My kind is 10 jaar oud en kan lees, maar hoe nou verder?

Argieffoto (Foto: Annie Sprat/Unsplash)

Deur Jana Terblanche

Jy is heeltemal reg, Mamma! Jou kind se leesvaardighede moet nou verdiep, want jou kind is nou in die lees-om-te-leer-fase wat strek deur die intermediêre fase (graad 4 tot 6) en senior-fase (graad 7 tot 9), tot aan die einde van die verdere onderwys en opleiding (VOO)-fase (graad 10 tot 12) en selfs verder. In hierdie fases word aanvaar dat leerders se basiese leesvaardighede voldoende vanaf 0 tot 9 jaar ontwikkel en gevestig is. Die fokus ver­skuif nou na die uitbreiding van leerders se vaardighede ten opsigte van leesvlotheid en lees met begrip. Hoewel die metode van onderrig in hierdie fases nie veel van mekaar verskil nie, lê die onderskeid in die moeilikheidsgraad (lae- en hoërorde denkvlakke) van die gekose tekste. In graad 4 tot 6 behoort die inhoud van tekste meer konkreet te wees en in graad 7 tot 12 kan tekste toenemend abstrak wees.

Kinders in hierdie fase se leesvaardighede kan verbeter deur op sekere leesstrategieë te fokus.

  1. Inhoudsvoorspelling: Hierdie strategie behels om ʼn idee te vorm van wat ʼn kind in ʼn teks kan verwag, gebaseer op die titel, die omslag, en enige ander visuele aanwysers. Dit help kinders om ʼn konteks te skep vir die leeservaring.
  2. Visualisering van inhoud: Kinders moet aangemoedig word om ʼn prentjie in hul gedagtes te skep terwyl hulle lees. Hierdie visuele beeld help om die begrip van die teks te verdiep.
  3. Woordherkenning: Die herkenning van woordvorme en klankstrukture is ʼn essensiële stap in die leesproses. Dit sluit in om sigwoorde te herken asook die ontsyfering van onbekende woorde met behulp van fonetiese beginsels.
  4. Afleiding van betekenis: Kinders moet leer om die betekenis van woorde en sinne af te lei deur konteks en aanwysers in die teks te gebruik.
  5. Maak van assosiasies: Hierdie strategie behels om verbande te trek tussen wat ʼn kind lees en wat hulle reeds weet. Dit bevorder begrip en onthou.
  6. Verbande trek: Leerders moet geleer word hoe om verbande tussen verskillende dele van die teks te identifiseer, soos oorsaak-en-gevolg-verhoudings, kontraste en vergelykings.
  7. Teksevaluering: Hierdie vaardigheid hou verband met die kritiese evaluering van die teks, insluitend die identifisering van die skrywer se doel, die argumente wat gemaak word, en die geloofwaardigheid van die bron.
  8. Vrae beantwoord: Die vermoë om vrae oor die teks te beantwoord, bevorder die begrip en die vaslê van belangrike inligting.
  9. Monitering van teks: Kinders moet leer om te monitor of hulle verstaan wat hulle lees en om nodige aanpassings te maak indien hulle verlore raak.

Lees dus saam met jou kind deur die teks en begelei hom of haar met bogenoemde strategieë.

Leestegnieke in die lees-om-te-leer-fase:

  1. Vluglees: Hierdie tegniek behels die vinnige deurgaan van ʼn teks om ʼn algemene idee te kry van wat dit behels. Dit is nuttig om ʼn voorlopige oorsig van ʼn teks te kry.
  2. Soeklees: Soeklees is wanneer ʼn kind gerig is op die soeke na spesifieke inligting of antwoorde op vrae in ʼn teks.
  3. Aandagtige lees: Hierdie tegniek vereis dat ʼn kind elke woord sorgvuldig lees om ʼn volledige begrip van die teks te verkry. Dit is nodig vir diepere begrip.

Gee vir jou kind sekere opdragte oor die lees van die teks en vra vrae om bogenoemde tegnieke in te oefen.

Woordeskat en grammatika-ontwikkeling:

In hierdie fase is dit ook belangrik om die ontwikkeling van woordeskat en grammatika te bevorder. Kinders moet blootgestel word aan ʼn ryk verskeidenheid woorde en sinstrukture om hul taalvaardighede te versterk. Praat self suiwer Afrikaans en in volsinne om ʼn goeie voorbeeld vir jou kind te stel. Help hom of haar reg wanneer hulle ʼn taalfout maak of wanneer die sinskonstruksie of woordorde nie reg is nie. Speel bordspeletjies soos Scrabble en Boggles om woordeskat uit te brei.

In die lees-om-te-leer-fase is die ontwikkeling van ʼn sterk leesgrondslag van uiterste belang. Deur die bogenoemde leesstrategieë, -tegnieke, woordeskat en grammatika te ontwikkel, kan ons kinders toerus met ʼn vaardigheid wat ʼn lewenslange liefde vir lees en leer kan aanwakker. Lees is nie net ʼn vaardigheid nie, maar ʼn sleutel tot ʼn ryk en vervulde lewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet ·

In my tyd het ons baie speltoetse gedoen, baie begripstoetse gedoen. Baie verbeteringe gedoen.
Ek sien niks hiervan in hendendaagse leerplanne nie.

TrueMan ·

Daar is groot fout met vandag se kinders. My generasie kon basies lees en skryf voor skool. Ek was vier toe ek comics soos Casper, Spooky, Richie Rich ens kon lees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.