aan wyer denke.
Lekker.

BB ·

Vind uit (besluit-roeping) wat jou passie is.
Jy moet WIL sukses behaal in wat ookal jou passie is.
Vertrou op die Here.
Goeie toekoms wag op die volgende generasie.
Geniet jou matriekjaar.

Herman ·

Daar was nie vir my geld om na skool te studeer nie, al het ek die vermoens gehad.
Indien jy self in daai posisie is, of dalk nie akademies ingestel is nie, doen tegniese of praktiese kursusse. Eks nou 43 en het nog aan die begin van die jaar n kursus gedoen wat my R62 000 gekos het. Ek het binne n maand die geld teruggemaak as n komersieele duiker. (ek doen dit nou as my stokpertjie) bo en behalwe my werk.
En natuurlik harde werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.