My kind wil leer perdry, hoe nou gemaak?

(Foto: Verskaf)

Het jou kind jou al gevra om te leer perdry?

Baie kinders wil graag leer perdry, maar soms is ouers versigtig om hulle klein kindertjies op so ʼn groot dier te laat ry. Perdry is veilig en kan selfs terapeuties wees terwyl dit ontwikkelingsvoordele vir ʼn groeiende brein en lyfie inhou.

Hier is die webwerf Horse Nation se vyf maniere hoe perdry jou kind se ontwikkeling help bevorder:

1. Fisieke en geestelike gesondheid en fiksheid: Fisieke aktiwiteite is van kardinale belang vir die optimale ontwikkeling van kinders. Perdry bied ʼn unieke, uitdagende en prettige manier van oefen in die buitelug wat hulle saam met maats kan doen. Perdry oefen omtrent al die verskillende spiergroepe terwyl dit spierkrag, uithouvermoë en koördinasie opbou. Die band wat tussen die perde en die kind ontstaan, kan ook talle sielkundige voordele inhou, soos om jou kind se angs te verminder, asook om emosies beter te hanteer.

2. Lewenservaring: Die beste manier om belangrike lewenslesse te leer is deur ervaring. Om af te val en weer op ʼn perd te klim, leer kinders deursettingsvermoë, hoe om vrese te hanteer en om empatie te ontwikkel. Hulle sien ook dat harde werk sukses en belonings oplewer. Perdry leer hulle verder om gesonde respek vir alle lewende wesens te hê en dat geduld en vasberadenheid die sleutel tot sukses is. Toegewyde kinders wat aan perdrybyeenkomste deelneem, sal leer om as ’n span saam te werk.

3. Verbeterde sosiale vaardighede: Perdry gaan nie net oor die band wat tussen die perd en kind ontwikkel nie, maar ook oor die sosiale interaksie wat met die skool of rylesse vir groepe gepaardgaan. Dit gee ʼn kind die geleentheid om ander mense van verskillende vlakke in hulle gewone sosiale omgewing te ontmoet.

4. Vertoue en selfbeeld: Die vermoë om ʼn groot perd te stuur en te beheer, kan ʼn kind se selfbeeld en vertroue ʼn stewige hupstoot gee. Elke klein stukkie sukses, die lof wat hulle vir prestasies ontvang en die ervaring self kan uiters lonend wees. Boonop kan ʼn kind voel dat, as hulle vriende met so ʼn groot, sterk dier kan wees, daar geen rede is om ander verhoudings te vrees nie.

5. Verantwoordelikheid: Daar is ʼn groot verantwoordelikheid verbonde aan die ry en versorging van ʼn perd en dit sal aan ʼn kind oorgedra word. Hierdie verantwoordelikhede word ook dikwels amper onwetend aangeleer omdat die kind sal moet help om in die basiese behoeftes van die perd te voorsien. Perde word gevoer, versorg en geborsel, en die kind sal ook na die gesondheid en gedrag van die perd of ponie wat hy/sy leer ry, moet oplet.

(Foto: Lucie Hosova/Unsplash)

Hoe kies jy as ouer die regte ryskool vir jou kind? Waar begin jy soek?

Charlotte Stubbs, stigter van die Suid-Afrikaanse nasionale afrigtersplan, gee drie belangrike wenke oor dinge waarna elke ouer wat ʼn perdryskool wil kies, moet oplet:

Kwalifikasies: “Alhoewel ʼn kwalifikasie nie altyd ʼn waarborg is dat die afrigter hulle uitstekend van hul taak gaan kwyt nie, weet jy as ouer minstens dat die persoon ʼn minimum vlak van bekwaamheid behaal het deur die vereiste opleiding en assesserings te doen,” sê Diane Pieterse, direkteur van onderwys by die raad vir professionele perderuiters van Suid-Afrika (Council of Equine and Equestrian Professionals of South Africa – CEEPSA).

Infrastruktuur en hakwerk (tack): Kontroleer die toestand van die perdryskool se infrastruktuur en hakwerk, wat sale, beuels, tome en halters insluit. Perde in ʼn slegte kondisie, hakwerk wat besig is om te verbrokkel of onvoldoende toesig is alles tekens dat jy dalk eerder ʼn ander ryskool vir jou kind moet oorweeg.

Dit verg ʼn sekere soort vaardigheid om beginners te leer perdry. Daar is twee geheime tot sukses: Eerstens om te verseker dat die leerder ten alle tye reg sit, en tweedens om nooit meer te vra as wat ʼn leerder op enige gegewe tydstip kan lewer nie. Om reg op ʼn perd te sit is die veiligste en doeltreffendste manier om te ry. ʼn Korrekte sitposisie moet tweede natuur vir enige ruiter word.

Goeie ruiterkuns: ʼn Perdryskool wat sy sout werd is, groepeer ruiters met dieselfde vaardigheidsvlakke bymekaar. Perde en ponies wat goed is met die opleiding van nuwe ruiters is skaars en uiters waardevol. Enige goeie ryskool sal dus hul skoolperde en -ponies beskerm en goed versorg.

(Foto: Tracy Morgan/Unsplash)

Hier is ʼn ryskool-kontrolelys wat jy kan voltooi voordat jy jou kind vir perdrylesse inskryf:

  1. Is die instrukteur gekwalifiseer? Jy kan by CEEPSA navraag doen om die afrigter of skool se kwalifikasies te bevestig.
  2. Het die instrukteur ʼn noodhulpsertifikaat? Die minimum vereiste is ’n vlak een noodhulpsertifikaat met ʼn minimum van 16 uur se opleiding.
  3. Wat was jou eerste indrukke? Hoe is jy as voornemende kliënt tydens jou eerste besoek verwelkom? Wat was jou persepsie van die algehele professionaliteit van die onderneming?
  4. Was die eiendom skoon en netjies, en lyk dit of die skool se geriewe goed onderhou te word?
  5. Watter basiese geriewe is daar by die perdryskool? Is daar byvoorbeeld genoeg toilette, asook voldoende en verpligte veiligheidsaanwysings?
  6. Het jy die bestuurder van die skool ontmoet in die geval van meer as een instrukteur?
  7. Is jy op ’n toer deur die geriewe geneem?
  8. Wat was die algemene voorkoms van die terrein waar jou kind gaan ry? Is dit afgebaken, is dit gelykgemaak en is daar goeie dreinering?
  9. Het jy enige stawende dokumente of papierwerk ontvang wat byvoorbeeld die kleredrag van ruiters verduidelik? Was daar ʼn vraelys oor die ruiter, asook inligting oor fooie, klastye en wat gebeur as jy lesse sou mis? Is daar meer inligting oor besprekings, kansellasie-protokol en ander huisreëls by die skool aan jou verskaf?
  10. Word rekords van lesse gehou?
  11. Dra ruiters by die eiendom die regte rydrag? Dra ruiters toepuntskoene met ’n hak? Word daar van ruiters jonger as 18 verwag om beskermende skuthelms tydens ritte te dra?
  12. Bied die ryskool ʼn private assesseringsles vir nuwe ruiters aan?
  13. Bied die perdryskool enige addisionele programme of poniekampe aan om ruiters se vaardighede te verbeter?

Besoek gerus www.ceepsa.org vir verdere inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Belinda ·

Skaf n Great-Dane hond aan, dat sy eers daar leer, sal darm nie so seer kry sou sy af val, en die hond sal haar nog n lek ook gee om te check of sy okay is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.