’n Blik op die toekoms sal lekker wees

(Argieffoto: Unsplash)

Deur Johan Koekemoer

Die konsep van ʼn bottelbriefie is by ons almal bekend. Bekende rolprente soos Message in a Bottle, waarin Kevin Costner speel, het die idee van ʼn boodskap uit die verlede verromantiseer. Die meeste van ons, wanneer ons see toe gaan, hoop stilletjies dat daar ʼn boodskap vanuit die verlede, verseël met ʼn kurkprop in ʼn ou glasbottel, op die sand voor ons sal uitspoel.

Ek, aan die anderkant, het ʼn behoefte aan ʼn bottelbriefie vanuit die toekoms. Ek smag na ʼn blik op die toekoms van onderrig en leer. ʼn Stempel van erkenning dat die oplossings wat ons vir onderwys bedink, werklik volhoubaar is. Soms verbeel ek myself dat ek gesprekke voer met my toekomstige self. Een ding waaroor ek dan altyd wonder, is hoe my kinders gaan uitdraai en hoe die kinders gaan uitdraai wat deur ons onderrig- en leermodel opgevoed is? Was die inset die uitset werd?

Tydens een van my verbeeldingsreise, het ek my toekomstige self afgevra: “Wat het ek nou vir my kinders gedoen: reg en verkeerd?” Die antwoorde wat ek terug ontvang het, was soms gerusstellend en soms werklik verhelderend. In kort, het my toekomstige self die volgende gedeel:

  1. Jou kinders sal nooit spyt wees dat jy nie jou lewe rondom hulle laat wentel nie.
  2. Die belangrikste verhouding vir jou kinders, is en sal altyd die verhouding tussen jou en jou vrou wees.
  3. Jou kind se roeping was toe nooit wat jy gedroom het dit sal wees nie.
  4. Jou kinders sal jou nooit verwyt vir die argumente wat jy en jou vrou gehad het nie, maar wel vir dié wat julle onder die mat gevee het.
  5. Jou kinders waardeer elke “nee” wat hulle van jou af ontvang het.
  6. Jou kinders leef volgens die voorbeeld wat jy gestel het, en nie die woorde wat jy gedeel het nie.
  7. Huistake het jou kinders bemagtig om die lewe met selfstandigheid aan te pak.
  8. Jou kinders is dankbaar dat jy nooit hulle probleme vir hul opgelos het nie, maar dat jy hul eerder bemagtig het om vir hulself te dink.

Dié verbeeldingsgesprek het my rustig gemaak. Al weet ek dit is net in my kop, weet ek ook dit is geïnspireer deur die Gees. Ek kan nou ophou wonder of ek my kinders se huiswerk vir hulle moet doen, of my kinders werklik nie nodig het om ses buitemuurse aktiwiteite te doen nie en of dit werklik onregverdig is om van hulle te verwag om elke oggend hul eie kamer skoon te maak.

Dit is goed om nee te sê, dit is goed om take te gee en dit is goed om nie jou kinders die middelpunt van die huishouding te maak nie. Dit is wel nie altyd lekker nie, maar soos my wyse pa my geleer het: “Dit wat goed is, is nie altyd lekker nie”. Dit is hierdie klein beginsels wat jou kinders ʼn onderrigbare hart gee wat fundamenteel is tot karakterbou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.