My kind emigreer; hoe nou gemaak?

(Foto: Mart Production/Pexels)

Deur Sue-Ann de Wet

Wanneer jy die woord “emigrasie” hoor, dink ’n mens eerste aan iemand wat die land verlaat en selde aan die geliefdes wat agterbly. Emigrasie is nie net ’n lewensveranderende werklikheid vir die kind wat emigreer nie, maar ook vir die mense wat agterbly.

Dr. Sulette Ferreira, ’n familieterapeut wat navorsing doen oor die uitwerking van emigrasie op ouers en grootouers wat agterbly, sê hoewel jy nie beheer het oor die feit dat jou kind gaan emigreer nie, kan jy wel kies hoe jy daarop gaan reageer.

Hoe jy op die nuus reageer, gaan waarskynlik ook die aard van julle verhouding daarna bepaal. Dit sal ook ’n invloed hê op jou betrokkenheid in jou kind en jou kleinkinders se lewe. Bied ondersteuning en vra gerus vrae (soos of hul besluit op goeie navorsing berus). Dit bied dikwels die nodige gemoedsrus. Openhartige gesprekke sal ook help toesien dat jou kind hierdie lewensveranderde besluit met jou sal deel en dit nie in die geheim aanpak om jou gevoelens te spaar of omdat jy moontlik hul besluit kan kritiseer nie. Hoe jy gaan reageer, sal bepaal hoe (en of) jou kind jou in die emigrasieproses gaan betrek en gaan deel maak van sy of haar nuwe werklikheid.

Hoe bly ʼn mens betrokke as jou kinders of kleinkinders op ’n ander vasteland woon? Kenners gee raad:

Maak gebruik van tegnologie

Dankie tog vir tegnologie! Sorg dat jy die nodige tegnologie het. Skaf ’n slimfoon en ’n rekenaar aan en leer hoe om daarmee te kommunikeer. As jy byvoorbeeld nie weet wat Skype is of hoe dit werk nie, vra iemand om jou daarmee te help.

Verskillende tydsones bied ook uitdagings. Stel ’n roetine vas. Wees geduldig wanneer jy nie dadelik ’n antwoord op jou e-pos kry nie.

Dr. Douline Minnaar, ’n psigiatriese verpleegkundige, het indringende navorsing gedoen oor ouers wie se kinders emigreer. Volgens haar moet jy onthou dat jou kinders ook hul eie lewe het. Minnaar beveel aan dat geskikte kommunikasieplatforms (soos Skype of WhatsApp) identifiseer moet word. Sy moedig ook familielede aan om ’n tyd vas te stel wat albei partye sal pas. “Soms gaan dit nie vir hulle moontlik wees om jou te skype nie, maar moet dit nie as verwerping sien nie. Kry eerder ’n tyd wat almal pas.”

Raak bekend met jou kind se nuwe werklikheid

Ferreira raai mense aan om vertroud te raak met hul kind se nuwe land. ’n Nuwe land bied talle avonture en jy kan deel wees van die avonture in jou kind se lewe. Volg die nuus, bly op hoogte van belangrike gebeure en datums soos spesiale vakansiedae. Teken in op Wêreldwyd se Kollig-nuusbrief en bly sodoende op hoogte van belangrike sake wat jou ekspat-kind raak. Om boonop deel te wees van ’n grenslose gemeenskap, is van onskatbare waarde.

Plaas klem op die positiewe dinge. Stuur foto’s, video’s, deel belangstellings en merk belangrike dae, soos verjaardae, op jou kalender. Jy kan Wêreldwyd se Wêreldgids besoek en kyk watter ondernemings in jou kind se omgewing oulike produkte en dienste lewer. Jy kan ’n spesiale verjaarsdaggeskenk vir jou kind of kleinkinders bestel. Jou kind gaan jou moeite om steeds betrokke te bly, waardeer.

Dit is belangrik om betrokke te bly in jou kind se nuwe wêreld, maar moenie ’n oorlas van jouself maak nie. Emigrasie is ’n uitdagende proses met baie aanpassings en ’n kultuurskok kan dalk op hulle wag. Stuur boodskappe om te hoor hoe dit gaan, maar sê ook dat hulle nie dadelik hoef te reageer nie.

Ten slotte, aanvaar jou nuwe realiteit, gaan aan met jou lewe en leef voluit. Volgens Ferreira is dit noodsaaklik om te onthou dat ’n kind nie vir ’n ouer se geluk verantwoordelik gehou moet word nie. Elkeen is verantwoordelik vir sy of haar eie geluk. Dit is belangrik dat jy ’n ondersteuningsnetwerk het by wie jy kan aanklop om hulp (of selfs net vir ’n bietjie troos). Indien nodig, kry professionele hulp om julle met die groot aanpassing én die emosionele wipwa te help.

  • Hierdie artikel is met die vergunning van Wêreldwyd geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

melaney ·

Die verlange is baie groot, maar ek voel meer rustig met die wete dat my kind nie elke dag paniekbevange hoef te leef nie.

Cecilia ·

Stem nie saam nie. Hille dink aan hulle en hulle kinders se toekoms!
SA bied geen toekoms vir Wit geleerde mense nie.
As jy iemand selfsugtig wil noem? Is dit d huidige regering met hulle magsbeheptheid en BBBEEE.
My kind is ook oppad landuit. Ekt 4jr swaar betaal aan haar graad. Maar ek gun haar n beter toekoms in n ander land!
Sad but true

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.