’n Bok vir sports

 kinders_seuns_sport.jpg

Foto: Polyadhawaiitours.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Nike het tydens die 1996 Olimpiese Spele die slagspreuk “You don’t win silver – you lose gold” gebruik. Dit was omstrede aangesien dit daarop gesinspeel het dat jy ’n “verloorder” is al het jy ’n silwer medalje gewen (en dus tweede beste in jou gekose item in die hele wêreld is).

Twee dekades later is die bordjies verhang. Vandag leer ons kinders dat elkeen ’n wenner is. As jou kind egter ’n positiewe uitkoms uit elke meedingende situasie verwag, gaan hy nooit leer hoe om dit te hanteer as hy verloor nie. En verloor is ongelukkig ’n onvermydelike deel van die regte lewe.

’n Verskeidenheid sportsoorte is reeds op dreef by die meeste skole en hoewel niemand daarvan hou om te verloor nie – kinders wys graag hoe min hulle van verloor hou deur in trane uit te bars of deur gefrustreerd weg te storm – is dit belangrik om jou kind te leer wat goeie sportmanskap is en hoe om met grasie te verloor, as hy wil deelneem.

Hier is ’n paar wenke om jou kind te leer om soos ’n kampioen te speel – en te verloor:

  • Speel regverdig: Dit mag dalk makliker wees om te wen as jy kul, maar ’n goeie sportman/-vrou wil wen omdat hy/sy die reëls gevolg het en sy/haar beste spel gelewer het.
  • Hou ’n wag voor jou mond: Fokus op die spel eerder as om kwaad te raak vir spanmaats, afrigters of skeidsregters. Moenie stry nie en vermy kru taal.
  • Respekteer jou opponent: Toon respek vir jou opponent se poging, maak nie saak of jy wen of verloor nie. As jy verloor, gee die stryd gewonne, erken jou opponent se vermoëns en beweeg aan.
  • Moedig ander aan: As jy deel van ’n span is, prys jou spanmaats vir dit wat hulle goed doen en ondersteun hulle wanneer hulle foute maak. Moenie kritiseer of onvriendelike aksies uitvoer nie.
  • Skud blad: ’n Goeie sportman/-vrou geniet die spel en weet hoe om dit op ’n positiewe noot af te sluit, of hy/sy gewen het of nie.

Daar is soveel meer om te baat by sportervarings as net ’n wenrekord. Inteendeel, om jou kind te leer om ’n grasieuse verloorder én ’n nederige wenner te wees, is ’n belangrike lewensvaardigheid. In sport, soos in die lewe, is dreigemente, woede, kritiek en negatiewe uitlatings teenoor ander onaanvaarbaar. Deur te leer om ander op die baan of veld te respekteer, sal jou kind as volwassene bedagsaam teenoor ander optree, selfs in moeilike situasies.

Ten slotte, onthou dat kinders die belangrike groot mense (ouers, onderwysers en afrigters) in hul lewens dophou en nadoen, so maak seker dat jy positiewe waardes en beleefde gedrag uitbeeld – veral as jy van die kantlyn af skree!

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.