ʼn Kaalvoet, lekkerleer-skool in Centurion

Foto verskaf deur Centurion Christelike Laerskool (CCL)

Dit gebeur baie keer dat mens met nostalgie terugdink aan ‘n mens se eie kaalvoet skooldae. Toe ons eie kinders klein was, het ons gedink dat ons nooit daardie selfde omstandighede en belewenisse vir ons kinders kan bied nie. Groot was my verrassing toe ek van Centurion Christelike Laerskool (CCL) hoor!

CCL vier hul 20ste verjaarsdag in 2022 en is in Clubview, Centurion, geleë. Dit is ʼn Christelike onafhanklike Afrikaanse laerskool wat die leerplanne van die ICO (Instituut vir Christelike Onderwys) volg. Die ICO se leerplan is geskoei op die nasionale kurrikulum, met bywerkings vir ʼn Christo-sentriese benadering.

Die skool is onafhanklik en ouers het direkte insae in die bedryf en bestuur van die skool. Die ouers sien onderwys hier ook as ʼn instrument in die uitvoering van hul doopsbelofte. Daar is tans amper honderd leerlinge en tien onderwysers voltyds in diens. Die klasse is klein met ʼn maksimum van twintig leerders, wat maak dat ons selfstandige, gebalanseerde kinders het, wat voel dat hul elkeen iemand is met hul eie spesiale plekkie. Die kurrikulum, balans en hoë standaard van onderrig maak dat ons leerlinge later in hul hoërskoolloopbaan presteer.

CCL het toegewyde, professioneel gekwalifiseerde onderwysers wat met die hand uitgesoek is. Hulle het ʼn passie vir hul Skepper, vir kinders, vir onderrig, vir kernwaardes soos vertroue in God, verantwoordelikheid, gesonde werksetiek, respek en integriteit.

Foto verskaf deur Centurion Christelike Laerskool (CCL)

Om ʼn gebalanseerde leefstyl te kweek en te help met karaktervorming, is kultuur en sport ook belangrike aktiwiteite by die skool. Sportsoorte soos onder andere atletiek, netbal, hokkie en krieket word op ons eie sportveld aangebied. Wat kultuur betref word feeste soos Paasfees en Hemelvaart gehou en deelname in redenaars, kunstefeeste, konserte, kuns, sang en musiek aangebied en sterk aangemoedig. In alle aktiwiteite is deelname vir ons baie belangrik omdat ons vir kinders die blootstelling wil gee.

Daar het jy dit nou! ʼn Kaalvoet, lekkerleer-skool hier in die stad, maar met die voordele van hoë akademiese standaarde, gebou op ʼn Christelike basis. Kom, en word deel van die CCL familie!

Klik hier om ons webwerf te besoek of skakel ons by 012 654 7577. Jy kan ook ʼn e-pos stuur aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.